Hierdie epiese verhaal is pragtig geskryf en die karakters word met soveel diepte beskryf dat jy voel jy word deel van hul wêreld en beleef elke emosie saam met hulle terwyl die storie van Indië tot Ethiopië en Amerika beweeg.

In die Ethiopië van 1945 sterf ’n non terwyl sy die lewe skenk aan tweelingseuns wie se pa die chirurg Thomas Stone is.

Hy verdwyn en Marion en Shiva word grootgemaak deur sy kollegas Hema en Ghosh met die hulp van ander inwoners van Missing. Die twee seuns is onskeibaar, tot een hartverskeurende gebeurtenis.

Die verteller, Marion, skets die lewens en verhoudings van die mense by die hospitaal teen die agtergrond van politieke onrus. Hy word nes sy aanneem- en biologiese pa ’n chirurg.

Die skrywer is self ’n dokter en sy beskrywings van diagnoses en operasies is van die vele interessante dele in die meesleurende boek. Dit is nie om dowe neute vir die Exclusive Books Boeke-prys benoem nie – dis ’n buitengewone leeservaring.

CUTTING FOR ­STONE DEUR ABRAHAM­ VERGHESE

Vintage

Ons dink: 4/5

Volg Huisgenoot op Twitter.