Plaaslike gebruikers van ShowMax sal self agt programme kan geniet. Local was nog nooit só lekker nie.

Die programme wat op ShowMax verskyn wentel om kos, styl en verhoudings. Kykers kan uitsien na die eerste drie seisoene van die ongewone reisprogram (1) Vrydag 4 uur, die eerste twee seisoene van (2) Pasgetroud en die eerste twee seisoene van die koel kosreeks (3) Padkos.

Dan is daar ook al die episodes van die gewilde geselsprogram (4) Driekuns waarin drie bekendes wat in dieselfde veld uitblink oor hul loopbane gesels sowel as die eerste drie seisoene van (5) Halfuur met Hanlie, 'n kletsprogram met 'n verskil.

Izelle Venter, VIA se kanaalhoof, sê hierdie gewilde leefstylkanaal en ShowMax is goeie pasmaats. "Ons albei is jong, vars platforms wat gehore op nuwe maniere wil vermaak. Ons glo ShowMax sal nog 'n plek wees waar mense wat lief is vir eg Suid-Afrikaanse leefstylvermaak ons sal vind. VIA is een van Afrikaanse DStv-kykers se gunsteling-leefstylkanale. Dit is daarom gepas dat ons op die vooraand van ons eerste verjaarsdag nog 'n platform betree."

VIA se geliefde maatsoekprogram, (6) Die Kliek, se eerste drie seisoene sal ook op ShowMax beskikbaar wees. In (7) Op Pad Met Dana reis die gelyknamige skrywer Dana Snyman die land plat op soek na stories van hoop. Die eerste seisoen van die trefferreeks (8) Brood en Botter met die supersjef Bertus Basson kan ook geniet word.

En as jy oorsee woon, is VIA se gewildste program (9) Kom Ons Braai se eerste drie seisoene ook beskikbaar. In hierdie program kuier onbekendes oor en weer om te sien wie as die braaikoning van die episode gekroon word.

In Suid-Afrika kos ShowMax R99 per maand en aan ons buitelandse burgers, $8.99USD. Jy kan jou gunsteling-programme op enige rekenaar, slimfoon, tablet en slim-TV’s kyk.