Under the Dome is gebaseer op 'n boek van Stephen King

Is ek die enigste een wat dit nie kan weerstaan om te kyk watter reekse in Amerika begin om uit te vind wat ons kant toe kom nie? Daar is heelwat reekse wat belowend klink. Ek het ’n lys gemaak van die 10 waarvoor ek dink ons op die uitkyk moet wees en DStv het bevestig hulle het reeds nege van dié op die lys gekoop. Ek het nie werklikheidsreekse ingesluit nie en gehou by reekse wat nou in Amerika begin. Kyk wat jy dink van die lys hier onder. Lokprente is ingesluit om jou solank lus te maak.

Die een wat ek hoop ’n treffer sal wees: Under the Dome

Stephen King-boeke word óf skitterend óf baie sleg in rolprente omgeskep. Dit lyk of daar geen middeweg is nie. Maar ek koester reuse verwagtinge van hierdie een. Die boek was wonderlik en Steven Spielberg vervaardig die reeks. Hoe kan dit nou nie heerlik wees nie?

  • Die storie: Die dorpie Chester’s Mill word skielik deur ’n onsigbare koepel bedek wat die gemeenskap van die buitewêreld afsny en hulle het geen idee hoekom nie (dit klink soos die rolprent The Simpsons, maar ek twyfel of húlle hul pad sal uitkry). Die dorp het interessante mense met geheime, onder andere ’n grillerige tienerjarige aspirant-reeksmoordenaar en ’n aantreklike vreemdeling wat iets in die mou voer. Dít word alles eindelik veel interessanter as wat die koepel veroorsaak het . . .
  • Wie speel daarin? Britt Robertson van The Secret Circle en Rachelle Lefevre van die eerste twee Twilight-flieks.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het verlede week in Amerika begin en sal vanaf 26 Julie op DStv wees. Ek is baie lus om die spesiale Blu-ray-uitgawe te bestel.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=eusUHyZaBVs

The Bridge

Die een wat ek dink die koelste sal wees: The Bridge

Dis ’n nuwe weergawe van ’n suksesvolle Skandinawiese TV-reeks. Dit klink of dit die volgende The Killing kan wees en die uitvoerende vervaardiger van Homeland sit daaragter.

  • Die storie: Twee speurders, een van Amerika en een van Mexiko, moet saamwerk nadat ’n lyk gekry is op ’n brug wat deel vorm van die grens tussen die twee lande. Daar is ’n reeksmoordenaar, korrupsie en allerhande donker dinge.
  • Wie speel daarin? Diane Kruger (ja, dié aktrise verruil nou ook rolprente vir TV!).
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit begin op 10 Julie in Amerika en ons sal dit vanaf 11 Julie sien op Fox Crime (kanaal 126), een van DStv se nuwe kanale.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=_v9H-Rk0s4o

Ray Donovan

Die een wat soos die nuwe Sopranos klink: Ray Donovan

Die rolprentster Liev Schreiber vertolk die hoofrol en dit klink na ’n wenner. Hy speel ’n regmaker. Ons het reeds ’n wonderlike regmakerreeks op TV, maar hierdie een klink ewe goed, maar ek is seker Olivia Pope sal gaaf wees en ’n bietjie opsy staan. Die reeks klink egter meer na The Sopranos as The Fixer.

  • Die storie: Hy is ’n buierige regmaker wat allerhande probleme vir die rykes en beroemdes in Los Angeles uitstryk – dus sport- en rolprentsterre en nie Olivia se politieke mense nie. Intussen moet hy ook sy mal pa se vrylating uit die tronk, sy gekwelde broers en sy eie gesin hanteer.
  • Wie speel daarin? Jon Voight (Angelina Jolie se pa) en Elliott Gould (Friends) vertolk ander hoofrolle.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het in Junie in Amerika begin en ons sal dit van 6 Augustus op M-Net sien.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=r36OT6TsHOw

Devious Maids

Die een wat na pret klink: Devious Maids

Dis ’n aanbieding van Marc Cherry, wat Desperate Housewives geskep het, en Eva Longoria, wat in Desperate Housewives gespeel het. Dus behoort dit mos interessant te wees? Kom ons hoop so. Dit is op ’n Mexikaanse telenovelle gegrond en klink of dit heerlik stuitig sal wees.

  • Die storie: Vyf huiswerkers in die huise van die rykes en beroemdes in Beverly Hills sien en hoor allerhande goed. Die reeks begin waar een van die huiswerkers vermoor word. Dié laat ’n raaiselagtige nota agter en ’n nuwe huishulp daag op wat haar eie agenda het. Dis baie soos Desperate Housewives; daarom behoort dit pret te wees.
  • Wie speel daarin? Roselyn Sánchez (Without a Trace), Ana Ortiz (Ugly Betty), Dania Ramirez (Maya in Heroes), Judy Reyes (Scrubs) en Susan Lucci (All My Children).
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het einde Junie in Amerika begin en DStv het dit gekoop. Dus sal ons dit binnekort sien.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=lDH6_oDs-Qo

The Fosters

Die een wat my sal laat huil: The Fosters

Ek hou van ’n goeie familiedrama vol tranerige oomblikke en dié een klink belowend. Jennifer Lopez is die vervaardiger en dit lyk of dit ’n soortgelyke gevoel as The Secret Life of an American Teenager het. Dit het gemengde reaksie van resensente ontlok, maar klink na ’n sterk familiedrama wat gerus ’n kans gegun kan word.

