Wie sou nie droomverlore in die oerwoud op die maan Pandora wil gaan ronddwaal nie? Enigeen wat die rolprent Avatar in 3D gesien het, sal weet watter toweragtige plek dit is.

En as jy bly sit het tot die tea-terligte weer aangaan, sou jy dalk ’n Afrikaanse naam onder die visuele-effektespan opgemerk het wat dié fantasiewêreld geskep het.

Ula Rademeyer (32), ’n Suid-Afrikaanse boorling, is onlangs bekroon met ’n gesogte Visual Effects Society (VES) -prys – die grote in Amerika in die aanloop tot die Oscars – vir haar skeppende werk aan die wegholtreffer Avatar, drievoudige Oscar-wenner en die prent met die grootste inkomste in die geskiedenis van die rolprentwese.

En nes Charlize Theron des-tyds toe sy met ’n Oscar vir die fliek Monster bekroon is, het Ula met trots haar plaaslike wortels op die VES-verhoog gevier. “Ek het vir die gehoor gesê: ‘In my home language, Afrikaans: Baie dankie aan julle almal!’ Dit was drie sekondes, maar dit was dáár.’’

Dit was ’n hoogtepunt ná ’n stresvolle paar uur vooraf. “Die aanloop tot die bekroning is spannend. Jy sluk swaar aan die lekker kos as jy weet jy moet dalk binnekort op die verhoog voor 2 000 mense staan en praat,’’ vertel sy.

En dit was toe so: Haar naam is by die agtste jaarlikse VES-toekenningsaand in die Hyatt Regency Century Plaza-hotel in Los Angeles uitgelees as lid van die span van vier wat met die louere weggestap het in die kategorie geskepte omgewing. Dit was vir die anderwêreldse tonele in die fliek wat soos onderwaterlandskappe en soms soos ’n magiese feëwêreld lyk, met boomsade wat soos ragfyn insekte na benede fladder.

Ula se kollegas het haar nie om dowe neute die “plantevrou’’ gedoop nie – Pandora se toweragtige plante was haar baba. Die regisseur James Cameron van Titanic-faam wou ’n on-gekende nuwe digitale planteryk skep en sy was deel van dié genesiswerk.

"Ek het elke oomblik geniet,’’ vertel die talentvolle jong vrou uit Wellington, Nieu-Seeland, waar sy as hooftekstuurskilder by ’n visuele-effekte-ateljee, Weta Digital, werk. “Dit was drie jaar lank my fokus..."

Ure nadat Avatar drie Oscars gewen het, gesels pa Corrie Rademyer uit Wellington oor die VES-beeldjie wat sy dogter uit Los Angeles teruggebring het. Een van die Oscars was juis vir visuele effekte, die kategorie waaraan Ula ’n groot aandeel gehad het.

"Wat haar bedryf betref, het sy reeds die prestasie behaal wat sy moet, maar dis gaaf dat die ysterware dit nou bevestig," sê Corrie. “Die trofee weeg volgens die badkamerskaal meer as 3 kg!

"Ek is veronderstel om te verstaan wat sy doen, maar baie aspekte is steeds vir my duister."

Lees die volledige artikel in die 18 Maart uitgawe van Huisgenoot.