Karin Slaughter is haar regte naam. “Dis net my geluk! Dis ’n goeie ding ek skryf nie liefdes- verhale nie.” Die 41-jarige Amerikaanse skrywer van spanningsverhale het 11 jaar gelede begin skryf en het nou 12 romans agter haar naam waarvan 20 miljoen verkoop is. Sy sê as sy nie ’n skrywer was nie, sou sy ’n horlosiemaker gewees het.

“Ek is mal daaroor om raaisels te ontrafel en dinge te laat werk. Veral as dit baie klein is.” Karin gebruik graag dieselfde karakters weer en elk kry kans om die hoofkarakter te wees. Haar vorige boek, Fallen, het gefokus op die agent Faith Mitchell en haar ma, Evelyn, ’n ekspolisievrou. In Criminal is dit die beurt van Will Trent wat in kinderhuise grootgeword het en nie oor sy lewe wil praat nie. Die boek begin waar sy pa, wat jare tevore vir moord opgesluit is, vrygelaat gaan word.

Karin skryf in ’n ou leunstoel. “Ek sit my skootrekenaar op ’n kussing en begin werk, gewoonlik 10 tot 12 uur op ’n slag. “Ek stel die stoof se wekker vir 30 minute, dan sê ek vir myself ek gaan aanhou skryf tot die alarm afgaan, maak nie saak hoe stadig of hoe moeilik dit gaan nie. Ek het dit op universiteit begin doen toe ek take moes skryf. Ek het nog nooit nie aanhou skryf nadat die alarm afgegaan het nie. Maar dis lekker om darem nut vir die stoof te hê!”

– NATALIE CAVERNELIS

Op soek na 'n beter prys? KLIK op die mier. 

Ekstra bronne: bookreporter.com, npr.org, The Daily Beast, Time, The Wall Street Journal, lemondrop.com