Of die wit seilskoene waarmee hy saans by sy venster uitgeglip het?

Sommige van ons geslag kan nog uit volle bors Annecke Redelinghuys se in verlate stede, in verlate strate sluip ’n hekse swart kat rond . . . sing. ’n Liefde vir Die Swart Kat het ook dikwels gepaard gegaan met ’n liefde vir grondboontjiebotter.

Vele kinders kan jou vertel hoe hulle destyds met swart broekiekouse en ’n onderbroek op die erf geparadeer het.

Ja-nee, die televisieprogram Die Swart Kat van die 80’s het beslis seuns (en meisies) se verbeelding aangegryp. Party sal selfs beweer Die Swart Kat is koeler as Trompie . . .

En nou word die boeke heruitgegee om ’n nuwe geslag seuns (en meisies) aan te spoor om ’n swart mantel en masker op te neem en vir geregtigheid te baklei.

Saam met Die Swart Kat kan die jong leser avonture onderneem lank nadat die ligte afgeskakel is. Die stories bly eenvoudig en maklik om te lees; tog kan ’n mens wonder of die heruitgawes wel ’n nuwe generasie lesers sal lok, want hier is darem baie argaïese woorde soos “doodshimne”, “onhebbelik”, “waenhuisdeur”, “willens en wetens”, “sitte”, om net ’n paar te noem.

En watter kind gaan weet hoe staan ’n mens soos ’n patryshond wat ’n fisant gesien het? Waar trek ’n mens die streep tussen kinders aan onbekende woordeskat blootstel en die gebruik van te verouderde taal?

Wat jou in dié boeke uit die maag laat lag, is Borrie se besonderse aanvoeling vir drama en sy volle geloof in die buitengewone aard van sy vermoëns.

Dié karaktereienskap word dan in sy oordrewe taalgebruik weerspieël. Wanneer Borrie se sussie, maatjies en ouers dan ook in dieselfde trant gesels (dit gebeur veral in die eerste boek), verloor hierdie karakteriseringstegniek sy trefkrag en maak dit nie meer sin nie.