Walter van Follicle Hair is besig om die model Cecile Brits se hare in ’n bruidstyl te stilleer tydens ’n fotosessie vir Diaan se nuwe trourok-reeks.

Walter se wenke

• As jy jou hare wil kleur, moet jou haarstilis dit ten minste 10 dae voor jou troudag kleur. Dit gee die kleur tyd om te versag en dit gee jou kans om veranderings te maak indien dit nodig is. 
• Gaan vir ’n behoorlike haarsalon-behandeling ’n week voor jou troudag sodat jou hare in die beste toestand is. 
• Net soos met jou grimering moet jy vir ’n proeflopie gaan met jou hare. Die beste tyd hiervoor sou wees met jou laaste aanpas van jou rok. So kan jy die hele prentjie sien.  
• Indien moontlik, was jou hare die aand voor jou troudag en nie op die dag nie. Laat dit natuurlik droogword sodat jou haarstilis dit kan manipuleer in die styl wat jy graag wil hê. Dit sal ook help dat jou hare langer in die styl bly. 
• Jou haarstilis moet jou strooimeisies wys hoe om jou sluier af te haal. Hulle moet ook ’n noodsakkie met knippies en haarsproei byderhand hê. 
• Dit is moontlik om twee haarstyle op jou troudag te hê as jy dit mooi beplan. Jou eerste haarstyl kan ’n op-styl wees en die tweede styl kan los hare wees waar jy ’n gedeelte van jou hare losmaak vir ’n meer romantiese gevoel by jou onthaal.  
• Wat haarverlengings betref is daar twee opsies: Jy kan tydelike aanknip-haarverlengings insit wat jy maklik ná jou troudag kan uithaal of permanente haarverlengings wat jy ’n ruk daarna kan inhou.  

Haarbykomstighede hang af van die bruid se persoonlikheid, die trourok of die tema van die troue. Jy wil nie onnodige aandag op die haarbykomstighede plaas nie, maar eerder op die hare self wat die rok aanvul. Moet ook nie jou eie hare probeer doen of jou strooimeisie vra nie – bestee daardie bietjie ekstra en laat ’n professionele mens jou hare vir hierdie dag doen.

Van asemrowende troues, hare en grimering – tot volgende week!