DIS die eerste week van die lente! ’n Tyd vir ’n nuwe beginne, bloeisels en sonskyn. Die lente is gelukkig, vrolik en vol van die getwiet van voëltjies . . . dis in elk geval hoe dit in flieks lyk. Dit beteken somer wag om die draai! Vandeesweek het ek vyf liedjies gekies vir die eerste vyf weekdae van die lente.

Maandag

Het jy U2 Beautiful Day in Suid-Afrika sien speel? Dis ’n groot vet rockliedjie en die beste manier om die lente aan die gang te skop.

Dinsdag

George Harrison, die Beatle met die baard, het Here Comes the Sun in 1969 geskryf terwyl hy gefrustreerd was met al die korporatiewe drama by die Beatles se platemaatskappy Apple Records. Dis my gunsteling-treffer van die Beatles.

Woensdag

Jimmy Cliff se I Can See Clearly Now is oorspronklik deur Johnny Nash opgeneem, maar ek dink Jimmy se weergawe het ’n baie sterker somergevoel.

Donderdag

Ek was bevoorreg om die Beach Boys ’n paar jaar gelede in Kaapstad te ontmoet. Hul harmonieë is sonder weerga. Niemand kom naby hulle nie. Hier’s hulle Warmth of the Sun.

Vrydag

Dié 1999-hervermenging deur Funkstar deluxe van Bob Marley se 1971-liedjie Sun is Shining is die perfekte noot om die naweek op te begin. Gelukkig Vrydag!

- Ian Bredenkamp

Ian Bredenkamp Ian Bredenkamp is gek oor musiek! Hy bied ’n daaglikse program op 94.5 Kfm aan en behartig musieknuus vir 567 Cape Talk en Eyewitness News. Volg hom op Twitter by @IanBredenkamp.

Luister na Ian se vorige liedjie-aanbevelings by:

23 Augustus 2013

19 Augustus 2013

12 Augustus 2013

5 Augustus 2013

29 Julie 2013