Lank laas het ek ’n boek in Afrikaans in die hande gehad waar ek werklik nie kon wag om verder te lees en agter die kap van die storielyn te kom nie.

Hierdie sielkundige riller is meesterlik geskryf. Spanning bou reeds in die eerste hoofstuk op en die verhaal sleur jou mee.

Dit begin oënskynlik normaal, maar spoedig lees jy tussen die lyne dat alles nie pluis nie. En jy begin wonder: Waar begin jou verbeelding en eindig die werklikheid? Of is die twee onlosmaaklik vervleg?

Besonderhede wat dalk nietig lyk, vorm eindelik ’n geheel wanneer die verhaal tot ’n verrassende ontknoping kom.

Verskeie resensente meen dit sal ’n uitstekende fliek maak, iets in die lyn van The Sixth Sense (M. Night Shyamalan) en The Mist (gegrond op die gelyknamige boek deur Stephen King). Ek stem graag met hulle saam.

Met al die verskillende lae in die boek is dit as’t ware ’n verhaal binne ’n verhaal. Die trefkrag van die storie lê nie net in Bloemhof se skryfstyl nie.

Volg Huisgenoot op Twitter.