.

[post-slider]

Waar kom jou liefde vir kos en kos maak vandaan?

Ek het op ’n plaas grootgeword waar ons met die varsste bestanddele omring was. Tot vandag toe kan ek nog nie ’n perske in die winkel koop nie. Al die oormaat is verwerk, ingelê, van konfyt gekook, botter gekarring, geslag en daar is weekliks brood gebak – nog met ’n aartappelplantjie.

Ons het uit die groentetuin geëet en naweke, wanneer ons van die koshuis by die huis was, het my ma altyd gesorg dat daar allerhande lekkernye van sjokoladekoek tot koeksisters was. Hier teen matriek moes ek en my tweelingsuster op Sondae regstaan met die ete. Op universiteit moes ek kies tussen my liefde vir syfers en vir kos.

Wat is jou kosmaakmantra?

Proe, proe, proe.

Watter bestanddele sal altyd in jou kombuis wees?

Suurlemoen, neute, sade en koljanderblare.

Wat is die beste kosmaakraad wat jy nog ontvang het?

Om binne geurprofielbane te kook.

Wat maak Jy het ’n Wenresep! anders as ander kosprogramme?

Ons kyk nie soseer na die kookvernuf van die deelnemer nie; dit gaan meer oor of die resep voldoen aan die kriteria wat gestel word.

Wat is jou nommereenwenk aan Wenresep!-deelnemers?

Maak seker jy het die kriteria waaraan ’n wenresep moet voldoen goed deurgegaan.

Wat soek jy in ’n wenresep?

Ek werk op ’n vyfsterstelsel. Die resepte moet vinnig en veelsydig wees, en die bestanddele moet vars, bekostigbaar en toeganklik wees. Gesonde geregte kry ook ’n ster. Dan is daar ’n ster vir vernuwing en natuurlik ook een vir smaak.

En wat maak ’n gereg dadelik ’n “verloorresep”?

Een wat ooglopend ongesond is weens te veel suiker of botter of een wat te veel bestanddele bevat.

Enige wenwenke vir ’n kombuisleek wat ’n feesmaal wil optower, maar nie weet waar om te begin nie?

Kry vir jou ’n betroubare resepteboek (soos Wenresepte) waar jy basiese tegnieke kan leer sonder intimiderende metodes en bestanddele.

Wat is die grootste flop wat jy nog in die kombuis gemaak het?

Ek is nie een vir suikerkook nie, so spinsuiker sal altyd vir my ’n uitdaging bly.

’n Nuwe episode van Jy het ’n Wenresep! word elke Woensdag om 16:00 op VIA uitgesaai.