Collage van vier

BOEK-apps laat my wens ek is ’n hele paar jaar vroeër gebore omdat hulle lees tot ’n wonderlike nuwe vlak voer. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek wil nie alle boeke in dié formaat lees nie, maar dis heerlik om te kyk hoe ons kleuter dit geniet. En dit het haar nie minder lus vir gewone boeke gemaak nie – sy is nou liewer vir stories luister as ooit.

Dis maklik vir kleuters om met ’n tablet te werk en die stories hou haar besig as ons ver moet ry of as sy voor badtyd rustiger moet raak. Daar is nog nie baie Afrikaanse boek-apps op die mark nie – om die waarheid te sê, my Afrikaanse kollega kon ná ’n gesoek in app-winkels en navrae by verskeie uitgewers net twee opspoor, darem met die belofte dat nog op pad is. Maar vir tweetalige snuiters of kinders wat in Engels grootword, is daar meer as genoeg uitmuntende boek-apps om van te kies. Hieronder is die beskikbare Afrikaanses plus my vyf gunstelinge in Engels – hulle vertel almal ’n pragtige storie, is interaktief of verryk, en het ’n “lees vir my”-funksie ook. Ons het nie musiek- of gewone apps ingesluit nie, maar net op storieboeke gekonsentreer. Die drie varkies, oorvertel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Maja Sereda. Lapa/Full Circle

$3,99 (R39,99) iPhone en iPad

Varkie collage

Dis nou regtig een van die oulikste animasie-weergawes van die klassieke verhaal oor die drie varkies wat die huis verlaat om hul eie potjie te gaan krap. Jy kan dit vir jou kind lees (met of sonder die interaktiewe plesierighede), of jou kind kan dit self lees, of julle kan kies dat die storie deur die app vertel word. Daar’s ook ’n speletjie waarin jou kind ’n varkie kan “bou”. ’n Baie oulike element is die Suid-Afrikaanse hoek – die diere wat oor die blaaie verbygestap kom, is tipies Suid-Afrikaans soos olifante, aasvoëls en tarentale, en aan die einde, wanneer die wolf verslaan is, hou almal ’n teepartytjie met koeksisters! Daar’s ook baie interaktiewe elemente, van diere wat bollemakiesie slaan tot ’n verkleurmannetjie wat jy van kleur kan laat verander. Druk op die een varkie se kitaar en hy begin speel, of tik op die varkies se TV-stel en dit verander van program. Speelgoedkarretjies ry die wêreld vol en op omtrent elke bladsy wip die nare wolf agter ’n bos uit as jy op hom tik. Sommige diere maak ook kenmerkende geluide as jy aan hulle raak, om nie te praat van die stomme Moeder Vark wat op aanvraag kliphard snik wanneer die varkies die huis verlaat nie. Lollos se vlerke deur Izelle Venter met illustrasies deur Luan Serfontein. $3,99 (R39,99) iPhone en iPad

Lollos collage Natuurlik moet die gewilde Lollos ook sy eie boek-app hê . . . Lollos sien hy het vlerke, maar kan nie verstaan hoekom hy nie kan vlieg nie – tot hy op ’n groep kinders afkom en besef die gelag van kleingoed laat hom vlieg. Die storie is vir selflees of voorlees en daar is ook Lollos-liedjies te luister. Anders as die Drie Varkies is daar nie juis animasie nie, maar getrou aan Lollos-produkte is die app opvoedkundig en help dit heel kleintjies se woordeskat aan terwyl dit ouer kinders help lees. Elke woord wat voorgelees word se kleur verander na rooi, en as jou lesertjie op verskillende elemente op elke bladsy druk, verskyn die naam van die element (soos “gras” of “meisie”) en word dit ook uitgespreek. Moo, Baa, La La La! deur Sandra Boynton

$3 (R30) Android

$3,99 (R39, 90) iPhone, iPad Moo Baa collage ’n Mens kan eintlik al Sandra Boynton se boeke hier noem, hulle is so fantasties. Hierdie een is ons gunsteling. Dit gaan oor die geluide wat diere maak, en dis snaaks! Jy speel nog met koeie wat moe en skape wat baa sê, dan moet jou kleuter skielik ’n gordyn oplig en daar kry sy varkies wat “la la la” sing. Op die volgende blad kan jou kind die toneel van dag na nag en terug verander. Honde jaag katte en eende vermenigvuldig. Eindelose pret! What Does My Teddy Bear Do All Day deur Bruno Hächler en Birte Müller

