Russouw & Willmari

Rossouw en Willmari

Ontbeende lamsboud

Bestanddele

2 kg ontbeende lamsboud
olyfolie vir smeer 
¼ k suurlemoensap
4 knoffelhuisies, fyn gekap
¼ k olyfolie
vars roosmaryn 
sout 
peper

Smeersous (verf die boud eers net voor jy hom afhaal):

BBQ-sous
taai marinade
worcestersous

Metode

Plaas die boud in ’n groot bak met ’n deksel.
Smeer oraloor met die olyfolie.
Meng die suurlemoensap, knoffel, olyfolie, en roosmaryn goed in ’n mengbeker.
Giet oor die boud.
Sit die deksel op en hou 24-48 uur in die yskas.
Meng die smeersousbestanddele net voor jy begin braai goed in ’n mengbak.
Braai die vleis 50-60 min. oor matige tot warm kole tot die dikste deel 68 °C bereik. Let wel: Smeer die sous eers vyf minute voor jy die boud afhaal aan.
Laat rus die vleis 10 min. op ’n broodplank met tinfoelie oor voor jy dit sny. 

Lindt-sjokoladepoeding

Bestanddele

Basis

1 eier
75 ml gesmelte botter
½ k melk
15 ml vanieljegeursel
1 k bruismeel
25 ml kakaopoeier
’n knippie sout
½ k suiker
2 x 80 g Lindt-donkersjokolade, fyn gebreek
Sous
1½ k kookwater
1 k bruinsuiker
50 ml kakaopoeier

Metode

Klits die eier, botter, melk en vanielje in ’n plat swartpot van hoogstens 25 cm wyd en 15 cm diep.
Meng die meel, kakao, sout, suiker en sjokolade met ’n houtlepel deeglik by die pot in.
Maak solank die sous: Meng die kookwater, suiker en kakaopoeier in ’n mengbak. Giet dit oor die beslag net voor jy dit op die kole sit.
Plaas die pot op ’n driepootstander oor matige kole. Pak ’n paar kole op die deksel en bak 30 min. Sit voor met roomys.

Peter & Annette

Peter en Annette

Aartappelslaai

Maak dié eerste en lank voor die tyd sodat die knoffel behoorlik kan deurtrek en die eiers hul ding kan doen. Dit is baie lekker.

Bestanddele

10 aartappels, geskil en gaar gekook
1 e fyn knoffel
6 eiers, gekook en in skywe gesny
sout
Ina Paarman se knoffel-en-krui-speserye
mayonnaise

Metode

Sny die aartappels in ’n slaaibak in groterige blokke.
Gooi die knoffel by. (Jy wil hom ruik en proe!)
Meng die eiers by.
Geur na smaak met die sout en speserye. Laat waai met die speserye!
Meng die mayonnaise goed deur.
Bedek met tinfoelie oor en sit onmiddellik in die yskas.

Ouma Nettie se mengelslaai

Dis ’n “moer-by”-slaai met ’n sielkundige truuk: Kinders ruik die spek en dink dan nie aan die slaai as “bokkos” nie.

Bestanddele

blaarslaai
baba-tamaties
1 groen en 1 rooi rissie
komkommer 
pynappel
avokado
vars ui
feta
pitlose olywe 

Metode

Breek die blaarslaai met jou vingers in eetbare stukke (nie te groot nie).
Halveer die baba-tamaties.
Sny die helfte van die groen en die helfte van die rooi rissie in middelslagblokkies.
Sny die komkommer in skywe en halveer.
Sny die pynappel in middelslagblokkies.
Skil die avokado, sny in skywe en dan in groterige blokke.
Skil die ui en sny in blokkies.
Krummel die feta.
Meng alles.

Op die vuur:

Bestanddele

vars bessies
’n klein pakkie croutons
’n pakkie gekerfde uie
gemengde neute van jou keuse
sade van jou keuse
spek

Metode

Meng alles in ’n vuurvaste bak en plaas dit reg langs die kole. 
Krap kole rondom en roer gereeld.
Braai tot die spek bros is en skep dan die mengsel by die res van die slaai.
Sit tinfoelie bo-oor. Moet dit nie terugsit in die yskas nie. Laat die warm spekmengsel deurtrek. Sit voor sodra dit afgekoel het.

