Ons TV-blogger is versot op die werklikheidsreeks So You Think You Can Dance. Hier is haar gunstelinge.

[caption id="attachment_47447" align="alignnone" width="640"]Cole en Eliana in seisoen 9 van So You Think You Can Dance. Cole en Eliana in seisoen 9 van So You Think You Can Dance.[/caption]

AS ’N mens na So You Think You Can Dance kyk, is jy altyd verstom om danse te sien wat eintlik menslik nie moontlik behoort te wees nie, of om uit te werk hoe so baie emosie in so ’n kort roetine oorgedra kan word.

Ek is gek oor So You Think You Can Dance en ek hoop jy kyk ook daarna, want die talent is ongelooflik en ek is seker selfs mense wat nie van dans hou nie, se mond sal oophang. Dis ook lekker dat ’n mens dikwels nuwe sangers of ander musici op die program hoor en dan moet jy hulle gou eers gaan YouTube – danksy dié program het ek byvoorbeeld die wonderlike Ierse sangeres Róisín Murphy ontdek.

Ek het seisoen nege van So You Think You Can Dance (SYTYCD) misgeloop toe dit die eerste keer op DStv uitgesaai is, en daarom was ek in die wolke oor die heruitsending (ja, ja, ek weet heruitsendings is ’n vloekwoord as mense oor DStv praat, maar ek vind hulle ontsaglik waardevol.)

Ek het ’n punt daarvan gemaak om nie vooraf uit te vind wie dié seisoen wen nie en dit was nie maklik nie, hoor. Ek wil ook my gunstelinge kies in Vegas Week, wat vir my na ’n besoek aan danshel lyk soos die dansers dit om ’n plek in die program uitspook.

Ek is mal oor Cole, die gevegskunsdanser, die ballerina Amelia en Eliana, die kontemporêre danser. My vroeë gunsteling van die seisoen tot dusver is Cole se paso doble saam met Lindsay – gaan kyk hier as jy dit ook misgeloop het of die program nog nooit gesien het nie.

En dit het my laat dink aan vorige programme en gelei tot ’n lang lys van my top-10 uitvoerings, wat ek hieronder deel. Ek het YouTube-skakels bygevoeg sodat jy dit ook kan geniet as jy dit nie ken nie of weer daardeur geboei wil word.

Vir nuwelinge: Die program behels ’n top-20 – 10 mans en 10 vroue – wat elke week in pare ’n gechoreografeerde dans moet uitvoer, of dit nou hip-hop, jazz, kontemporêr, Bollywood, straatdanse of wat ook al is. Daar is elke week ook ’n groepuitvoering.

My TOP 10-ROETINES

1 Jamie en Hok se jazzballet-roetine The Hummingbird and the Flower in seisoen 3

Dis gechoreografeer deur Wade Robson en die musiek was The Chairman’s Walz uit Memoirs of a Geisha. Dit was geen verrassing dat Wade in 2008 ’n Emmy vir beste choreografie hiervoor gewen het nie. Ek was heeltemal betower, dit was so asemrowend mooi. Hok, ’n B-Boy-danser, was die kolibri (hummingbird), wat aangelok word deur die blom, wat deur Jamie gedans is.

2 Seisoen 2 se pop-jazz-zombiedans deur die top-20

Dis ook ’n Wade Robson-skepping op Róisín Murphy se liedjie Ramalama (Bang Bang). Wade het ook in 2007 ’n choreografie-Emmy daarmee gewen. Ek het hoendervleis gekry die oomblik toe die dansers by die trappe afkom met daardie losgewrig-zombiebewegings;  dis ’n roetine wat ’n mens oor en oor kan kyk sonder om moeg te word.

3 Travis en Heidi se The Bench-kontemporêre roetine in seisoen 2

Die briljante Mia Michaels het in 2007 ’n welverdiende Emmy vir beste choreografie daarvoor gewen (sy het dit met Wade gedeel). Ek kan nie na Calling You deur Celine Dion luister sonder om aan dié roetine te dink nie. En as ek dit kyk, trek my keel toe elke keer wanneer hulle deur die bank aan mekaar raak en wanneer Heidi in sy arms spring.

