1 VAT DIE PAD  

Die buitelug laat jou altyd beter voel en genoeg oefening is die eerste stap om ’n lyf soos Serena van der Woodsen (Blake Lively) te kry!

Hei jy! se beste staproetes

Kaapstad

  •  Ceciliawoud: ’n Skaduryke, redelik maklike staptog van twee uur in die Constantianek-gebied.
  •  Leeukop: Een van die gewildste staproetes in Kaapstad. Dis ’n bietjie strawwer as Ceciliawoud, maar die uitsig is koel verby!

Durban

  •  Durban se promenade: Durban is bekend vir sy mooi strande. Gaan geniet dit op dié maklike wandelroete van 6 km.
  •  Krantzkloof-natuurreservaat: Die Molweni-staproete is 6 km lank en aan die onderpunt van die kloof is daar rotspoele om in te swem.

Johannesburg

  •  Dieretuinmeer: Gaan stap rustig om die meer of in die omliggende park.
  •  Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin, Roodepoort: Volg die twee uur lange wandelpad tot by die bopunt van die waterval en geniet die prentjiemooi uitsig.

As jy nie naby hierdie staproetes bly nie, gaan kyk op sahikes.co.za vir ’n roete naby jou.

Veiligheid eerste! Onthou, jy sal in die buitelug wees, so jy moet na jouself kyk. Pak baie water en sonblok en peuselhappies soos droëvrugte en neute in. Moet nooit alleen gaan stap nie, neem altyd ’n selfoon saam waarvan die battery ten volle gelaai is, bly op die paadjies en sorg dat iemand altyd weet waar jy is.

2 WORD ’N BOEKWURM

Ou gunstelinge  

  •  Die Harry Potter-reeks – J.K. Rowling
  •  Die Twilight-reeks – Stephenie Meyer
  •  The Hunger Games-trilogie – Suzanne Collins

 Ons top-5 vakansieboeke

  • His Dark Materials-trilogie, Philip Pullman – ’n Storie oor parallelle wêrelde en vriendskap. Die eerste boek is in die fliek The Golden Compass omskep.
  •  The Mortal Instruments-reeks, Cassandra Clare – As jy van denkbeeldige gediertes en toweragtige dinge hou, is dié boeke tops.
  •  Warm Bodies, Isaac Marion – Dié zombie-romanse is ook in ’n fliek omskep en is glo ’n Romeo & Juliet-verhaal met ’n kinkel . . .
  •  Pure, Julianna Baggott – Die eerste boek in ’n trilogie oor ’n post-apokaliptiese wêreld.
  •  Delirium, Lauren Oliver – Die verhaal van ’n samelewing wat glo liefde is ’n siekte en dat jy daarteen beskerm moet word – en ’n jong meisie se opstand daarteen. Dit is omskep in ’n reeks met Emma Roberts in die hoofrol!

Superkoel blogs

  • As jy hou van kos . . . Nick Normile (19) is dol oor kook: foodieatfifteen.blogspot.com.
  • As jy hou van mode . . . Tavi Gevinson, die 16-jarige koningin van tiener-bloggers, skryf al vandat sy 11 was oor mode. Gaan kyk na rookiemag.com.
  •  As jy hou van flieks . . . iscinemaobsessed.com die plek vir jou. Twee meisies deel hul liefde vir flieks en raak die snaaksste goed kwyt.
  •  As jy hou van musiek . . . By totallyawesomesong.com kan jy deel watter liedjies en musiekgroepe jou lewe verander het en oor ander mense se gunsteling-musiek lees.

3 WIKKEL DAAI LYF

Jy het seker al die jongste internetsensasie, die Harlem Shake-video’s, gesien? Hoekom kry jy nie ’n paar pelle bymekaar en maak jou eie een nie? Laai dit op die internet en kyk of mense daarvan hou. Jy word dalk die volgende internetster!

4 REEKS-AAND

Vat jul TV-kamer oor en hou ’n marathon-reeksaand saam met jou vriende. Stem vir jul gunsteling-reeks en kyk al die episodes agtermekaar.

Dit sal nie jou sak ruk nie – jy hoef net springmielies te kry en sal sakgeld spaar.

