Dis ’n siekte wat ’n mens se brein wegvreet, jou herinneringe en rede opvreet en dit ten laaste vir jou onmoontlik maak om die eenvoudigste take uit te voer. Dit is ongeneeslik.

Toe Below Luck Level op my lessenaar beland, was ek huiwerig om dit te lees, maar teen die einde van die eerste hoofstuk was ek heeltemal meegevoer en het ek dit verslind.

Hannah Cartwright raak bekommerd toe haar eksentrieke ma, Chloe, selfs vreemder as gewoonlik begin optree – sy vergeet dinge en beland konstant in die moeilikheid.

’n Dokter bevestig haar ergste vrese: Op die relatief jong ouderdom van 59 ly Chloe aan Alzheimer-siekte.

Die roman fokus op Hannah terwyl sy haar geliefde ma se stadige agteruitgang probeer hanteer. Ja, dis ontstellend en geweldig hartseer, maar Barbara Erasmus bou haar storie so slim en skryf so lewendig en gevat dat jy nooit lamgelê voel deur die sentrale Alzheimer-tema nie.

Dit word buitendien gou duidelik Chloe is nie die enigste een met probleme nie. Waarom het Hannah ’n onweerstaanbare drang om goed uit winkels te steel en waarom kan sy geen beloftes maak aan ’n man wat duidelik perfek by haar pas nie?

Terwyl Chloe se geheue stadigaan wegraak, onthou Hannah haar grootwordjare in Kaapstad en haar verhouding met haar merkwaardige ma. Dit is ’n besonderse boek en ek beveel dit ten sterkste aan.

Volg Huisgenoot op Twitter.