Pieter van Zyl het 'n boekbekendstelling by Pollsmoor bygewoon

Kameraspanne en joer­naliste kom in bussies deur geroeste hekke aangery, al met doolhofpaadjies langs tot voor die vroueafdeling van die Pollsmoor-gevangenis buite Kaapstad. In die binnehof blom rose en bougainvilleas.

Dis familiebesoekdag vir die 558 ma’s in die afdeling vir dié wat kinders jonger as twee jaar saam met hulle agter die tralies het. Daar is gerugte dat ’n moordenaar wat 28 jaar moet sit, vandag vroeër vrygelaat word omdat hy ’n graad in teologie behaal het; daarom is die TV-mense ook hier. Maar die meeste besoekers is hier vir die bekendstelling van Carla van der Spuy se Mens of Monster – Die Psige van ’n Misdadiger.

By die ingang word jy mooi gewaarsku oor wat nie saam met jou mag ingaan nie; nie eens slaptjips nie, want strooitjies tik kan binne-in ingesmokkel word. Selfone is ook verbode, want vir gevangenes is dit goud werd om met hul makkers in die misdaadwêreld buite die tronkmure kontak te behou.

Veiligheidsmaatreëls is nie vir vandag se boekbekendstelling verslap nie. Oral moet jy jou ID-boekie wys en inteken; in hokkies agter gordyne word elkeen deursoek.

Hoe dieper ons met ’n lang gang die maag van die tronk binnegaan, hoe beklemmender raak dit. Selfs die kinderlik beskilderde mure met sokkerballe en al die 2010-Wêreldbekertoernooi-stadions kan nie diMens of Monsre gevoel verlig nie.

Voor in die pad brand darem ’n lig: die ontspanning­saal waar ’n jazzgroep in die tronk se helderkleurige oorpakke die gemoedere lig. ’n Gemengde koor se engelstemme het die teenwoordiges op hul voete.

’n Vrou agter ons vertel sy dien 10 jaar tronkstraf uit omdat sy lid was van ’n groep wat ’n vrou verkrag het. Sy het al drie agter die blad. ’n Ander vrou vertel sy is gevang met dwelms en moet nog vyf jaar uitdien.

Carla kom aan die beurt. “Enigiemand het die potensiaal om ’n misdaad te pleeg,’’ sê sy.

Sy vertel iets wat die kriminoloog wyle dr. Irma Labuschagne eens aan haar gesê het, het haar aangespoor om die boek saam te stel soos sy dit gedoen het: “Jy kan nie met oortreders werk as jy nie ’n mens agter die misdadiger sien nie.”

Sy het onderhoude gevoer met geweld­dadige misdadigers van oor die land. “Dit was dikwels moeilik om die mense te vereenselwig met dit wat hulle gedoen het. Een van die ouens met wie ek gepraat het, kon nie eens onthou hoeveel mense hy doodgemaak het nie. As tjokkertjie was die eerste ding wat hy gesteel het, ’n boek . . .’’ vertel Carla.

Mens of Monster kos R210 by kalahari.com