5 KRY GROEN VINGERS

Begin ’n groente- of kruietuin. Kyk hoeveel plek jy het om mee te werk en sorg dat die grond nie te sanderig is nie (jy sal dalk moet kunsmis inwerk). Gaan hoor by ’n kwekery hoe jy moet maak. Jy kan vir minder as R20 binne sowat drie maande jou eie tamaties eet!

6 BEOEFEN UBUNTU (EN PLUK DIE VRUGTE)

  •  Onthou, jou ma is waarskynlik nie met vakansie nie. Bied aan om vir die gesin aandete te kook. Sy is dalk so bly dat sy jou ’n uur later laat uitbly.
  •  Bied aan om jou bure se swembad skoon te maak. Hulle nooi jou dalk om by hulle te kom swem!
  •  Werk as ’n vrywilliger by ’n diereskuiling. Is daar ’n beter rede as ’n klein hondjie se asem?

7 VAT DIE OOND OOR

Onthou die twee k’s: koek en kolwyntjies. Njammies! Gaan kyk op Hei Jy! se Facebook-blad vir ’n heerlike, maklike resep.

8 GUNSIES VIR JOU GESIN

Bied aan om jou jonger broer of suster op te pas sodat jou ouers kan ontspan. Of verras jou ma en pa met ontbyt in die bed.

9 VERDIEN GELD Is jou sakgeld op? Probeer hierdie slim idees om ’n paar rand te maak.

& Gaan van deur tot deur en vra watse werkies jy kan doen. Bied aan om jou bure se motors te was. As jy goed is met tuinwerk, kan jy aanbied om hul grasperk te sny.

10 ERVAAR DIE WERKWÊRELD. Het jy al gewonder presies wat jou koel tannie of buurvrou elke dag by die werk doen? Vra of jy kan saamgaan! Jy sal sien waaroor dit gaan. En wie weet, jy vind dalk jou droomwerk.

11 HOU ’N PIENKIEK Nooi jou beste vriende, vat ’n kombers en oorskietkos uit die yskas en hou ’n piekniek in jou tuin (of in die huis as dit te koud is).

12 PARTYTJIETYD! Jy het nooit ’n rede nodig om ’n partytjie te hou nie. Nooi soveel vriende as waarvoor jou huis plek het (kry net eers jou ouers se toestemming!). Vra jou vriende moet eetgoed en koeldrank bring. En kies ’n tema – vra hulle byvoorbeeld om soos hul gunsteling-strokieskarakter, -superheld of -glansmens aan te trek.

13.OP DIE LOOPPLANK! Nooi ’n paar maats, vat genoeg klere, bykomstighede en skoene en hou jou eie modeparade. Trek jou broer of seunsvriende nader om hul lyf paparazzi te hou en foto’s te neem.

14 DOEN GRATIS INKOPIES Vra al jou vriende om die klere te bring waarvoor hulle moeg is en ruil met hulle. Jy kan oornag ’n heel nuwe klerekas hê!

15 MAAK ’N VERSAMEL-CD Dit kan ’n oulike geskenk vir jou beste vriendin wees – of vir daardie ou op wie jy ’n ogie het.

16 LEER NUWE VAARDIGHEDE Jy kan jouself so te sê enigiets leer doen deur te YouTube gebruik.

17 KNOOP EN DOOP Knoopdoop is nou weer hoogmode. Koop ’n bottel knoopdoop-kleursel (R288) en volg die aanwysings. En siedaar, jy het ’n koel nuwe T-hemp. INSERT PIC OF CELEB WEARING A COOL TIE-DIE SHIRT HERE

18 BORDSPELETJIES Maak dit pret en mededingend deur geld saam te gooi om ’n prys te koop wat die “kampioen” sal wen, soos ’n CD-koopbewys of fliekkaartjies.

19 SKENK Wanneer jy goed doen, voel jy goed. Pak al jou ou klere, skoene, speelgoed en CD’s in bokse en skenk dit vir ’n liefdadigheidsorganisasie.

20 BEDERF JOUSELF Maak rustig reg vir die nuwe kwartaal deur jouself op die laaste dag te bederf. Slaap laat, versorg jou hare en gee jouself ’n manikuur en pedikuur.

BRONNE: GETAWAY.CO.ZA, UNCOVERTHECAPE.CO.ZA, KIDSHEALTH.ORG, TASTE.COM.AU, GOODREADS.COM, SAHIKES.CO.ZA