4 Robert en Allison se kontemporêre roetine in seisoen 7

Travis Wall, dieselfe Travis wat in die roetine hierbo gedans het, het dié ontroerende huldeblyk gechoreografeer aan sy ma wat met kanker gediagnoseer is. Dis die storie van ’n seun wat sy siek ma probeer help terwyl hulle op Coldplay se Fix You dans. Ai tog, hier trek my keel weer toe.

5 Mark en Chelsie se hip-hop-roetine in seisoen 4

Ek hou vreeslik baie van die aweregse Mark, wat op die oomblik een van Lady Gaga se agtergronddansers is en wat jy in ’n paar van haar musiekvideo’s sal bespeur. Chelsie is ’n gereelde deelnemer aan die Amerikaanse Dancing with the Stars. In dié roetine, wat op Leona Lewis se Bleeding Love deur Napoleon en Tabitha gechoreografeer is, is Chelsie ’n vrou wat probeer om Mark, haar werkslaaf-kêrel, by die huis te hou in ’n pragtige stadige hip-hop-dans.

6 Ellenore en Jakob se kontemporêre Tore my Heart-dans in seisoen 6

Ek is mal oor omtrent alles wat Sonya Tayeh choreografeer. Dié vrou  moet met ander oë as ons gewone sterflinge na die wêreld kyk, sy is soos ’n danserweergawe van die regisseur Tim Burton, en dié roetine is aweregs en koel. En die liedjie My Heart deur Oona en Dave Tweedie is net fantasties.

7 Brandon en Janette se popjazz-roetine in seisoen 5

Dis weer Wade Robson en nog musiek deur Róisín Murphy: haar liedjie Ruby Blue. Dis heerlik aweregs. Kyk hoe hulle op hul tone by die trappe afkom, en daardie prettige klein skoppies en die uitrustings met die groot ronde sonbrille rond ’n onheilig prettige dans wonderlik af.

8 Katee en Joshua se hip-hop-roetine in seisoen 4

Joshua (wat die seisoen wen) is ’n soldaat wat vir sy meisie vertel hy gaan terug oorlog toe op die klanke van No Air deur Jordin Sparks en Chris Brown en bewegings wat deur Napoleon en Tabitha uitgewerk is. Soveel emosie aan die einde wanneer hy uit sy hemp en sy daarin dans . . .

9 Neil en Sabra se jazz-roetine in seisoen 3

Dis geen verrassing dat Sabra ná hierdie roetine die seisoen gewen het nie. Sy het regtig in die karakter geklim van ’n vooraanstaande paartjie in die 1980’s wat rond en onder en bo-oor ’n tafel dans op die klanke van Sweet Dreams deur Eurythmics. En Mandy Moore is op die Emmy-aand net uitgestof deur Wade Robson se kolibri-en-blomdans.

10 Alex en Allison se kontemporêre roetine in seisoen 7

Hallelujah deur Jeff Buckley is al klaar ’n lieflike liedjie en as dit by ’n Sonya Tayeh-roetine gevoeg word, is dit emosionele betowering. Die balletdanser Alex is eenvoudig fenomenaal. Ongelukkig mag ons nie hierdie video na die blog oorplaas nie, maar gaan kyk dit gerus hier:

http://www.youtube.com/watch?v=zWu4KYJZxk4

* So You Think You Can Dance word weekdae uitgesaai op M-Net Series Reality om 22:30.

- Natalie Cavernelis

 Lees Natalie se ander TV-blogs:

8 nuwe reekse op pad

Die Emmys, The Fixer en dié wat beroof is . . .

Ontmoet my TV-mans

TV-paartjies wat bymekaar moet uitkom

10 nuwe TV-reekse!

Kyk! Die meisie van My Girl het grootgeword

Wat ’n woeste Game of Thrones!

TV se stylvolste karakters

Watter ander ouers is moeg vir Barney?

Dierbare Emily

The Fixer se koel klere

Is dit net ek?