Ons boekvraat is op soek na storieboeke vir die somervakansie, en hierdie vyf is boaan haar Engelse leeslys. Daar’s iets vir dié wat wil lag, vir vroue, ’n speurroman, ’n sielkundige riller en ’n plaaslike boek. ELKE jaar omtrent nou begin ek werk aan die lysie nuwe boeke wat boaan my vakansieleeslys moet kom. Dit sluit boeke in waarvoor ek al ’n ruk lank lus is, maar ek fynkam ook die aanbevelings van boeklyste, Twitter, goodreads.com en amazon.com om nuwe boeke op te spoor wat ek vir die vakansie opsy kan sit. Ek het ’n speurverhaal nodig, asook iets diepers, iets uit die gruwel-genre, iets ligs en chick-litterigs, en so aan. Gewoonlik maak ek ’n lys van omtrent 10. Hier is die eerste vyf.

My vakansie-chick-lit-boek

How to Fall in Love

How to Fall in Love

Skrywer Cecilia Ahern

Prys R279,57 by kalahari.com Ek is versot op Cecilia Ahern se oulike, warm stories waardeur daar altyd ’n towerdraadjie loop. My gunsteling is A Place Called Here oor Sandy, ’n meisie wie se klasmaat op skool vermis raak en van wie sy nie kan vergeet nie. As volwassene begin sy ’n agentskap wat vermiste mense opspoor. Terwyl sy aan ’n saak werk, raak sy self weg en beland op die plek waarheen vermiste dinge gaan, goed soos alleensokkies, knuffelspeelgoed, dagboeke, ander speelgoed en sommige vermiste mense. Nou moet sy haar pad terug huis toe vind. Ahern se nuwe boek is pas uit en gaan oor Christine, wat ’n vreemdeling, Adam, keer voor hy van ’n brug afspring. Hy stem in om homself nie dood te maak nie mits sy vir hom kan bewys dat die lewe die moeite werd is voor hy twee weke later 35 word. Hy moet weer verlief op sy eie lewe raak.

My vakansie-speurverhaal

The gods of guilt

The Gods of Guilt

Skrywer Michael Connelly Prys R197,95 Ek is mal oor Michael Connelly se boeke en het hierdie een vooruit bestel – dit kom in die eerste week van Desember uit. Twee van Connelly se bekende karakters is die speurder Harry Bosch en die prokureur Mickey Haller, wat elkeen hul eie reeks het maar partykeer in mekaar se boeke opduik. Dié boek is ’n Mickey Haller. Hy kry ’n SMS van ’n voormalige kliënt, ’n prostituut, wat by ’n moordsaak betrokke is en dit lyk of Mickey die rede vir haar penarie is. As jy die skrywer nog nie ken nie, begin met sy vroeëre boeke, of begin hier. Die boeke hoef nie in volgorde gelees te word nie, maar ek sou voorstel jy begin met The Lincoln Lawyer, die eerste Mickey Haller waarvan ook ’n fliek gemaak is met Matthew McConaughey as Mickey.

My vakansie-gruwelverhaal

the new girl

The New Girl

Skrywer S.L. Grey

Prys R130,79 by kalahari.com

Ek het hierdie boek, wat in Oktober verskyn het, op ’n vriendin se leeslys raakgeloop. Maar voor ek kon begin lees het ek besef dis die derde boek in ’n trilogie, die Downside-reeks. Ek was in my skik om te sien dis die werk van twee plaaslike skrywers, Sarah Lotz en Louis Greenberg, wat as S.L. Grey skryf. Eerste aan die beurt is The Mall, oor ’n onheilspellende onderwêreld by ’n inkopiesentrum waar Dan en Rhoda agterkom die hysbak loop nie net tot by die onderste verdieping nie. Die tweede een is The Ward, oor Lisa wat behep is met plastiese chirurgie en in ’n vreemde hospitaal beland wat die enigste plek is waar hulle bereid is om verder aan haar te sny. The New Girl handel oor gebeure by ’n privaat skool. Tara Marais help vrywillig in die biblioteek uit. Sy wil desperaat swanger word en omdat sy dit nie regkry nie, maak sy nagemaakte babas, oftewel poppe wat net so groot soos pasgebore babas is. Dan kry sy ’n grillerige opdrag: Ryan is ’n sinistere karakter wat as ’n nutsman by die skool werk en dan behep raak met ’n vreemde nuwe meisie. Heerlik grieselig!

My vakansie-riller

the silent wife

The Silent Wife

Skrywer A.S.A. Harrison Prys R184,63 by kalahari.com ’n Kollega het dié een aanbeveel en dit klink so goed dat ek dalk nie tot die vakansie sal kan uithou voor ek dit lees nie. Todd en Jodie is ’n welgestelde paartjie wat 20 jaar saam is. Hy is ’n reeks-egbreuker en sy ignoreer sy gewoontes – tot hy aankondig hy gaan haar verlaat. Dit word uit die perspektief van “hom” en “haar” vertel en hul storie eindig met ’n moord. Ek kan nie wag om my tande daarin te slaan nie.

My hardop-lag-vakansieboek

Mindy Kaling

Is Everyone Hanging Out Without Me? (and Other Concerns)

Skrywer Mindy Kaling

Prys R144,63 by kalahari.com

Die aktrise en komediant Mindy Kaling, wat in The Office was en nou haar eie TV-reeks het – The Mindy Project – is ’n baie snaakse vrou en ek kan nie wag om meer oor haar en haar snaakse blik op die lewe te lees nie. Ek wil natuurlik ook hê sy moet my beste vriendin word, maar ek sal maar met die boek tevrede moet wees. As jy Tina Fey se boek Bossypants lees, beveel die boek-webtuistes altyd aan dat jy hierdie een daarna lees, en ek sien mense wat dit gelees het sê dis baie moeilik om nie van die lag uit te bars as jy die boek op ’n openbare plek lees nie. En dis presies waarna ek op soek is.

  • Aanstaande Dinsdag (19 November)  ’n Afrikaanse vakansie-leeslys

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, lees, fliek en TV, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook ons TV-blog. Volg haar op twitter @NatalieCav.