Dis wat jy belowe word: 1 249 avonture regoor Suid-Afrika, 72 avontuurplekke in al nege provinsies en 23 avonture soos bergfietsry, veldwedlope, rotsklim, kanovaart, speleo­logie, valskermspring, rekspring, brugswaai, wildvang, bakkie-ski . . . Die lys is lank.

Ek het die boek begin lees by die hoofstuk oor Wes-Kaapland omdat dit my wêreld is en ek moet sê, ek is beïndruk. My gaste van oorsee was op pad en hulle is een en almal adrenalienslawe met miere in die broek.

Met hulle in gedagte het ek die blaaie gefynkam vir idees van doendinge en ek is nie teleurgestel nie: By byvoorbeeld abseil kry jy die GPS-koördinate vir die plek, ’n beskrywing van wat te wagte is, ’n telefoonnommer en web­adres.

Aan die einde van die hoofstuk volg bladsye waarin nog aktiwiteite gelys word, asook die top-14 vreemde feeste en topvyf parke en reservate.

Dit moes ’n geweldige taak gewees het om al die avontuurbestemmings in soveel detail op te teken. ’n Avontuursoeker het benewens moed en sakgeld niks meer nodig as dié handleiding om ons land te verken nie.

Die joernalis Jacques Marais en sy navorser, Lize-Marie Marais, verdien ’n pluimpie.

Met die volgende uitgawe kan net meer aandag aan die taalversorging gegee word en kan “ekstreemsport” byvoorbeeld “waagsport” word.

WEN Vyf lesers kan ’n eksemplaar van Die Avontuurgids van Suid-Afrika wen.

SMS die antwoord op die vraag, jou naam en posadres voor 29 Maart om 17:00 na 34922. Vraag: Wat is die skrywer se voornaam? Elke SMS kos R1,50. Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse aan die wenners binne 'n redelike tyd.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER