Karen en Bertus Kapp 

Karen en Bertus Kapp

Karamelkluitjies
Bestanddele  

1½ koppie koekmeel
1 teelepel bakpoeier
1 knippie sout
½  koppie botter
½ koppie gekapte okkerneute
200 ml melk
Karamelsous
Bestanddele
1½ koppie buinsuiker
2 eetlepels botter
500 ml kookwater
1 knippie sout

Metode

Sif die droë bestanddele saam. Vryf die botter en neute by die meelmengsel in en maak dit aan met die melk. Dit sal ’n sagte deeg vorm.  Sit eenkant. Maak nou die karamelsous.  Spuit ’n groot kastrol met ’n kleefvrye middel. Smelt die suiker net so droog in die kastrol en roer dit totdat dit karamelkleurig raak. Voeg die botter by. Voeg die kookwater stadig by en roer dit totdat die karamel smelt. Wees bewus dat dit kan spat. Voeg die sout by. Skep lepels vol deeg in die gesmelte karamel. Sit die deksel op en laat dit vir 12 minute oor baie sagte kole kook. Sit voor saam met room, vla of roomys.

Kaas-knoffelsous
Bestanddele

250 ml room
1 sopie whiskey
250 ml cheddar (meer, as jy verkies)
Aromat
1 teelepel botter
2 teelepels fyngekapte knoffel (meer, as jy verkies)

Metode

Plaas al die bestanddele in ’n mengbeker. Sit dit een minuut lank in ’n mikrogolfoond.
Gebruik ’n handklitser en klits die mengsel tot dit mooi egalig en romerig is.
Plaas dit in ’n mikrogolfoond vir  een minuut lank.
Klits weer tot die sous gesmelt en gaar is en ’n lekker dik tekstuur het. 

Karen en Bertus se kos.

Bloukaas-WodkaSous
Bestanddele

250 ml room
bloukaas na smaak (2 teelepels)
’n bietjie (½  koppie) cheddarkaas 
1 sopie wodka
1 teelepel botter
’n klein bietjie Aromat vir kleur

Metode 

Plaas al die bestanddele in ’n mengbeker. 
Verhit een minuut lank in mikrogolf. 
Gebruik ’n handklitser en klits die mengsel tot mooi egalig en romerig.
Sit weer een minuut lank in die mikrogolfoond. 
Herhaal die klitsproses tot die sous gesmelt en gaar is. 

T-Been
Bestanddele 

600-800 g T-beenskyf
braaisout
roosmaryn

Metode 

Sny die vleis teen die been af. Maak seker dat dit so amper 80% deur die vleis aan die lendeskyf- en filletkant asook teen die “T”. 
Sny oortollige vet af en  sny aan die lendeskyfkant  ’n vertikale sny deur die vet tot op die sening. 
Sprinkel braaisout, gemaalde peper en ’n klein bietjie roosmaryn aan die buitekante van die T-been. 
Braai na smaak.
 

CHRIS NIEUWOUDT & MICHELLE VAN RENSBURG

Chris en Michelle.

“U-Nick-e”-taaisous
Bestanddele

1,1 liter blatjang 
125 ml worcestersous
700 ml tamatiesous
2 eetlepels bruinsuiker
2 eetlepels appelkooskonfyt
Metode 
Kook al die bestanddele saam vir 30 minute en laat dit afkoel.  
Varkrib in taaisous
Bestanddele 
varkrib
marinade

Metode 

Kook die varkrib op die stoof vir 10-15 minute. Verwyder van die stoof. Marineer die varkrib albei kante wanneer die rib op die rooster gaan. Smeer marinade op die rib elke keer dat die rib omgedraai word. Verwyder van die rooster wanneer dit lekker gaar is.  

Skaap-in-varksklere-sosaties
Bestanddele 

sosatiestokkies
boudtjops
spekrepies
groen soetrissie
geel soetrissie
rooi soetrissie
rooi uie
wit uie
“U-Nick-e”-taaisous
sampioene

Metode

Sny die boudtjops in blokkies en draai een spekrepie om elke blokkie, en plaas in plat bak. Meng ’n bietjie U-Nick-e-sous deur die voorbereide vleisporsies. Sny die groen, rooi en geel soetrissies in lekker groot blokke. Die rooi en wit ui moet in kwarte gesny word en die lae geskei word. Sny of breek die steeltjies van die sampioene af, anders breek die sampioene maklik op die stokkie. Begin met ’n vleisporsie, gevolg deur ’n snytjie uie, ’n stukkie soetrissie en sampioene. Herhaal en gebruik elke keer ’n ander kleur soetrissie om dit mooi kleurvol te maak. Braai op rooster na smaak en voorkeur.

Chris en Michelle se kos.

Caesarslaaiwiggies
Bestanddele 

2 knoffelhuisies
30 ml suurlemoensap
1 teelepel (5 ml) mosterdsous
1 teelepel (5 ml) worcestersous
125 ml olyfolie
125 ml mayonnaise
blaarslaai
granaatpitte
feta
grasuie
spekstukkies of biltong
croutons

Metode

Meng 2 fyngedrukte knoffelhuisies, die sap (30 ml) van ’n halwe suurlemoen, 1 teelepel mosterd, 1 teelepel worcestersous, 1 groot eiergeel, ’n halwe koppie olyfolie en ’n halwe koppie mayonnaise in ’n voedselverwerker saam om slaaisous te maak.  
Braai ’n pakkie gekapte spek of gebruik biltong. Sny babaslaaikoppe in die helfte of kwarte afhangend van die grootte. Gooi van die slaaisous oor die slaaiblare. Sny die grasuie in fyn ringetjies en sprinkel op die sous. Voeg die stukkies spek of biltong bo-op by. Dan word die fetastukkies gekrummel gevolg deur die granaatpitte en 2 of 3 croutons per slaaiwiggie.

Roomaartappelgereg
Bestanddele

1 pakkie baba-aartappeltjies
250 ml room
groen, geel en rooi soetrissies
sampioene
rooi uie
kaas
“Baked Potato”-spesery
sout en peper
olyfolie

Metode

Braai eers die uie, soetrissies en sampioene tot lekker gaar. Kook die baba-aartappeltjies in die mikrogolfoond in ’n plastieksak vir 10-12 minute. Sny aartappeltjies in die helfte. Gebruik ’n bak wat op ’n rooster gesit kan word. Plaas aartappelhelftes onder in die bak. Gooi speserye oor die aartappels. Skep die soetrissies, uie en sampioene mengsel bo-oor die aartappeltjies. Volgende word die room oor die mengsel gegooi. Gooi sout en peper oor, gevolg deur gerasperde kaas. Bedek met foelie en plaas op die rooster.

Kiwi-sjoko-ment-nagereg
Bestanddele

Koekmengsel (genoeg vir 4 mense)
4 eetlepels bruismeel
5 eetlepels suiker
1 eier
5 eetlepels melk
30 ml botter
1 eetlepel warmsjokolade

Metode 

Meng eers al die droë bestanddele saam. Meng die eier, melk en botter en meng in by die droë bestanddele. Klits al die bestanddele saam tot goed deurgemeng. Skep in twee blikbekers en bedek met foelie. Plaas op die rooster vir 30 minute. As die koek reg is, verwyder van die rooster en dop uit op ’n snybord. Sny die koek in skywe van 1 cm en plaas ’n snytjie koek in elke bord.  

Peppermint Crisp-vulsel
Bestanddele

125 ml room
karamelkondensmelk
gerasperde Peppermint Crisp-sjokolade (80 g-blok)
kiwivrug (geskil en in ronde skywe gesny)

Metode 

Klits die room styf. Roer 3 opgehoopte eetlepels karamelkondensmelk in ’n aparte bakkie sodat dit glad is. Vou by die roommengsel in. Laastens word die gerasperde Peppermint Crisp-sjokolade bygevoeg en deurgemeng.
Sny die kiwivrug in skywe en plaas direk bo-op sjokoladekoek. Skep nou volgende die Peppermint Crisp-vulsel bo-oor die kiwivrugskywe. Versier met gerasperde sjokolade, mentblaartjies en/of kiwiskywe in die helfte gesny.

Terblanche en Esta

Terblanche en Esta.

Kerrietjops:
Marinaderesep:
Bestanddele

2 eetlepels kerrie (sterkte na smaak)
1 eetlepel borrie
2 koppies bruin asyn
3 lourierblare
400 g appelkooskonfyt
2-3 uie

Metode

Braai uie en kerrie tot sag in ’n bietjie kookolie. Gooi asyn en lourierblare by mengsel en laat ’n bietjie kook. Gooi dan ’n 400 g-blikkie appelkooskonfyt by marinade en kook nog so 5 minute.
Laat sous afkoel en gooi oor tjops. Laat staan tjops 3-4 dae in yskas in marinade voor jy braai.

Beet-en-avokadoslaai
Bestanddele

2 pakke gedroogde beetskyfies
3 ryp avokado’s
heuning-en-mosterdslaaisous

Metode

Net voor jy hoofgereg voorsit: Gooi skyfies uit in ’n bord, sny die avokado’s in blokkies en meng met skyfies. Gooi ’n klein bietjie slaaisous oor. Nie te veel nie, anders word die skyfies sag. Brokkel ’n bietjie feta oor alles.

Terblanche en Esta se kos.


Winterkoekstruif
Bestanddele

sponskoek
gekoopte sjokoladekoekies
gekookte kondensmelk
room
vla
pekanneute
Italiaanse meringue
aarbeie

Metode 

Smeer skyfies koek met gekookte kondensmelk. Gooi vla onder in blikhouertjies. Pak die koek daarin. 
Wissel dit af met sjokoladekoekies wat jy in die winkel koop. Pak pekanneute tussen jou lagies koek. Gooi laastens nog vla en dan ’n bietjie room oor jou koek. Sit foelie op en bak dit op stadige kole tot net warm. Wanneer poeding warm is, haal af van die kole, skep ’n lepel vol Italiaanse meringue bo-op. Brand die meringue met ’n vlammetjie en rond af met ’n aarbei.

Resep vir Italiaanse meringue
Bestanddele

1 koppie water
1 koppie suiker
2 eierwitte

Metode

kook bostaande tot 120 grade Celsius
klits 2 eierwitte tot stywepuntstadium.  Gooi dan suikerstroop baie stadig by eierwitte terwyl jy klits.
Sit weg tot wanneer dit  benodig word.  (Kan tot 2 dae in yskas gehou word.)