Soms kan geskiedskrywing maar askleurig wees, dalk omdat dit dikwels so soutloos aangebied word. Met Jeanette Ferreira se heerlike versameling kortverhale oor die Anglo-Boereoorlog is dit anders gesteld.

Die verhale val binne die genre faksie (fiksie gegrond op feite, oftewel faction). Elke storie voer jou ver terug na die kaal, harde slagvelde, en veral na die kwesbaarheid van die oorlogvoerders.

Jy word weggevoer na die kortstondige klein vreugdes wat die mens selfs in ’n konsentrasiekamp vry laat voel, laat hoop en laat oorleef. Vir besige mense is dit manna – 32 sterk kortverhale wat jy stuk-stuk kan lees sonder om die draad te verloor.

Elke storie is ryk aan ’n kaleidoskoop van emosies wat jou dieper insig gee in die mense agter die soms kil feite van bloedvergieting.

Wat my veral geraak het, is die verlange wat soos ’n draad deur die boek loop: mans wat verlief raak en moet padgee;

kinders wat nooit weer hul pa sal sien nie, maar bly wag; vroue wat jare lank na hul mans smag, soms vir altyd.

Van die bekende skrywers hierin sluit in Kerneels Breytenbach, Margaret Bakkes, Leon Rousseau en Maretha Maartens.

Dit is werklik ’n smorgasbord van gehaltestories.

Hou die sakdoek reg, want as jy soos ek is, gaan jy by tye hard en lank huil.

Volg Huisgenoot op Twitter.