Marisa en Riaan

Roosmaryn-gegeurde lam

Bestanddele
12 lamsribbetjies
vars roosmaryntakkies
olyfolie
braaispeserye van jou keuse

Metode
Maak klein gaatjies in die lamsvleis en druk die vars roosmaryntakkies daarin. Smeer die vleis met ’n mengsel van die olyfolie en braaispeserye. Laat staan minstens 2 uur. Braai oor matige kole tot gaar.

Blatjang-taai-hoendervlerkies
Bestanddele
12 hoendervlerkies
blatjang
stroop
sojasous
hoenderspeserye

Metode
Marineer die hoendervlerkies met ’n mengsel van die blatjang, stroop, sojasous en hoenderspeserye. Braai oor matige kole tot gaar.

Sampioensous
Bestanddele
2 uie
2 knoffelhuisies, fyn gekap
droë rissies
1 pakkie sampioene
botter
1 koppie rooiwyn
1 koppie vars room

Metode
Braai die uie, knoffel, droë rissies en sampioene in die botter. Voeg die rooiwyn by en kook tot die wyn ingetrek het. Voeg die vars room by en maak die pot toe om te prut.

Gelaaide aartappels
Bestanddele
aartappels
songedroogde tamaties
spek, in stukkies gesny
knoffel, fyn gekap
parmesaankaas

Metode
Kook die aartappels. Sny in konsertina-stukke. Plaas die songedroogde tamaties, spekstukkies, knoffel en parmesaankaas bo-op. Draai in tinfoelie toe en plaas op die rooster.

Boompieslaai
Bestanddele
broccoli
spek, in stukkies gesny
klein kaasblokkies
songedroogde tamaties
rosyne
mayonnaise
asyn
suiker

Metode
Sny die rou broccoli in klein stukkies. Voeg die gaar spekstukkies, kaasblokkies, songedroogde tamaties, rosyne en ’n mengsel van die mayonnaise, asyn en suiker by. Meng goed deur.

Ouma se brood
Bestanddele
winkeldeeg
2 pakkies aartappelgebakmengsel
500 ml room

Metode
Rol die deeg in klein balletjies. Meng die aartappelgebakmengsel met die room. Giet die mengsel oor die deeg. Maak die bak in tinfoelie toe en bak op stadige kole vir 45 min.

Amarula-fondue
Bestanddele
Amarula-likeur
room
“cake pops”

Metode
Meng die Amarula met die room en kook oor matige kole tot warm. Sit voor saam met “cake pops”.

Melktertjies
Bestanddele
wodka
kondensmelk
ingedampte melk
kaneel

Metode
Meng die wodka, kondensmelk en ingedampte melk. Sit voor saam met die kaneel.

Larika en Dawid

Ontbeende lamsboud
Bestanddele
1 ontbeende lamsboud
olyfolie
suurlemoensap
worcestersous
1 ui, fyn gekap
biltongspeserye na smaak
vars pietersielie, gekap


Metode
Plaas die ontbeende lamsboud in ’n groterige bak. Giet die olyfolie, suurlemoensap en worcestersous bo-oor. Besprinkel met die gekapte ui, biltongspeserye en vars pietersielie. 
Laat rus die boud sodat die sous lekker kan intrek. Braai die lamsboud oor matige kole tot gaar maar sappig.


Gevulde sampioene
Bestanddele
1 ui, fyn gekap
spek
groot sampioene
2 knoffelhuisies, fyngedruk
botter
fetakaas
pikantrissie, opgekap


Metode
Braai die ui en spek in ’n pan. Was die sampioene deeglik af. Meng die knoffel en botter saam en skep ’n teelepel vol op elke sampioen. Plaas die fetakaas en pikantrissie bo-op en skep dan die afgekoelde ui en spek oor. Draai die sampioene in tinfoelie toe en maak gaar oor matige kole.
Vir ’n gas wat allergies is vir sampioene of nie daarvan hou nie, kan jy ’n botterskorsie gebruik.

Aartappelgebak
Bestanddele
1 ui, fyn gekap
spek
olyfolie
aartappels, in dun skywe gesny
1 pakkie aartappelgebak-mengsel
melk, soos aangedui op die aartappelgebak-pakkie
gerasperde kaas van jou keuse

Metode
Braai die ui en spek vooraf in ’n pan met ’n bietjie olyfolie. Kook die aartappelskywe in kookwater tot net-net sag. Maak die aartappelgebak-mengsel volgens die aanwysings aan. Pak ’n laag aartappels onder in ’n bak en bedek met ’n laag gebraaide spek en ui. Herhaal met nog ’n laag aartappels en dan nog ’n laag spek en ui. Giet die aangemaakte mengsel bo-oor. Strooi die gerasperde kaas oor. Maak gaar oor matige kole. Plaas ’n paar kole bo-op die deksel vir hitte. Pasop vir te veel kole.

