Deon & Elmarie


Ontbeende lamsrib gevul met fyn maalvleis en spekvleis
Bestanddele
300 g maalvleis
300 g spek, fyn gekap
ontbeende lamsrib
sout en peper na smaak
tou

Metode
Meng die maalvleis en spekvleis saam.
Plaas die lamsrib op ’n pla oppervlak met die velkant ondertoe. Bedek die lamsrib met die vulsel.
Rol die lamsboud versigtig op en bind dit met tou vas. Geur met sout en peper.
Braai vir ongeveer twee ure oor matige kole of tot gaar.

Ontbeende varkfilet
Bestanddele
’n halwe blikkie Coke
Jimmy’s-sous, na smaak
varkfilet

Metode
Om die sous vir die varkfilet te maak, voeg so bietjie Jimmy’s-sous by die Coke.
Smeer die varkfilet met die sous en braai oor matige kole tot gaar.

Mayo-braaibroodjies
Bestanddele
gerasperde cheddarkaas
tamaties, fyn gekap
ui, fyngekap
mayonnaise
gesnyde brood van jou keuse

Metode
Meng die kaas, tamatie, ui en mayonnaise saam in ’n mengbak.
Smeer die snye brood met die mayonnaise-mengsel en maak toebroodjies.
Braai die broodjies oor die kole tot die brood lekker bros is.

Noedelslaai
1 pk noedels, gekook
1 ui, fyn gekap
125 ml asyn
200 ml witsuiker
paar druppels Worcestershiresous
1 soetrissie, fyn gekap
250 ml tamatiesous
125 ml sonneblomolie
25 ml kerriepoeier

Metode
Giet al die bestanddele oor die gaar noedels en laat dit afkoel voor jy dit bedien.

Koue poeding
Bestanddele
Nuttikrust-koekies, fyn gemaak
roomys van jou keuse
jogurt
aarbeie, gehalfeer
grondboontjies, op die vuur gebraai
vla

Metode
Maak die Nuttikrust-koekies onder in ’n glas fyn. Die nagareg word in glase bedien so maak seker daar is een glas vir elke gas.
Skep die roomys, jogurt, aarbeie en grondboontjies in die glase.
Bedek elke gas se poeding met vla.

Grant & Colene


Maalvleis-nessies

Bestanddele

1 kg maalvleis
1 pakkie spek, in repe
1 ui, fyn gekap
½ rooi soetrissie, fyn gekap
½ geel soetrissie, fyn gekap
1 pakkie sampioene, gekap
BBQ-sous, soos verlang
sout en peper, na smaak
gerasperde kaas

Metode
Maak balletjies met die maalvleis en pak die maalvleisballetjies om ’n blikkie sodat data ’n gat in die middel van die maalvleis is. Plaas die “maalvleis-nessie” dan in die yskas.
Braai die spek, uie, soetrissies en sampioene. Geur die mengsel met BBQ-sous, sout en peper terwyl dit braai.
Haal die blikkie uit die “maalvleis-nessie” en vul die holte met die gaar bestanddele.
Draai rou spekrede om die “maalvleis-nessie”.
Bedek die “maalvleis-nessie” met gerasperde kaas.
Bak in ’n vuuroond vir 30 tot 35 minute.

Colene se botterskorsiegereg
2 pakke gesnyde, rou botterskorsies
1 pakkie bruin uie sop
500 ml vars room

Metode
Meng al die begenoemde bestanddele saam in ’n oondbak en bak vir een uur teen 180 grade. Roer elke 20 minute.

Mieliepoffertjies
Bestanddele
250 ml koekmeel
7 ml bakpoeier
2 ml sout
1 eier
1 blikkie geroomde suikermielies
swartpeper
olie

Metode
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Maak ’n holte in die middel.
In ’n aparte bak, meng die eier, suikermielies en melk saam en voeg dit in die holte. Meng goed deur. Geur met swartpeper.
Verhit ’n pan met so bietjie olie. Skep die mengels stuk-stuk uit en braai in die pan aan beide kante tot dit goudbruin is.

Tuisgemaakte vaniljeroomys
Bestanddele
500 ml vars room
1 eetlepel vanilje-aftreksel
1 blik kondensmelk

Metode
Klop die room styf of tot jy die bak kan omdop en niks uitval nie. Voeg vanilje en kondensmelk by en vou in. Plaas in vrieskas vir 30 minute. 

