Ons het al almal ’n padda in die keel gehad, maar hopelik nie padda-eiers in die maag nie; dis waar die sêding oor ’n hees stem vandaan kom: Volgens ’n ou geloof moes ’n mens nie staande water drink nie, want jy sou dan per ongeluk padda-eiers kon insluk. Dan sou die eiers in jou maag uitbroei en die paddas sou dan genoodsaak wees om ’n ontsnaproete deur jou keel te kies. En dit sou jou hees maak ...

So kom baie van die uitdrukkings wat ons vandag nog gebruik uit ou bygelowe – en van hulle is meer as 6 000 opgeteken in dr. Anton Prinsloo se Bygelowe en Waar Hulle Vandaan Kom. (Dié taalwetenskaplike het duidelik ’n ding vir woorde, want vir sy vorige boek het hy weer gaan grawe in spreekwoorde, uitdrukkings en hul oorsprong.)

Met Valentynsdag om die draai is dit goed om te weet as jy struikel teen ’n trap op of jy droom jy bad, gaan jy binnekort verlief raak. Ook as jy harige bene het. As dit nie gebeur nie, moet jy op 1 Mei ’n spieël onderstebo oor ’n helder stroom water hou. Dan sal jy die gesig van jou toekomstige man daarin sien. So waar as vet.

Prinsloo se boek is nie net vir skoolkinders nie; dis heerlike leesstof vir nuuskierige mense.

– Elna van der Merwe

Op soek na ‘n beter prys? KLIK op die mier.