Om op ’n sonskyndag enkele weke voor die amptelike lentemaand ’n tuinboek op jou lessenaar te kry is swaar vir ’n lessenaargebonde tuinier. Veral as dit op ’n Maandag gebeur en die naweek lê nog ver.

Anna Celliers en Tanya Visser se jongste boek roem hom daarop dat dit eietydse plante bevat. Jy sal dus nie verlief raak op ’n lieflike struik op een van die kleurfoto’s en dan later ontdek dis glad nie meer in kwekerye nie.

Die onderskeie hoofstukke word gewy aan struike, bome, meerjariges, grondbedekkers, ornamentele grasse, rankers en sukkulente.

Ek hou van die hofies aan die einde van elke plant, veral Neutedop met wenke soos “te veel water gee minder blomme” en by Kweekgebooie “al die sierplante in die aartappelfamilie is giftig”.

En dan vir ons wat tuinboeke soos storieboeke lees: Die teks is in rubriektrant geskryf.

Dit is ook in Engels beskikbaar as What Can I Plant?

WAT KAN EK PLANT? JOU BLITSGIDS TOT FLATERVRYE PLANTKEUSES DEUR ANNA CELLIERS EN TANYA VISSER

Metz Press

Ons dink 3/5