Snydokter deur Leon van Nierop (Lapa Uitgewers, R195 by Kalahari.com) ’n Interessante boek het onlangs my oog gevang. Volgens die voorwoord is Snydokter die resultaat van ’n projek waarin Lapa Facebook-gebruikers genooi het om hulself as hoofkarakters vir ’n verhaal beskikbaar te stel. Meer as 800 mense het via Lapa se Facebook-blad aan ’n kompetisie deelgeneem en daaruit is drie hoofkarakters gekies. Daarna was die opdrag aan Leon van Nierop om ’n verhaal met behulp van blog-inskrywings en Facebook-statusse te skep – iets wat die e-generasie se verbeelding sal aangryp. Die uiteinde is ’n slim verhaal rondom die verdwyning van dr. Renzo Hattingh, ’n bekende plastiese chirurg van Sandton wat oënskynlik op die vlug slaan nadat hy ’n bekende sepie-aktrise se gesig geskend het. Die hoofkarakters moet hom probeer opspoor ter wille van ’n tydskrifartikel en kry deurentyd hulp van ’n geheimsinnige blogger genaamd Pandora. Pandora los vir hulle leidrade wat hulle oor die lengte en breedte van die land neem. Alle paaie lei na P.A, maar wie, wat of waar is P.A.? Aanvanklik het die storie nie vir my vinnig genoeg op dreef gekom nie en was die herhaaldelike inweef van vye as ’n tema effens hinderlik, maar die intrige het my gou genoeg ingesuig. Die feit dat die leser ook gewaarsku word dat feite en fiksie verweef word, veroorsaak dat jou vingers jeuk vir saamspeel. Ek kon myself byvoorbeeld nie keer om te Google of die resepteboek Vyftig Vinnige Vyeresepte en die Fyndraai-gastehuis werklik bestaan nie. (Lees die boek en Google self!) En waar ander spanningsverhale dikwels 100 bladsye te lank uitgerek word, het ek gedink die ontknoping kom op net die regte tyd. Die karakters is almal mense vir wie jy kan lief word, maar ek was veral dol op die speurder, George (Kelley) Kellerman wat, in ’n boek wat vir en rondom die internet-generasie geskryf is, tog ook ’n sagte plekke vir blokraaie het. Op die agterflap beloof die boek: “Die spanning en onvergeetlike karakters in hierdie verhaal sal gebruikers van sosiale netwerke wat nie die plesier van lees ken nie – of dit verleer het – laat besef wat hulle misloop.” Ek hoop dit is inderdaad die geval. Ek dink Lapa kan gerus weer so ’n projek aanpak. Op die noot van blokraaie. ’n Vriendin wat my belangstelling in reis en blokraaie verstaan, het vir my Sandy Balfour se Pretty Girl in Crimson Rose (8) (Atlantic Books, R136 by Kalahari.com) as ’n verjaardaggeskenk gegee. Dit is een van daardie boeke wat jy weet jy voos gaan lees. Op die agterflap staan: “Half a million people in the UK do it every day. Most people remember their first time, and everyone has a favourite. You can do it in bed, standing up, or on a train. You can do it alone, with a loved one or in groups. The Queen, it is said, does it in the bath. It is not illegal, immoral or fattening. Crosswords are a very British obsession.” Die boek is die memoires van Sandy Balfour, ’n Suid-Afrikaner wat op die ouderdom van 21 in self-opgelegde ballingskap gaan weens die land se politiek. Terwyl hy deur die wêreld ryloop, vermeng hy sy stories van mense en stede met sy liefde vir die stokperdjie wat dermiljoene mense ter wêreld met mekaar gemeen het: blokraaie. As jy lief is vir reisverhale en blokraaie, of net insig wil hê in die Britte se vreemde (maar geniale!) kriptiese blokraaie, sal jy verlief raak op hierdie boek. Kriptiese blokraaie was altyd laaste op my blokraailys, maar dié boek het my oë geopen vir hoe meesterlik dit uitgedink is.