Alfabet van die Voëls - SJ Naudé

Umuzi

Ons dink: 4/5

Die mooi titel van dié bundel kortverhale prikkel en skep verwagtinge, maar ’n mens is nie regtig voorbereid op hoe goed jou verwagtinge vervul gaan word nie.

Soos jy in die eerste storie begin lees van Mrs Edith Nyathi, afgetrede matrone en gastehuiseienaar van Vloedspruit, word dit gou duidelik hier is iets vernuwends en opwindends aan die gang.

Van ’n terminale kanker- en vigssituasie op dié fiktiewe Vrystaatse dorpie verskuif ons in die daaropvolgende verhale na Berlyn, Pretoria, Japan, Londen en Parys, Dubai, terug na die Vrystaat en uiteindelik na Milaan.

Die hoofkarakters is Afrikaners, party met uitsonderlike name soos Sandrien en Ondien.

Hulle is onpretensieuse wêreldburgers, onsentimenteel, onbeskaamd homoseksueel en onbehep seksueel. Hulle is op die voorpunt van musiek, dans, die argitektuur, die sakewêreld, maar kwesbaar en gekonfronteer met verganklikheid.

Dis nie lekkerlees-stories nie, maar ook nie ontoeganklik en humorloos nie. ’n Baie relevante boek.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER