Flambojante feeste via ’n Olimpiese spiertier. Zavion vrek oor goud: of dit nou as glansfunksie-koördineerder of tienkamp-atleet is.

Die kameras probeer byhou terwyl Zavion sy besige dagboek tussen troues en tienkamp balanseer.

[post-slider]

Hoekom het jy ’n glansfunksiekoördineerder geword?

Ek was nog altyd kreatief, en toe my ouers ’n troue-venue begin bou, het ek geweet dís wat ek wil doen. Ek het gevorder van messelaar en kelner tot koördineer, en daarna het ek eindelik my eie trouebeplanningsmaatskappy en bloemiste begin.

Ek moet sê, ek is dol oor die druk en die rush wat ’n mens in my bedryf kry. Elke dag is opwindend, en ek is mal oor wat ek doen.

Wat is die vinnigste wat jy al ’n troue moes beplan?

Ek het ’n troue gereël vir kliënte wat moes emigreer. Ek het drie weke gehad om die hele troue te beplan en uit te voer. Nodeloos om te sê, ons het dit reggekry en hulle is steeds gelukkig getroud. Ek is mal daaroor om dinge onder druk te doen, want dis wanneer ek regtig perform.

Wat is die geheim vir ’n stresvrye troue?

Kies verskaffers wat by jou persoonlikheid pas en sal kan voldoen aan jou visie van die volmaakte troudag – en maak seker jy bespreek hulle vroegtydig.

Enige wenke vir paartjies wat hul eie troue beplan, maar nie weet waar om te begin nie?

Die heel eerste ding wat jy moet doen is om jou venue, fotograaf en videograaf te bespreek. Die res sal alles in plek val. Maar my raad? Bel my.

Wat is die troueneigings die somer?

Ek hou altyd daarvan om trends vooruit te wees en my kliënte die beste raad te gee. As ’n mens na die res van die wêreld kyk, lyk dit of ’n meer klassieke of moderne bruid in is en die quirky en whimsical bruid uit is. Ek dink die kleurpalet gaan oorheers word deur swart, wit en roosgoud, en die klassieke look, gaan groot wees.

En verder in die toekoms? Wat is dan die volgende groot troueneiging op die horison?

Blinkers! Goud en roosgoud gaan hoogmode wees.

Watter tradisies by troues dink jy is oudmodies en moet liefs waai?

Tradisies is wat troues maak, en ek is mal oor elke liewe een. Hulle kan bly solank mense hulself gedra.

Hoe sou jou eie groot dag lyk?

Mmm . . . Ons sal maar moet wag en sien. Al wat ek kan sê is: mind-blowing!

Enige maltraptroudagstories wat jy met ons kan deel?

Ontelbaar baie! Miskien moet ek ’n boek skryf. Ek sal vir almal skuilname moet gee; laat ons liefs nie name and shame nie.

Jy oefen tans om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Vertel ons oor jou planne.

Ja! Die plan is om te kwalifiseer en ek het tot einde Junie volgende jaar om dit te doen. Die Suid-Afrikaanse Kampioenskapsbyeenkoms word in April gehou, en ek wil dit dan regkry. Ek werk nou aan my krag, tegniek en fiksheid. Van volgende jaar af begin ek soos ’n Olimpiër oefen.

Volg jy ’n spesifieke oefen- en eetplan?

Ja, ek is mal oor oefen. Die probleem is ek is ook mal oor eet. Die eetplan is dus maar moeilik om te volg, maar ek gaan deurdruk! Ek oefen drie keer per dag en dit sluit gewoonlik gim, baanatletiek en paalspring in.

Hoekom moet mense op Zavion inskakel? Wat kan kykers verwag?

Die program gaan oor my lewe en wat ek doen. Stel jou voor: ek hardloop met ’n bos blomme in my hand, my pa skree ek moet vinniger hardloop en ’n bruid smeek my dat sy peonies (pinksterrose) vir haar troue soek. Dit gaan awesome wees.

Enige snaakse agter-die-skerms-stories wat jy met ons kan deel?

Ek is super random en sal gereeld met liedjies en danspassies lostrek. My Tina Turner-nabootsing laat mense skaterlag. Ek skeer ook graag die gek. Gelukkig is dit alles op kamera vasgevang!

Bieg: wat is jou guilty pleasures?

Enigiets wat ek nie veronderstel is om te eet nie! Cupcakes, spek en soesji – al drie saam sou ook fantasties wees!

’n Nuwe episode van Zavion word elke Dinsdag om 18:00 op VIA uitgesaai.