Is ek al wat gereeld met TV-liefhebber-vriende klets oor wie is wie in Game of Thrones? Raak jy ook soms deurmekaar met Tywin en Tyrion en watter huis op watter grondgebied aanspraak maak?

Ek vermoed ons is nie alleen nie, want ons word elke week met ’n spul inligting bestook. Daar is so baie karakters dat party nie eens in elke episode verskyn nie, terwyl ander net ’n paar minute per week kry. ’n Onlangse gesprek oor wat in Riverrun aangaan, het tot ’n google-soektog op ’n foon gelei (dis die vesting van House Tully; dus die gesinshuis van Caitlin Stark, die vrou van die oorlede Ned en ma van die koning van die noorde, Robb, ingeval jy wonder).

Dit het baie gehelp dat ek die boeke gelees het (al begin ek eers met boek vier wanneer hierdie seisoen klaarmaak), want daar is vele mindere karakters en heelwat name wat eenders klink (Podrick? Polliver?). En wanneer jy eindelik uitgepluis het watter volgeling aan watter toekomstige koning behoort, kom hulle gewelddadig tot ’n einde.

Ek wens die reeks se vervaardigers wil vir ons meer van Arya Stark wys, want sy is die koelste klein oorlewende. Maar wie sal hulle minder moet wys om dit te kan doen? Ek wil sê minder van die nare seunskoning Joffrey en die sissierige Sansa Stark, maar hulle is so vermaaklik, veral wanneer Joffrey se aanstaande, Margaery Tyrell, en haar wonderlike ouma, Olenna, in die prentjie is. Ek soek om die waarheid te sê meer van daardie twee Tyrell-vroue, want hulle laat die arme Cersei met haar voorliefde vir bloedskande onseker voel. En ek soek beslis meer van Tyrion, sy skerpsinnnigheid is legendaries (Aan Cesei: “Jy is lief vir jou kinders. Dis jou een goeie eienskap. Dit en jou wangbene”. En aan sy neef Joffrey: “Ons het al wrede konings gehad en ons het al onnosele konings gehad, maar ek weet nie of ons al met ’n wrede, onnosole seunskoning vervloek was nie.”).

Wat doen jy wanneer jy byvoorbeeld gewikkel is in ’n gesprek oor wie die Onion Knight steun? As jy op die internet wil gaan kyk, kan jy www.towerofthehand.com kies waar onder meer die karakters, huise, plekke, gediertes uit die boeke en reeks uiteengesit word. Of beproef http://viewers-guide.hbo.com/season3. Wikipedia het ’n omvattende lys, maar daar is dit veels te maklik om op ontknopings af te kom wat jy nie nou al wil weet nie.

Vir my is dit makliker om ’n app te gebruik en byderhand te hê terwyl jy kyk. Daar is ’n paar heel skaflike gratis apps (beproef Kings Road Companion, vir iPhone en iPad). Maar The Game of Thrones Companion (iPhone, iPad en Android) is net reg wanneer jy sukkel om die Targaryens van die Tyrells te onderskei. Dit kos R24,99, maar is propvol inligting. Dit navigeer ook maklik en het ’n “bederf-verstelling” waarmee jy besonderhede kan kies op grond daarvan of jy net die reeks kyk of die boeke gelees het. Dit word volgens huis en karakter, plekke en selfs gelowe ingedeel. Dalk sal dit vir my sê wanneer daardie bekende Winter is Coming eindelik sal aanbreek . . .

NS: Die Onion Knight is Davos Seaworth en hy steun Stannis Baratheon, broer van Robert, die oorlede voormalige koning, en Renly Baratheon, die voormalige gay man van Margaery, wat albei nou dood is. Podrick is Tyrion se skaam landedelman. Polliver is ’n makker van die wrede Ser Gregor Clegane, broer van die reuse geskende Hound.

Game of Thrones word Vrydae om 21:30 op M-Net vertoon.

[caption id="attachment_33382" align="alignnone" width="600"]Tyrion Lannister Tyrion Lannister[/caption]