Renche en Mark

Renche en Mark

Beesfilet
Bestanddele

biefstuk
sout
swartpeper
olyfolie

Metode

Sny die biefstuk in ovaalvorms sowat 6 cm dik. Gebruik ’n stukkie tou om die ovaalvorms te behou. Geur dit met sout en swartpeper, plaas dit op ’n rooster en borsel dit met olyfolie sodat dit ’n vlam kan maak. Skroei dit oor die vlam en braai tot halfgaar of gaar. Verwyder die tou en sit voor. 

Sampioensous
Bestanddele

2 e botter
2 bakkies sampioene, gesny
150 ml ingedampte melk
300 ml vars room
sout 
peper

Metode

Verhit die botter in ’n kastrol. Voeg die sampioene by en soteer. Voeg die ingedampte melk en room by en soteer tot die vloeistof ’n reduksie begin vorm. Voeg sout en peper by na smaak.

Renche en Mark kos.

Geroosterde groente
Bestanddele

klein aartappels 
wortels, dik gesny
broccoli- en blomkoolblommetjies
klein uie, geskil
murgpampoen, dik gesny
botterskorsie
sout en peper 
knippie Italiaanse kruie 
skeut olyfolie
paar knoffelhuisies 
80 g botter, in blokkies gesny

Metode 

Plaas al die groente in ’n bak. Voeg sout, peper en Italiaanse kruie by. Voeg olyfolie by en meng deeglik. Vou foelie om die bak met die blink kant na buite. Plaas die botter in ’n hopie op die groente. Bedek dit met foelie om te keer dat stoom die pakkie verlaat. Plaas die groente op die vuur en kook so 20 minute.

Griekse Slaai
Bestanddele

blaarslaai
komkommer, gesny
kersietamaties
olywe
rooi-uie, gesny
geel en rooi soetrissies 
feta, in blokkies gesny

Metode 

Plaas al die bestanddele in ’n slaaibak en sit voor. 

Crêpe Suzette 
Bestanddele
Crêpe

2 k meel
1 k water
1 k melk
4 eiers, geklits
100 ml gesmelte botter

Sous

sap van twee groot lemoene
150 g botter
twee eetlepels lemoenskil
50 ml Cointreau of enige lemoenlikeur

Metode

Meng die meel, melk en eiers tot glad. Sprinkel die gesmelte botter en meng dit deeglik tot dit goed gekombineer is. Giet die mengsel in ’n beker en laat 20 minute in die yskas rus. 

Verhit ’n kleefvrye braaipan. Giet genoeg van die crêpe-mengsel in ’n pan om die hele oppervlak te bedek. Braai tot die mengsel nie bo-op loperig is nie. Draai die crêpe om en braai aan die ander kant tot gaar. Herhaal tot al die crêpes gemaak is. Verhit die lemoensap, lemoenskil en botter in ’n kastrol tot dit ligweg prut. Voeg die likeur by en laat prut tot die sous effens gereduseer het. Vou die mengel in kwarte en plaas in sous sodat die crêpes heeltemal bedek is. Sit twee crêpes per persoon voor saam met vanieljeroomys.

Carla en Pierre

Carla en Pierre

Superman-Gee-Jou-Vlerke
Bestanddele:

hoendervlerkies, skoongemaak
suurlemoensap
hoenderspeserye
witpeper
origanum
gemengde speserye
Aromat
paprika
Sous
250 ml worcestersous
250 ml tamatiesous
150 ml suurlemoensap
250 ml Steers-hoendermarinade
250 ml mayonnaise
25 ml hoenderspeserye
25 ml paprika
25 ml peri-peri-speserye
25 ml rooipeper
10 ml witpeper
vars brandrissies (opsioneel)

Metode

Hoender Besprinkel die hoendervlerkies met suurlemoensap en al die speserye saam. Braai dit oor hoë hitte tot goed bros. Draai elke 5 min.
Sous Meng die worcestersous, tamatiesous, suurlemoensap en hoendermarinade deeglik. Voeg die mayonnaise laaste by om klonte te voorkom. Voeg die speserye by en meng dit met ballonklitser. Verf sous oor die hoender nadat dit gebraai is.

Bloukaassous
Bestanddele:

skeppie Simonzola-bloukaas
250 ml room

Metode

Smelt Simonzola in ’n pan. Voeg room by en roer tot verdik.

