Aan die einde van 1899 het ’n soort Verenigde Nasies op Suid-Afrika toegesak: Russe, Franse, Duitsers, Amerikaners en Hollanders, almal lus vir die stryd teen Brittanje.

Die Hollanders was aanvanklik onhandig met perde en gewere en moes daarbenewens ook te staan kom teen ’n soort Boere-beneukgeit. Hulle is nie oral sommerso as kamerade aanvaar nie.

Broers in die Stryd vertel weer die verhaal van ’n aanvanklik konvensionele oorlog; latere aanslae op blokhuise en treinspore en avonture (of liewer ont­berings)  saam met Danie Theron en Christiaan de Wet.

Ook weer van teregstellings deur die berugte Harry “Breaker” Morant, konsentrasiekampe en gevangen-skap op veraf eilande.

Die Hollanders was deurgaans teenwoordig. Een van die bekendstes in hierdie oorlog was Jochem van Bruggen, wat later vier keer die Hertzogprys sou wen.

’n Ander was Cornelius van Gogh, die broer van die skilder Vincent. Cornelius het ook selfmoord gepleeg, in 1900 in ’n Britse hospitaal in die Vrystaat.

Altesaam 78 Hollanders het in die Anglo-Boere­oorlog gesterf, maar dié betreklik lae getal gee nie naastenby die reikwydte van hul aandeel daaraan nie.

(Van Verenigde Nasies gepraat: By die Slag van ­Spioenkop, herinner Schoeman ons, was die volgende mense teenwoordig: Winston Churchill, genl. Louis Botha en Mohandas Gandhi.)

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER