Skakel die verwarmer aan, trek die duvet nader en krul op met een van die seisoen se lekkerste nuwe boeke. Hier is ons keuse. 1 Die een wat JK Rowling geskryf het

The Silkworm deur Robert Galbraith

Silkworm Robert Galbraith JK Rowling Ons het skaars van die opwinding herstel nadat ons gehoor het Harry Potter se beroemde skepper J.K. Rowling het ’n heerlike misdaadroman (The Cuckoo’s Calling) onder ’n skuilnaam geskryf, of die tweede boek in die reeks verskyn. Cormoran Strike, haar hemelbesem van ’n eenbeen-oorlogveteraan-privaat speurder en sy helper Robin Ellacott is terug nadat hulle in die eerste boek die moord van ’n beroemde model opgelos het. Dié slag ondersoek hulle die grusame moord op ’n knorrige en nogal venynige skrywer wat heeltemal te veel vyande gehad het. Dis ’n goeie outydse speurroman wat jou tot op die laaste bladsy geboei sal hou. Tensy speurromans natuurlik nie jou ding is nie – dan moet jy maar aanbeweeg na no. 2 hieronder. Koop dit hier 2 Die een wat nie ’n riller of ’n griller is nie

Mr Mercedes deur Stephen King

Stephen King Mr Mercedes Natalie Cavernelis Die griller- en fantasieskrywer Stephen King het ’n ander genre aangedurf en ’n spanningsverhaal geskryf wat baie hoog staan op die lys boeke wat ek dié maand wil lees. Eers moet ek bely dat ek versot is op mnr. King en alles wat hy neerpen, en van sy beste boeke is in elk geval nie bonatuurlike grillers nie – dink byvoorbeeld aan Misery, oor ’n skrywer wat deur ’n mal aanhanger gevange gehou word. In dié een jaag ’n waansinnige man met sy Mercedes-Benz tussen ’n skare mense in en dood en wond ’n hele klomp van hulle. Die ondersoekende polisieman het intussen afgetree, maar dit pla hom steeds dat hy nie die saak kon oplos nie. Dan ontvang hy ’n brief, blykbaar van die moordenaar, wat hom daaroor uittart. En so begin die agtervolgery van voor af. Hmm, miskien moet ek dié een nog verder met my lysie opskuif . . . Koop dit hier 3 Die een wat ’n riller en ’n griller is

Broken Monsters deur Lauren Beukes

Broken monsters Lauren Beukes Natalie Cavernelis Die Kaapse skrywer Lauren Beukes het verlede jaar ons hare laat orent staan met The Shining Girls (voeg dit by jou lys as jy dit nog nie gelees het nie). Dis uit alle oorde lof toegeswaai en die TV-regte is opgeraap deur Leonardo DiCaprio. Verwag dus nog ’n vreesaanjaende ervaring met haar nuwe riller/griller Broken Monsters, wat in Detroit afspeel. Speurder Gabi Versado jag monsters en het al ’n rits bose dinge gesien, maar haar nuwe saak is angswekkend anders: ’n reeksmoordenaar wat daarvan droom om die wêreld “met geweld oor te maak”. En terwyl sy by die werk is, flankeer haar tienerdogter aanlyn met ’n pedofiel . . . Dit klink soos die soort boek wat ek met die ligte aan sal lees en elke geluid sal klink soos ’n regte reeksmoordenaar wat probeer inbreek. Maar elke leeslys het mos ’n goeie bangmaakstorie ook nodig. Koop dit hier 4 Die een oor ’n seun en ’n roomyskarretjie en iets ontstellends

We are Called to Rise deur Laura McBride

We are called to rise Laura McBride Natalie Cavernelis Ek het ’n paar weke gelede ’n voorsmakie van dié boek gekry en wou so graag aanhou lees, maar ek moes tot my irritasie wag dat dit amptelik verskyn. En nou is dit eindelik uit! Dit speel af in Las Vegas en die storie word vertel uit die oogpunt van ’n klompie karakters wie se lewe met mekaar verweef raak. Die storie skop af wanneer Bashkim, ’n agtjarige seuntjie wie se Albaniese gesin met die hulp van ’n roomyskarretjie probeer oorleef, as deel van ’n penmaatprojek ’n brief skryf aan Luis, ’n getraumatiseerde Amerikaanse soldaat in Irak. Die antwoord wat hy terugkry trek die lewe van die seuntjie, die soldaat, ’n huisvrou wie se huwelik op die rotse is en ’n advokaat saam. Die boek het uitstekende resensies gekry en ek sal in elk geval nie iets aanbeveel wat nie die potensiaal het om ongelooflik te wees nie. Koop dit hier 5 Die een met ’n boeiende geheim

