PURE HEROINE LORDE

Die 17-jarige sangeres van Nieu-Seeland het ons met haar enkelsnittreffer, Royals, beïndruk. Haar debuutalbum toon selfs meer belofte. Dit gaan oor ontluikende liefde en Lorde se siening van roem en geld.

Alle lof aan Lorde, wat glo baie betrokke was by die album se produksie. Ons is nie mal oor al die liedjies nie, maar die meeste is goed en sy het ’n uitstekende talent vir liedjieskryf. Hierdie album sal 24/7 gespeel word.

Uitstaande: Ribs, Tennis Courts, Royals.

NOTHING WAS THE SAME DRAKE

Drizzy is reg om weer die koning van hip-hop te word! Hy is die enigste rapper wat Kanye West op sy tone gehad het, en ons kan sien waarom.

Die 27-jarige Kanadees se derde album het nommer een op die American Billboard 200-trefferlys behaal. Hulle noem hom nie verniet die “sensitiewe rapper” nie, en jy sal sy introspektiewe, sielsontblotende lirieke en selfvertroue óf haat óf gek wees daaroor. Dis sy beste album nog.

Uitstaande: Hold On We’re Going Home, All Me.

PRISM KATY PERRY

Die 29-jarige sangeres is mooi groot op haar vierde album. Weg is die kougompop van haar vorige album, Teenage Dream, wat vyf nommer een liedjies op die American Billboard Hot 100-lys gehad het.

Haar jongste skepping bevat alles van pop tot disco en pop-rock. Die lirieke is introspektief en sy maak selfs haar hart oop oor haar een jaar lange huwelik met die Britse komiese akteur Russel Brand in By the Grace of God – die openlikste snit op die album. Dis genoeg om haar op die trefferlys te hou.

Uitstaande: Dark Horse (met Juicy J), Unconditionally, Roar.

STAND LIKE GIANTS THE PARLOTONES

Die rockorkes van Jozi, wat ’n hele paar platinumalbums agter hul naam het, woon deesdae in Los Angeles. Hulle is terug met hul vyfde album en dis ’n goeie poging wat byval onder hul aanhangers sal vind.

Die album met sy 13 snitte gaan oor saamstaan en struikelblokke orkom. Dis alternatiewe rock op sy beste, en een van The Parletones se beste albums nog.  Hulle is volgende maand op toer in SA; moet dit nie misloop nie!

Uitstaande: Sleepwalker, Stand Like Giants, Slow Assassination.

THE 20/20 EXPERIENCE – 2 OF 2 JUSTIN TIMBERLAKE

Ons kon nie wag vir die langverwagte tweede deel van JT se trefferalbum, The 20/20 Experience, wat vroeër vanjaar uitgereik is nie. En ons is nie teleurgesteld nie!

Die Suit & Tie-sanger het albei albums se snitte op dieselfde tyd opgeneem, maar hierdie elf teruggehou. Tog klink hulle nie soos oorskietliedjies nie – hulle is funky en sout, en sal jou op jou voete hê. Beslis werd om na te luister.

Uitstaande: Take Back the Night, TKO, Gimme What I Don’t Know (I Want).