VERLEDE week het een van ons boekvrate haar toplysie gedeel van Engelse boeke wat jy die vakansie gerus saam see toe kan inpak. Vandeesweek kom Afrikaanse boeke aan die beurt.

1 Deon Meyer is terug . . .

Kobra

Kobra

Skrywer Deon Meyer

Prys R165 op kalahari.com

Van al die baie drama wat in Kobra, Deon Meyer se nuutste misdaadstorie gebeur, was dié rondom Bennie Griessel vir my byna ondraaglik. Die arme man, soveel grondpad al gery en nou nog dit ook . . . Maar nou ja, mens kan tog nie die skrywer bel en vra dat hy die baasspeurder ‘n “break” gee nie . . . Van my kollegas meen Kobra is sy beste nog en ek moet sê, self het die spannende soektog na die Kobra my goed op hol gehad. My gunsteling was die nuwe karakter, Tyrone Kleinbooi, ‘n superskelm sakkeroller wat sy slim sussie op universiteit hou deur sy bedenklike bedryf. Daar speel ‘n toneel tussen hom en ‘n Valk op ‘n trein af wat jou gaan laat huil – so eenvoudig en so aangrypend geskryf. Daar het die laaste ruk ook heelparty ander opwindende boeke verskyn wat ’n plek op jou vakansie-leeslys verdien. Hier is nog vyf wat ek met geesdrif kan aanbeveel.

2 ’n Spanningsroman wat my verras het . . .

Skrapnel

Skrapnel

Skrywer Irma Venter

Prys R190 op kalahari.com

Dis die eerste boek deur Irma Venter wat ek gelees het en wat kan ek sê? Wat ’n aangename verrassing en mag Irma vasgeanker sit voor haar lessenaar sodat daar volgende jaar nog iets uit haar pen kom!

Skrapnel volg op Skoenlapper en begin ongeveer ’n jaar ná die gebeure in Skoenlapper. Die joernalis Alex Derksen word ontvoer terwyl hy aan ’n storie oor ’n onwettige goudmynsindikaat werk. Sarah Fourie, sy kuberkrakervriendin, probeer hom red, maar besef sy gaan Ranna Abramson nodig hê om haar te help. Ranna is in Indië, waar sy vir die polisie wegkruip. Volgens hulle is sy ’n reeksmoordenaar met verskeie mans op haar kerfstok. Sarah vlieg Indië toe om Ranna op te spoor.

3 ’n Debuut wat my verras het . . .

Valsrivier2

Valsrivier

Skrywer Dominique Botha

Prys R198,44 op kalahari.com

Kyk, as jy uit die Vrystaat kom of oor die algemeen net lief is vir die platteland of herinneringe het aan ’n kleintyd op ’n plaas, moet jy Dominique se boek lees. Haar beskrywings van die natuur maak jou vreeslik lus om tussen lang grasse te gaan lê en wolke kyk of in ’n plaasdam te gaan swem. Paul en Dominique beleef ’n wonderlike kindertyd op ’n Vrystaatse plaas, maar dit kom tot ’n einde wanneer albei koshuis toe gestuur word. Paul het baie talente – hy is onder meer ’n belowende jong digter – en dalk is dit juis sy begaafdheid wat hom alles laat bevraagteken. Selfs as hy ál meer na die rand van die samelewing dryf en met dwelms deurmekaar raak, bly staan sy en Dominique se hegte verhouding. Paul is uiteindelik aan heroïen dood en Dominique vertel die skryf van die boek het vir haar troos gebring: “Deur die skrywery is ek ’n tweede kans gegun om ’n deur saggies toe te trek wat voorheen in my gesig toegeklap het.”

4 ’n Aweregse skrywer wat my altyd verras . . .

Wenkbrou

Wenkbrou

Skrywer Deborah Steinmair Prys R185 by kalahari.com Deborah Steinmair, dié keer met Wenkbrou. Hierdie een is haar tweede komiese raaiselroman en as jy van jou stories buite die hoofstroom hou en geskryf deur ’n slim vrou, lees Wenkbrou. Aga en Jesse (karakters wat ons al in Deborah se Die Neus ontmoet het) pak ’n nuwe avontuur aan: Hulle gaan Oos-Vrystaat toe om die geheim van ’n verlore kind te probeer oplos. Maar hulle moet rekening hou met ’n geheime sekte en ’n geslepe vrou wat aan die hoof staan van ’n groep nonne. Hul goeie vriend Claude wat hulle altyd help, bring sy nuwe meisie saam – die wit sangoma Stasi Soldatos. Die boek is satiries, aweregs en onverdunde pret.

5 ’n Sestiger wat my verras het . . .

Klara

Klara

Skrywer Mariël le Roux

Prys R184 by kalahari.com Mariël le Roux het eers ná haar aftrede begin skryf – om die waarheid te sê, presies in die jaar dat sy sestig geword het. Sy het losgetrek met Wilhelmina – Kampkind van Java in 2007 en toe Die Naamlose in 2010. Haar derde, Klara, is die boek waarmee ek Mariël ontdek het en ek sien uit na vele meer. Dis maklik om te lees, maar sy sit pit in haar storie, genoeg om jou ’n paar dae ná die lees nog te laat nadink. Klara se sorgelose lewe op Boplaas kom tot ’n einde toe haar voorman-pa onder ’n trekker se wiele sterf. Hulle moet na die wit lokasie op die dorp trek, waar Klara haar ma, wat die kluts heel kwytgeraak het, tesame met haar jonger susters moet versorg. Haar planne om verder te gaan leer is dus daarmee heen en so ook haar verhouding met die ryk boer se oudste seun.

6 Die een wat my nog moet verras

Skarlakenkoors

Skarlakenkoors

Saamstellers Peter van Noord en Karin Eloff

Prys R225 by kalahari.com

Ek het Skarlakenkoors nog nie gelees nie, maar ek kan nie wag nie!

Dis weer ’n bundel erotiese kortverhale saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff (die vorige een was Bloots).

Op die voorblad staan dis “prikkelend, passievol, sensueel. 90 erotiese stories wat jou bloeddruk sal laat styg.” Die bydraes is geskryf deur “digters, joernaliste, skrywers, sangers, sakemense, sosiale vlinders, sekskatjies, tuiniers, politici, komediante, kosmense, kerkmense, kunstenaars, kommentators, ekonome, en regisseurs. Daar’s ma’s en pa’s, oumas en oupas, weduwees en wewenaars, ougetroudes, geskeides, alleenlopers.”

Ek lek my lippe solank af . . .

- Elna van der Merwe

elna Elna van der Merwe is Huisgenoot se boekeredakteur.