Elizabeth is Missing deur Emma Healey

Elizabeth is missing Emma Healy Natalie Cavernelis

Hoe nader haar 90ste verjaardag kom, hoe vergeetagtiger raak Maud. Sy kan nie meer onthou wat sy gekoop het of wie haar dogter is nie, maar sy is oortuig dat haar vriendin Elizabeth verdwyn het, al het sy skoon vergeet dat sy dit al meer as een keer by die polisie aangemeld het. Maud tel ’n poeierdosie in haar tuin op wat haar nog meer bekommerd oor Elizabeth maak en haar laat terugdink aan haar kindertyd net ná die Tweede Wêreldoorlog in Londen, toe haar suster Sukey verdwyn het. Is daar ’n verwantskap tussen die twee vermiste vroue en is Elizabeth regtig vermis? Die onbetroubaarheid van Maud as die verteller gee dié speurverhaal ’n interessante kinkel en op die voorblad verskyn dié wonderlike reël: “How do you solve a mystery when you can’t remember the clues?” Ek dink ons gaan van dié een hou! Koop dit hier 6 Die een oor Nelson Mandela

Good Morning, Mr Mandela deur Zelda la Grange

Good morning mr mandela Zelda la Grange Natalie Cavernelis Van dié een het jy sekerlik al gehoor en die resensies was goed; kom ons voeg dit dus by ons winterleeslys. Zelda la Grange, wat 19 jaar lank wyle oudpres. Nelson Mandela se regterhand was, deel haar gedagtes en stories oor haar tyd saam met dié verstommende man en die lesse wat sy geleer het deur hom dop te hou en na hom te luister. Ek kan seker nou ophou tik want ons moet dit net lees (die sagteband verskyn vandeesweek). Koop dit hier 7 Die een oor familiegeheime

The Vacationers deur Emma Straub

The vacationers emma straub natalie cavernelis Dis Jim en Franny se 35ste huweliksherdenking, hul dogter Sylvia het pas met skool klaargemaak en hulle vier dit almal deur vakansie te gaan hou saam met hul seun, Bobby, en sy meisie, asook Franny se vriend Charles en sy man. Nadat hulle op die Spaanse eiland Majorka aangeland het, begin geheime oral uitpeul en verhoudings word aangetas. Resensies sê daar is humor in die boek en ek lees tog te graag oor ander mense se vakansies, so laat die afloerdery begin! Koop dit hier 8 Die een oor ’n geheimsinnige seun

Boy21 deur Matthew Quick

Boy21 Matthew Quick Natalie Cavernelis Dis deur die skrywer van Silver Linings Playbook, waarop die bekroonde fliek met Jennifer Lawrence en Bradley Cooper gegrond is. Boy21 handel oor Finley, wat lewe vir basketbal en sy plek in die hoërskool-basketbalspan. Dit hou hom aan die gang wanneer die res van sy lewe hom wil oorweldig. Alles verander as die gekwelde Russ opdaag, wat verkies om Boy21 genoem te word. Hy is een van die beste hoërskool-basketbalspelers in die land en sê hy kom van die buitenste ruimte. Vreemd genoeg raak die twee bevriend en begin mekaar se lewe verander. Maar daar skuil meer in Russ as wat ons weet en waarom dink hy hy kom uit die ruimte? Dit klink alles baie interessant. Koop dit hier 9 Die een oor tieners, die liefde en trane

The Fault in Our Stars deur John Green

Fault in our stars John Green Natalie Cavernelis Goed, dis nie nuut nie (dit het al in 2012 verskyn) maar die fliek wat op dié boek vir jong volwassenes gegrond is, draai op die oomblik in bioskope. Plus elke leeslys moet tog ’n boek bevat wat jou laat huil . . . Hazel (16) het klier- en longkanker en woon teensinnig ’n steungroep-byeenkoms by waar sy die voormalige basketbakspeler Augustus (17) ontmoet. Hy het sy been weens kanker verloor. Die tweetjies raak verlief en wys hulle is veel meer as net mense wat kanker oorleef. Die storie is dierbaar en snaaks en slim en hartseer. Dis eenvoudig net wonderlik. Koop dit hier 10 Die een oor hekse en vampiere wat nie glinster nie

The Book of Life deur Deborah Harkness

HekseDis die laaste boek in ’n trilogie en pas dus nie heeltemal hier nie, maar dis boaan my eie leeslys so ek moet dit deel. Dis vir almal wat hou van ’n fantasieverhaal met hekse en vampiere en tydreise wat William Shakespeare betrek, en as jy nie die eerste twee gelees het nie, is ek jaloers op jou want jy kan wegspring met nommer een, A Discovery of Witches. In boek een ontmoet ons Diana, ’n akademikus by die Oxford-universiteit en ’n magtige heks wat teen haar heksheid baklei. Sy slaan ’n antieke alchemieboek oop wat towerkuns uitstraal. Dit lok ander magiese skepsels na Oxford, onder andere vir Matthew, ’n vampier en ook ’n pragstuk van ’n man, en dan word dinge verskriklik gevaarlik. Nou moet ek versigtig wees om nie die storie te verklap nie, maar Matthew en Diana moet uitwerk wat haar verbintenis met die antieke boek is en waarom almal dit wil hê.

In boek twee, Shadow of Night, reis hulle in die tyd terug. In boek drie moet hulle allerhande dinge uitwerk en maak almal reg vir ’n enorme finale konfrontasie. Ek kan nie wag nie.

Koop A Discovery of Witches (boek 1) hier

Koop Shadow of Night (boek 2) hier

Koop The Book of Life (boek 3) hier

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is  eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Volg haar op twitter@NatalieCav.