Reacher's Rules

Hy is so koel soos ’n komkommer en vat nie nonsies van kabouters nie. Die naam is Reacher. Jack Reacher. (Tom Cruise laat regtig nie reg geskied aan dié hardekwas boekkarakter deur Lee Child nie.) Reacher is ’n voormalige majoor in die VSA se militêre polisie wat nou die owerhede probeer ontduik, maar telkens (in sy uitgebreide boekreeks) moordsake op sy onkonvensionele manier oplos.

En nou het Jack Reacher sy eie handleiding, Jack Reacher’s Rules (R150 in boekwinkels). Wil jy leer hoe om kodes te ontsyfer, jou vyand met ’n mes te takel of by ’n gebou in te breek? Laat Jack Reacher jou onder sy vlerk neem. Jy weet nooit wanneer jy eendag in ’n situasie beland waar jy dalk ’n ysterhek met ’n Chrysler moet stukkend ry nie. (Vir ingeval jy wonder: 1. Maak die vensters van die motor oop sodat die knal van die slag jou nie verdoof nie; 2. Hou jou arm voor jou sodat die lugsak jou nie katswink slaan nie; 3. Laat staan die motor sowat 5 m voor die hek; 4. “Rev” jou enjin met jou voet op die rempedaal; 5. Laat los die rempedaal en ry die hek in sy kanon in; 6. Vlug voor die polisie opdaag. Dis slim, Reacher. Slim . . .)

As jy sy twintigtal boeke gelees het, sal jy die pittige Jack Reacher’s Rules geniet. Dit is op ’n manier ’n opsomming van sy beste aanhalings en strategieë in sy boeke. Soos: “Either you walk out of here by yourself, or you’ll be carried out in a bucket.” Net die dinge om jou pelle om die vleisbraaivuur mee te vermaak. Maar as jy nog nie dié hardekoejawel se boeke leer ken het nie, hou eers verby.

- Gerda Engelbrecht