Amarula-malvapoeding
Bestanddele
1 teelepel koeksoda
125 ml melk
1 ½ koppie bruismeel
½ koppie suiker
2 eiers
2 eetlepels appelkooskonfyt
2 eetlepels sagte botter
’n knippie sout

Metode
Los die koeksoda in die melk op. Meng die bruismeel, suiker, eiers, appelkooskonfyt, sagte botter en sout saam. Roer die koeksodamengsel by. Meng goed en giet in gesmeerde pannetjies, bak of swartpot indien op die vuur gemaak gaan word.

Sous vir die soetgereg
Bestanddele
1 koppie water
1 koppie room
125 g botter
1 koppie suiker
1 teelepel vanieljegeursel
’n klein bottel Amarula-likeur

Metode
Verhit alles tot kookpunt.Verhit die Amarula-likeur en giet by die sous. Giet die sous bo-oor die warm poeding sodra dit gaar is. 

Sias en Lindie

Biltong-gemarineerde beesborsstuk
Bestanddele
1 beesborsstuk
½ koppie Worcestershiresous
½ koppie olyfolie
Biltong-speserye soos verlang

Metode
Om die marinade vir die beesborstuk te maak, meng die Worcestershiresous, olyfolie en biltong-speserye saam in strooi oor die vleis.
Laat die beesborstuk vir 24 uur in die yskas marineer.
Braai die beesborstuk vir lank en stadig – vir ongeveer ’n uur – oor ’n medium hitte.

Tuisegmaakte boerewors
Bestanddele
1.8 kg beesvleis
1.2 kg varkvleis
Sout soos verlang
3 eetlepels heel koljandersaad
¾ teelepel gemaalde naeltjies
1 teelepel neutmuskaat
½ koppie asyn
½ koppie Worcestershiresous
Swartpeper soos verlang
6-7 varkderms

Metode
Kombineer die beesvleis en varkvleis in ’n mengbak.
Geur die vleis met sout, koljandersaad, naeltjies en neutmuskaat en meng goed deur.
In ’n aparte bak, kombineer die asyn, Worcestershiresous en swartpeper en meng goed.
Gooi dan dié mengsels by die vleis en laat dit oornag in die yskas staan.
Maal die vleis en stop dit in voorbereide varkderms.

Geroosterde mengelslaai
Bestanddele
1 blomkool, in stukke opgesny
1 pakkie spek, in stukkies gesny
1 pakkie slaaiblare
1 komkommer, opgesny
1 pakkie babatamaties, opgesny
1 hand vol olywe, opgensy
Fetakaas, gekrummel
1 hand vol okkerneute, fyngemaak

Metode
Gooi so bietjie water in ’n pot en voeg ’n knippie sout by.
Sodra die water begin kook, sit die blomkool in en bedek die pot sodat die blomkool kan stoom.
Om dit net-net al dente te kry, stoom die blomkool vir ongeveer drie minute.
Vir sagte blomkool, stoom dit vir ongeveer agt minute.
In ’n pan, braai die spek in ’n teelepel olyfolie tot bros.
In ’n slaaibak, kombineer die slaaiblare, komkommer, babatamaties, olywe en fetakaas.
Bedruip met olyfolie soos verlang.
Voeg die blomkool, spek en okkerneute by.

Lemoenkolwyntjies-op-die-kole
Bestanddele
4 lemoene
1 pakkie kolwyntjie-mengsel, te koop by meeste winkels
Bruinsuiker

Metode
Halfeer drie van die lemoene, skep die binnekant van die lemoen uit die skil en sit opsy.
In ’n mengbak, maak die kolwyntjie-mengsel aanmekaar soos aangedui op die pakkie.
Druk die laaste lemoen se sap by die kolwyntjie-mengsel en rasper ook so bietjie lemoenskil daarby.
Verdeel die kolwyntjie-mengsel tussen die lemoenskille.
Plaas ongeveer 20 minute oor die kole met ’n deksel of tinfoelie bo-op.
Besprinkel die lemoen-binnekante met bruinsuiker.
Braai die lemonebinnekante op die rooster tot die suiker karameliseer.