Komedie.

Met Vince Vaughn, Kevin James, Winona Ryder en Jennifer Connelly.

Regisseur: Ron Howard.

13STG.

Begin op 21 Maart.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Twee beste vriende beland in ’n netelige situasie nadat die een uitvind dat die ander se vrou hom verneuk.

Wie sal hiervan hou?

Veral manne wat voel dat rolprente die vriendskap tussen twee bloedbroers afgeskeep het. Gewoonlik spot Hollywood daarmee soos in Adam Sandler se Grown Ups.

Maar dié slag, met ’n sterk regisseur soos Ron Howard, verander ’n doodgewone rolprent oor ontrouheid in ’n boksgeveg van manlike temperamente.

Hierdie manne sal vir mekaar deur vuur loop, maar is nie gereed om verantwoordelikheid te neem vir die emosies wat saam met vriendskap kom nie. Dis tyd om groot te word ná 20 jaar se rondjol.

The Dilemma begin aanvanklik as ’n swart komedie waarin twee beste vriende probeer om die daaglikse katastrofes van die lewe te oorleef. Maar gaandeweg verdiep dit toe Winona Ryder as Geneva ’n aantreklike vleispaleis (Tatum) soen – en Ronny (Vaughn) dit sien.

Verhoudings, vriendskappe en die aard van eerlikheid word intens ondersoek – aanvanklik met ’n skewe, straatslim grinnik, maar later met dodelike erns.

Wat die rolprent verder ophef, is die verrassende sober spel van twee akteurs wat gewoonlik oppervlakkige komedies aanpak wat vir hul karakters lag, maar wat dié slag netjies afgeronde vertolkings lewer en meer as een dimensie aan hul rolle gee.

The Dilemma is net die ding vir manne wat lus is vir ’n fliek wat broederskap met respek behandel. Dis soos Fight Club sonder die bloed. En Channing Tatum se losbolspel is ’n hoogtepunt.

Soortgelyke flieks

Swingers, Due Date, Grown Ups.

Springmieliefeit

Jennifer Garner sou eers die vroulike hoofrol gespeel het, maar toe kry Jennifer Connelly dit.