$3,99 (R30) iPad Teddy collage ’n Dogtertjie spioeneer op haar teddie want sy is vasbeslote om uit te vind wat hy doen wanneer sy nie by is nie. Dis heerlik en een van die mees interaktiewe boek-apps wat ek nog teëgekom het. Teddie dans as musiek speel, spring op die bed, kruip in kaste weg, sluip agter haar rug rond en kyk TV (die kleuter kan met die afstandbeheerder die TV-kanale na allerhande lawwe programme verander). Jy kan op ’n skryfblok klik en dan slaan dit oor na ’n plek waar jou kleuter haar eie prentjie kan teken – en as jy terugkeer na die storie, hang die prent teen die dogtertjie se muur. Jou kleuter sal nie ophou giggel terwyl sy haar hiermee vermaak nie. Chipper’s Rainy Day Adventure deur Invent a Tale

Gratis vir die iPad Chipper collage Dis ’n bietjie van ’n kies-jou-eie-avontuur-storie op kleutervlak. Chipper die muis moet besluit wat om op ’n reëndag te doen en op elke bladsy is daar drie moontlikhede. Jy kan ’n fort van knopies bou en kyk hoe hy dit omstoot, of tandestokkies gebruik om die fort te bou waarin Chipper met ’n flits speel. Jy kan hom help om weg te kruip en vir hom iets kies om buite te doen. Aan die einde van die dag kan jou kind besluit of hy in ’n teekoppie bad of met die hulp van ’n gieter stort. ’n Dierbare storie met so baie opsies. Scruffy Kitty deur Michael Slack

$4,99 (R49, 90) iPad, iPhone, iPod Touch Scruffy collage Scruffy is ’n babakat wat buite woon en in taamlik baie moeilikheid beland voor hy binnetoe gaan en skoongemaak word. Hy val van asblikke af, huil vir die maan, marsjeer op en af en kry baie lekker terwyl hy vals sing. En die kleuter se gunsteling: As hy eers skoon is, kan jy hom met ’n haardroër droogblaas. Dis nogal vreemd: Die app beklemtoon dat ons moet bad en gaan slaap as ons klaar gespeel het, maar om die een of ander rede dink kleuters dit is nie op hulle van toepassing nie! The Tale of Peter Rabbit deur Beatrix Potter

$5 (R50) Android

$3,99 (R39,90) iPhone, iPad, iPod Touch rabbit collage Dié klassieke verhaal van die stoute haas wat in die moeilikheid beland as hy besluit om in Mr McGregor se tuin middagete te gaan geniet, word in ’n opwip-formaat vertel terwyl strelende musiek speel. Die woorde word uitgelig wanneer hulle gelees word en die hasies kan aangeraak word sodat hulle effens beweeg, of getrek word na ’n ander plek met uittrek-stroke. Die heerlike ding hier is natuurlik dat jou kleuter verskillende stroke oor en oor kan uittrek sonder dat dit binne weke uitmekaargeskeur is, soos met gewone opwipboeke vir kinders gebeur. Ouer kinders wat leer lees, sal ook baie hiervan hou. Afrikaanse apps wat op pad is:

  •  Lapa se tweede boek-app behoort in hierdie dae in Apple se app-winkel te wees: Waarvoor Is Seerowers Bang? deur Jaco Jacobs met illustrasies deur Chris Venter, $3,99 vir die iPhone en iPad.
  • NB Boeke is die afgelope jaar besig om ’n app met die naam Storierak te ontwikkel. Volgens die uitgewer sal dit ’n multimedia-leeservaring bied wat stories vertel en interaktiewe geheue- en syferspeletjies bevat sodat dit tegelyk plesierig en opvoedkundig is. Dit sal vroeg aanstaande jaar vir die iPad beskikbaar wees en later ook vir Android en ander toestelle.

-Natalie Cavernelis

(Afrikaanse apps bygewerk deur Joan van Zyl)

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, lees, fliek en TV, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook ons TV-blog. Volg haar op twitter @NatalieCav.