Jy kan maar weet, as Dorling Kindersley ’n feiteboek uitgee, doen hulle dit voortreflik. Hierdie boek oor musiek is vir kinders bedoel en is mooi, kleurryk en maklik om te lees, maar grootmense sal dit ook terdeë geniet.

Daar is vier soorte dubbelblaaie: inligting oor ’n spesifieke musikus, ’n musiekstyl, ’n instrument en uitvoerings.

’n Voorbeeld is die dubbelblad oor Mozart: Sy biografie word in kort punte gegee, daar word kortliks oor die ontwikkeling van die klavier en klawesimbel gepraat, en nie net word sy operas genoem nie, op die ingeslote CD kan jy luister na die ouverture van Die Huwelik van Figaro.

Daar is ook kleursketse van hom, sy pa en suster sowel as ’n afdruk van ’n stuk bladmusiek in sy handskrif.

Die hoofstukindeling is vroeë musiek (50 000 v.C.-1600 n.C.), klassieke musiek (1600-1900) en moderne musiek.

Laasgenoemde begin met Schoenberg en loop deur SinatraElvis en Led Zeppelin tot by hip-hop. ’n Mens kan LAPA gelukwens met die Afrikaanse uitgawe van dié voortreflike naslaan- en storieboek.

My groot boek oor musiek deur Dorling Kindersley

LAPA Uitgewers

Ons dink: 4/5 

Volg Huisgenoot op Twitter.