Batman-Se-Ribbekas
Bestanddele

Rib
een groot varkrib
2 L vars natuurlike lemoensap
Marinade 
taai sous 
drie teelepels groenvyestroop

Metode

Kook die varkrib en lemoensap een en ’n half uur in die pot. Wanneer die rib van die been af begin lostrek, is dit gaar genoeg. Verwyder en laat tien minute rus.
Meng intussen die bestanddele van die marinade. Plaas die rib in die rooster en laat sowat 20 min. oor die kole braai. Draai elke vyf minute en verf met marinade.

Carla en Pierre kos.

Vasgevang in Spiderman se Kaasweb
Bestanddele

twee snye witbrood per broodjie
mayonnaise
blatjang
witcheddar
cheddar, gerasper
tamatie, in skywe gesny
uie, in skywe gesny
sout, peper en kruie soos verkies

Metode

Smeer die brood met botter en plaas die snye twee-twee bo-op mekaar. (Die botter sal aan die buitekant van die toebroodjie wees wanneer jy dit op die rooster sit). Smeer ander kant van die brood met mayonnaise en blatjang. Sit die kaas, tamatie en uie op saam met peper, kruie en ’n bietjie sout. 

Deadpool Skrik Nie Vir Koue Pampoen Nie
Bestanddele:

middelslag-botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
olyfolie
sout en peper
250 g roomkaas
hand vol pekanneute
roketblare
een wiel feta, gekrummel
hand vol gedroogde bosbessies

Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sprinkel ’n bietjie olie, sout en peper oor die botterskorsie en bak in die oond tot goed gaar en bros. Verwyder en gooi hopies roomkaas op die botterskorsie terwyl dit nog warm is sodat die roomkaas effens smelt.
Rooster die neute in ’n pan op die vuur. Maak ’n slaaibed van die roketblare in slaaibak, voeg botterskorsie by, gevolg deur feta, bosbessies en neute.

Cheers met Churros
Bestanddele:
Beslag

400 ml water
60 g botter
2 t suiker
250 g koekmeelblom
2 t bakpoeier
750 ml sonneblomolie vir diepbraai
200 g versiersuiker
2 teelepels kaneel
Sous
1 blok donkersjokolade 
125 ml room

Metode

Kook water, botter en suiker saam en roer gereeld. Sodra die mengsel begin kook, haal dit van die hitte af en roer meel en bakpoeier by.
Verhit olie. Gebruik ’n spuit en maak ’n vorm van die meelmengsel.
Plaas in die olie en diepbraai tot ligbruin en bros. Sif versiersuiker en kaneel bo-oor.
Smelt sjokolade oor lae hitte en voeg room stelselmatig by tot middelmatige viskositeit. Sit voor saam met die churros.

Conrad en Pani

Conrad en Pani.

Beesfilet met teriyaki-sous 
Bestanddele 

beesfilet
sout en peper
mosterd
Sous
Bestanddele
droë sjerrie
soet sjerrie
donker sojasous
klein skeppie bruinsuiker
klein skeppie knoffel en gemmer

Metode

Filet Braai op rooster gaar, geur met sout, peper en mosterd, en giet teriyaki-sous oor. 
Sous Voeg al die bestanddele bymekaar. Wag tot die suiker smelt en laat die sous ’n ruk lank prut.

Geroosterde boontjies
Bestanddele

boontjies
olyfolie
sojasous
stingeluie 
ekstrasuiwer olyfolie
sout
peper
sonneblompitte

Metode 

Voeg al die bestanddele saam. Rooster in ’n kastrol tot gaar en ietwat sag.

Conrad en Pani kos.

Skop-patats
Bestanddele

patats
suiker
botter
likeur

Metode 

Plaas die patats in ’n foeliebak. Voeg die suiker en botter by. Giet likeur by en rooster tot sag. 

Tamatiesalsaslaai
Bestanddele

komkommer, in skywe gesny
avokado, in blokkies gesny
skeut suurlemoensap
skeut lemmetjiesap
knoffel, fyngedruk
babatamaties, gehalveer
knippie koljander

Metode 

Voeg al die bestanddele saam. 

Piesang-malvalekkerbroodjie
Bestanddele

piesangs, in skywe gesny
malvalekkers
donkersjokolade

Metode

Plaas die piesangs op ’n bakplaat. Plaas die malvalekkers en donkersjokolade bo-op. Bedek met foelie. Verhit tot gesmelt en sit voor saam met roomys.