Is ek die enigste een wat vir arme Huck ’n drukkie (of dalk net ’n kloppie op die skouer in die fase waarin hy nie wou bad nie) en sjokoladekoekies wil gee?

Ek voel so jammer vir dié ou wat ’n kenner van marteltegnieke is. Soms is sy gesig so hartseer ek vergeet skoon om aandag te gee aan die vinnige gesprekke rondom hom.

[caption id="attachment_54825" align="aligncenter" width="599"]the gladiators Guillermo Díaz vertolk Huck in The Fixer[/caption]

Seisoen twee van The Fixer eindig vandeesweek en my kop draai van al die politieke drama, rugstekery, marteling, leuens en geheime agente in die wêreld van die krisisvraat Olivia Pope.

As ek presentjies uitdeel, sou ek vir Olivia ’n spa-dag reël ná ek haar foon uit haar gespanne hande gewurg het. Haar kop en die hele politieke wêreld sal seker ontplof as dit gebeur. Maar dié vrou het dit regtig nodig – selfs die magtigste vrou in Washington moet soms haar skoene kan uitskop en die wêreld se sorge vergeet, en dit sonder om te wonder of ’n klomp aantreklike mans met yslike TV-skerms dalk op haar spioeneer.

Huck lyk vir my soos die ou wat permanent oor sy skouer kyk. Daai episode ’n week gelede toe hulle gewys het hoe hy ’n martel-ekspert geword het en toe in ’n onderaardse sel beland het by die geheimsinnige B-613-organisasie, het my hart gebreek. En net toe ek dink ek sal darem nie werklik húil nie, hardloop sy seuntjie met ’n onskuldige gesiggie nader en gee sy bebaarde, hawelose pa ’n bietjie geld – sonder dat hy weet die ou is sy biologiese pa.

[caption id="attachment_54826" align="aligncenter" width="600"]Huck en sy seun Huck en sy seun[/caption]

Net daar wou ek Huck ’n drukkie gee . . . en dit lyk of ander kykers ook so voel. Guillermo Díaz, wat die rol van Huck vertolk, het aan TV Guide vertel mense omhels hom regtig op straat! “Huck is so gebroke en hy lyk altyd asof hy op die punt van ’n ineenstorting is. Ek dink mense wil daarom net vir my ’n bietjie liefde gee.”

Hy sê hy is nooit seker wat sy karakter in die volgende episode gaan aanvang nie. “Ek is senuweeagtig elke keer as ons ’n nuwe episode begin verfilm, want ek weet nooit of ek poedelkaal gaan wees, half verdrink gaan word of in ’n huis moet instap waar almal vermoor is nie – ek moet al hierdie emosies gereed hê. Jy weet net nooit wat gaan gebeur nie. Gaan ek ’n boor nodig hê? Ek is nou al redelik gemaklik met al die kraggereedskap!” het hy aan die vermaakwebtuiste vulture.com vertel.

[caption id="attachment_54827" align="aligncenter" width="600"]Abby, Quinn en Olivia Abby, Quinn en Olivia[/caption]

Hy is ook die enigste een wat nie so vinnig soos die ander karakters praat nie. Soms voel ek of ek my asem ophou as Olivia, Abby, Quinn/Lindsay (Quinnsay?) en die ander teen die spoed van wit lig met mekaar gesels. Dis iets wat die reeks se skepper, Shonda Rhimes, met opset gedoen het. “Een van die redes vir die karakters se vinnige praatspoed is omdat hulle in ’n wêreld leef waar almal ontsettend besig is en daar nie tyd is om jou gevoelens te beleef nie,” het sy aan die webtuiste eurweb.com gesê. “’n Ander rede is dat die loodsepisode omtrent 75 bladsye lank was (en hulle dit in een episode moes inpas).” Dit lyk egter of dit iets is waarvan sy regtig hou, want die karakters in haar ander bekende reeks, Grey’s Anatomy, praat ook asof daar nooit genoeg ure in die dag is nie.

[caption id="attachment_54828" align="aligncenter" width="600"]James en Cyrus James en Cyrus[/caption]

Gepraat van Grey’s Anatomy – ek was nuuskierig om meer uit te vind oor Dan Bucatinsky, die akteur wat James (Cyrus se man) in The Fixer speel, ná hy ’n Emmy gewen het as Uitstaande Gasspeler in ’n dramareeks. Dan is ook ’n skrywer en raadgewende vervaardiger van Grey’s en medeskrywer van Lisa Kudrow se reeks, Web Therapy. Daarby het hy ’n topverkoperboek geskryf, Does This Baby Make Me Look Straight?, oor kinderaanneming saam met sy man, die draaiboekskrywer Dan Roos. Volgens The Hollywood Reporter gaan Shonda Rhimes ’n TV reeks op sy boek grond. Glo dit of nie, maar Dan het ’n oudisie gedoen vir die rol van Huck. Ja, ek kan hom ook nie as Huck voorstel nie – en hy ook nie. “Ek onthou dat ons almal soort van saamgestem het dat ek nie reg was vir die rol nie, maar hulle wou vir my iets anders vind om te doen,” het hy aan die vermaakwebtuiste Buzzfeed gesê.

Nou maak ons reg vir die laaste episode van seisoen twee en ons gaan uiteindelik weet wie die flippen geheime agent is wat inligting laat uitlek het (Is dit Cyrus?! Wag, miskien is dit Mellie?!) en hoe presies die Amerikaanse president dink hy kan net sy vrou los en by sy skelmpie intrek...

Maak reg vir twee episodes vanaand! Seisoen drie het pas in Amerika begin en M-Net sê ons gaan dit waarskynlik vroeg volgende jaar sien.

The Fixer word op Maandag om 8.30 nm op M-Net uitgesaai.

NS: Homeland se derde seisoen begin volgende Maandag in The Fixer se plek.

Natalie Cavernelis- Natalie Cavernelis