Gebraaide sjokoladekoek
Bestanddele
3 eiers
200 ml melk
20 ml strooisuiker
knippie sout
koekspons
botter vir braai
30 ml Nutella

Metode
Klits die eiers, melk, strooisuiker en sout saam. Week die koekspons daarin en braai dan tot goudbruin.
Bedien met tuisgemaakte roomys en versier met kruisementblare.

Stuart en Bianca

Geelstert (bedien 6)

Bestanddele
1 gefileteerde geelstert
1 rooi-ui
1 bakkie kersietamaties
olyfolie, soos verlang
1 pakkie basilie-pesto
fetakaas, soos verlang
swartpeper, soos verlang
tinfoelie (om die geelstert toe te draai)

Metode
Fileteer die geelvis.
Kap die rooi-ui en sny die kersietamaties in die helfte.
Smeer vis met olyfolie binne en buite. As jy die vis buite met olie smeer, verhoed dit dat die vel aan die tinfoelie vassit. 
Smeer vis se binnekant met die basilie-pesto.
Strooi die gekapte rooi ui op die een helfde van die vis.
Krummel die fetakaas ook aan die binnekant van die vis.
Plaas die kersietamaties ook aan die binnekant van die vis.
Besprinkel die vis met swartpeper. 
Draai die geelstert toe in tinfoelie.
Braai oor die kole vir 15 minute aan een kant. Draai dan die vis om en braai die ander kant vir 10 tot 15 minute.
Maak die tinfoelie oop om seker te maak die vis is gaar.


Patats (bedien 6)

Bestanddele
1 sakkie geelpatat
1 eetlepel botter
5 stukkies stokkaneel
500 g suiker
250 ml water

Metode
Skil al die patats en sny dit dan in lekker, groot stukke.
Gooi botter in die pot en wag tot dit smelt.
Plaas die patats in die pot met die gesmelte botter. Voeg die stokkaneel ook by.
Strooi suiker ook in die pot. Maak die pot toe en laat prut.
Gooi die water in die pot sodat die patats kan sag kook.
Roer die pot na 20 minute.

Slaai (bedien 6)
Bestanddele
1 rooi-ui
1 bakkie kersietamaties
2 pakke blaarslaai
1 pakkie fyngekapte spek
3 blikkies mielies
1 bakkie fetakaas
1 eetlepel olyfolie
3 eetlepels balsemieke asyn
3 eetlepels witwynasyn
swartpeper

Metode
Kap rooi-ui in ringe ensny die kersietamaties in die helfte.
Was die blaarslaai goed.
Maak die spek in die pan gaar.
Gooi die mielies in ’n pot met warm water en laat dit deurkook.
Gooi die mieilies in ’n vergiettes na dit deurgekook het.
Meng al die spek, mielies, blaarslaai, rooiuieringe en tamaties saam.
Sny die fetakaas in blokkies en voeg by die ander bestanddele.
Gooi die olyfolie, balsemieke asyn en witwynasyn by die bogenoemde bestanddele en meng deur.
Gooi soveel peper oor die slaai soos jy verkies.
Plaas in die yskas en laat die slaai afkoel.
Bedien met enige slaaisous van jou keuse.

Nagereg (bedien 6)
Bestanddele
2 pakkies Tennis-beskuitjies
250 ml botter
1 groot stuk sjokolade
1 blikkie Caramel Treat
1 pakkie klein malvalekkers
1 blikkie kondensmelk
1 boks vla

Metode
Verkrummel die Tennis-beskuitjies.
Smelt die botter.
Meng die verkrummelde beskuitjies met die botter.
Plaas die botter-en-Tennismengsel aan die onderkant van ’n houer en plaas in die yskas om te set.
Kap die sjokolade in klein stukkies.
Smeer ’n laag Caramel Treat oor die beskuitjie-onderlaa en, gooi dan ’n laag van die sjokolade oor die Caramel Treat.
Gooi ’n laag klein malvalekkers bo-op die sjokolade en gooi dan ’n bietjie kondensmelk bo-oor. Eindig af met ’n bolaag vla.
Herhaal dié patroon tot jy voel daar is genoeg lae.
Plaas ’n deksel op die houer.
Plaas die houer in ’n oondvaste bak vol water en plaas dit op die braai oor ’n lae hitte.
Wag ten minste 15 tot 20 minute. Daarna sal al die bestanddele al in mekaar gesmelt het.
Bedien die gereg met vanilje-roomys.