Plaatkoekies met brie, vye en bessiesous 

Bestanddele

vye
vars bessies
brie
plaatkoekiemengsel

Metode

Jy kan dit op twee maniere doen: Gebruik vars vye wat jy op die vuur braai tot net-net bruin of heel vye in stroop. Gooi die stroop af en sit dit in ’n vuurvaste bak tussen die kole.
Gooi die bessies in ’n vuurvaste bak tussen die kole en kook tot sag en souserig. (Jy kan die vye ook hierby voeg as jy dit nie afsonderlik wil berei nie.)
Sny die brie in skywe en hou eenkant.
Berei die plaatkoekiemengsel volgens die aanwysings op die verpakking. Bak dit op die stoof.
Pak die brie-skywe op sodra die plaatkoekies gaar is. Dis die eerste laag van die “toring” wat jy bou. 
Pak die vye op en giet die bessiesous bo-oor.
Wenk: Vir ekstra lekkerte kan jy ’n Oreo-roomys byskep. 

Knoffelbroodjies-met-’n-kinkel

Bestanddele

volgraansaadrolletjies
botter
fyn knoffel
1 knoffelhuisie met skil
groot swart sampioene, in skywe gesny
vars ui
fyn gekerfde droë appel, appelkoos en perske
neute en sade van jou keuse

Metode

Sny die rolletjies oop, smeer dik met die botter en skep van die fyn knoffel op die een helfte.
Pak die rolletjie op tinfoelie en maak toe.
Pak ’n sampioenskyf langs die brood op die tinfoelie. Die snykant van die rolletjie moet warm raak.
Pak die heel knoffelhuisie op die sampioen.
Sny ’n dik stuk van die ui af en pak bo-op.
Pak van die droë vrugte op.
Vou die tinfoelie styf toe sodat die sous nie uitloop nie.
Plaas tussen die lou kole en hou ’n oog daaroor. Kyk ná ’n paar minute hoe die knoffelhuisie lyk. As dit al kleur begin kry het en sag en pulpagtig, is die brood reg. Onthou: Dit moenie rooster nie; dit moet sag en warm bly.

Sangria 

Bestanddele

1 bottel rooiwyn
1,5 L gegeurde water van jou keuse
’n bietjie tequila (nie te erg nie; dit skop mos woes!)
1 blik gemengde vrugte
Metode
Meng alles in ’n groot glashouer. Laat staan oornag in die yskas sodat die wyn en titseltjie skop goed in die vrugte kan intrek. Sit koud voor met ys.

Boerewors

Dit is eenvoudig en smaaklik. Geen tierlantyntjies nie, en jy ruik dit wanneer dit op die vuurtjie is.

Bestanddele

egtedermboerewors by die slaghuis gekoop

Metode

Braai die wors net so opgerol stadig oor die kole sodat die vog behoue bly.
Draai gedurig, soos jou pa jou geleer het. 

Hoendersosaties met appelkosies

Die bier maak die hoender sag en sappig en die soetrissiesous komplementeer die appelkose.

Bestanddele

vars ontbeende hoenderborsies
soetrissiesous
Windhoek Lager of bier van jou keuse
vars appelkosies
Metode
Marineer die hoender 3-4 uur in die sous en bier.
Plaas in die yskas en vergeet daarvan terwyl jy sommer nog ’n bier oopmaak.
Sny die hoender in blokke en ryg om die beurt met die appelkosies aan sosatiestokkies. 
Braai stadig oor die kole. Draai gereeld sodat die appelkosies nie brand en donker en hard word nie.

Ribbetjies

Bestanddele

’n groot rib
bier
soetrissiesous
appelkooskonfyt
blatjang
braaispeserye van jou keuse

Metode

Marineer die rib oornag in die bier.
Meng die soetrissiesous, appelkooskonfyt en blatjang vir jou eie marinade.
Sprinkel die braaispeserye oor en marineer nog ongeveer 2 uur.
Braai die rib stadig en draai gereeld. Verf marinade aan wanneer jy die vleis draai. Braai tot so gaar soos verkies en sit voor.

Thinus En Freda

Thinus en Freda

Sampioen-en-pepersous

Bestanddele

1 x  vars room
2 x blikkies geroomde sampioene
5 ml droë mosterd
egte botter
 1 pakkie vars sampioene

Metode

Braai die sampioene in botter en plaas een kant.
Gooi die res van bestanddele saam en laat prut tot gaar vir so uur en ’n half.
Wanneer die sous reg is, gooi die gebraaide sampioene saam en meng goed deur.

Geroomde botterskorsie

2 x pakkies botterskorsie
1 x vars room
10 ml suiker
1 pakkie wit uieroomsop

Metode

Voeg al die bestanddele saam in ’n pot en roer goed deur.