  • Die storie: ’n Gay egpaar van gemengde ras en met ’n mengsel van biologiese, aangenome en pleegkinders stel hul huis vir ’n probleemtiener oop.
  • Wie speel daarin? Teri Polo van die Meet the Parents-flieks.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het begin Junie in Amerika afgeskop. DStv het dit gekoop, maar nog nie die kanaal of datum bevestig nie.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=ZKfsNWD-Zhs

Graceland

Die een met die mooi mense: Graceland

Ek het my bedenkinge oor hierdie een, want dit klink soos ’n misdaadbestryder-weergawe van Melrose Place. Maar ek sal dit ’n kans gee, want dit kan pret wees.

  • Die storie: ’n Groep geheime agente woon in dieselfde strandhuis – ’n pragplek wat in ’n klopjag gekonfiskeer is en wat die agente Graceland noem. Die storie begin waar ’n nuwe geheime agent intrek en dit lyk of hy iets in die mou voer.
  • Wie speel daarin? Daniel Sunjata van Rescue Me en Grey’s Anatomy en Vanessa Ferlito van CSI: New York.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het in Junie in Amerika begin. DStv het dit gekoop, maar nog geen besonderhede bekendgemaak nie.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=LkNQGroEozo

JES MACALLAN, YUNJIN KIM, ROCHELLE AYTES, ALYSSA MILANO

Die een wat ek bevrees is ek nie van sal hou nie: Mistresses

Ek is gaande oor Alyssa Milano en het uitgesien na die herskepping van die suksesvolle Britse reeks met dieselfde naam. Maar dit klink of dit veels te veel sepierig sal wees – en nie op ’n goeie manier nie. Maar ek is hoopvol; daarom is dit op die lys.

  • Die storie: Vier vriendinne hanteer verskillende dinge. Een sukkel om ’n baba by haar man te hê, een vry in die bondel, een is ’n psigiater wat ’n affair met ’n sterwende pasiënt het en een herstel ná die dood van haar man.
  • Wie speel daarin? Yunjin Kim van Lost en Jason George van Grey’s Anatomy vertolk ander hoofrolle.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het vroeg in Junie in Amerika begin en sal binnekort op een van die DStv-kanale vertoon word.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=nz3KEZf_wsY

Camp

Nog een wat na pret klink: Camp

Ek is ’n aanhanger van Rachel Griffiths van Brothers & Sisters en dis goed om te hoor sy sal weer by ons op die kassie te sien wees. Om haar onthalwe moet hierdie reeks in die sitkomstyl die paal haal. En met dié dat dit ’n skepping van die makers van Friday Night Lights is, koester ek groot verwagtinge.

  • Die storie: Die lief en leed by ’n somerkamp langs ’n meer wat deur ’n pas geskeide vrou bestuur word. Ons leer die beraders, kinders en ouers ken.
  • Wie speel daarin? Rachel en nog Australiese akteurs, want die reeks is Doer Onder verfilm.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit begin vroeg in Julie in Amerika. DStv het dit gekoop, maar daar is nog geen besonderhede beskikbaar nie.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=N3thbuDHG_0

King & Maxwell

Die een wat my skuldige plesiertjie kan word: King & Maxwell

Misdaadreekse vaar goed op TV, want die meeste van ons hou van ’n aand met CSI of iets soortgelyks. Dis ’n goeie teken vir hierdie program. Boonop het ek ’n sagte plek vir onpaar werkmaats met humor. Dus moet King & Maxwell asseblief tog goed wees.

  • Die storie: Sean King en Michelle Maxwell, voormalige agente van die geheime diens, stig saam ’n privaat ondersoekagentskap. Dis is op ’n boek deur David Baldacci gegrond.
  • Wie speel daarin? Jon Tenney van The Closer, Rebecca Romijn van X-Men en Ryan Hurst van Sons of Anarchy.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit het in Junie in Amerika begin en ons sal dit binnekort op een van die DStv-kanale sien.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=yVTLVnR-Elg&feature=player_embedded

CHLOE BENNET, ELIZABETH HENSTRIDGE, IAIN DE CAESTECKER, CLARK GREGG, MING-NA WEN, BRETT DALTON

Die een waaroor ek vreeslik opgewonde is: Marvel’s Agents of S.H.I.EL.D.

Dit word vervaardig deur Joss Whedon, die ou wat vir ons die TV-reekse Buffy the Vampire Slayer, Angel en Firefly, en die grootste rolprent van 2012, The Avengers, gebied het; daarom sal dit natuurlik suksesvol wees.

  • Die storie: Goed, ons het agent Coulson (Clark Gregg, wat vir my steeds die man van The New Adventures of Old Christine is) oënskynlik in The Avengers sien sterf, maar dit blyk hy leef nog en is die ster van hierdie program. Hy lei die S.H.I.E.L.D.-span wat bomenslike superhelde in die wêreld probeer opspoor – amper soos Heroes.
  • Wie speel daarin? Ming-Na Wen van ER is ’n S.H.I.E.L.D-agent en J. August Richards van Angel speel die een of ander superheld.
  • Wanneer sal ons dit sien? Dit begin in September in Amerika en DStv het nog nie gesê of hulle dit sal koop nie. Maar ek meen ons kan met veiligheid aanneem hulle sal. Ek sal julle laat weet die oomblik dat hulle dit bevestig.
  • Kyk die lokprent: http://www.youtube.com/watch?v=T3T-evQZiQo

- Natalie Cavernelis