Weet jy hoe dit voel om jou dood te soek na die volmaakte ou? Of hoe dit voel om heeldag en aldag met jou suster te baklei? Of hoe dit is as ’n mens se ouers skei? Of as jy baie mooi is, maar byna stokdoof van geboorte af?

Dis ernstige dinge dié, maar dis verweef deur drie heerlike ligte verhale in die tweede Chilli Lipstiek-omnibus.

Christa Jonker-Jordaan sê in haar voorwoord soveel meisies het in e-posse en briewe geskryf hoe baie hulle die eerste een geniet het en hoeveel dit vir hulle beteken het om lees-lees meer insig te kry in dinge wat kan seermaak: groepsdruk, swak selfbeeld, verkeerde verhoudings . . .

In hierdie omnibus leer ken ons Kimi in die verhaal Soen, Jana in Struikel en Vicki in Spieël.

My gunsteling was Spieël met Vicki wat versot is op Rafael Nadal, hoofmeisie word, deelneem aan ’n skoonheidskompetisie en haar oor die algemeen nie laat onderkry deur haar doofheid nie.

Chilli Lipstiek 2 deur Christa Jonker-Jordaan

Carpe Diem-uitgewers, R150