Engela en Sas

engelaensas

Bestanddele

Springbokfilet

Marineer die filet oornag een of twee dae in ’n sous wat bestaan uit varkribbetjiemarinade, balsemieke asyn en olyfolie.

Patat

200 g botter

1 k gekaramelliseerde bruinsuiker

1 e (opgehoop) vlapoeier, opgelos in ’n bietjie water

Smelt die botter. Voeg die bruinsuiker by, maar geen water nie. Wanneer die suiker opgelos is, giet die vla by en laat deurkook.

Botterskorsieslaai

olyfolie

1 kg gesnyde botterskorsie

2 wiele feta

1 pak jong spinasie

100 g gemengde neute, fyn gekap

Sprinkel die olyfolie oor die botterskorsie en bak die botterskorsie ongeveer 30 min. in die oond. Laat afkoel en sprinkel die spinasie oor. Krummel die feta oor en voeg die neute by. Jy kan ook droë bosbessies byvoeg.

sas

Kaasbrood

180 g botter

100 ml knoffel

smeerkaas

ciabatta

Smelt die botter en voeg die knoffel en smeerkaas by. Meng deur. Sny die brood en smeer die botter-en-kaasmengsel lekker dik op die snye.

Voer ’n bakplaat met foelie uit en bespuit met kossproei. Plaas die brood daarop en verhit op lae hitte (180 °C) of oor die kole.

Karl en Simone

karlensimone

Bestanddele

Wondermosterdsous

400 g witsuiker

6 eiers

200 ml witasyn

40 g mosterdpoeier

2 knippies sout

Plaas die bestanddele in dié volgorde in ’n pot en klits tot glad. Verhit oor matige hitte tot die sous dik is. Roer af en toe. Sodra die skuim bo-op begin verdwyn, begin die sous die regte dikte raak. Laat afkoel.

Rugstringmarinade

200 ml kookolie

300 ml vars room

10 ml knoffelvlokkies

12,5 ml worcestersous

12,5 ml tamatiesous

5 ml sojasous

1,25 ml fyn swartpeper

1,25 ml roosmaryn

Meng die kookolie en room en meng dan al die ander bestanddele goed by. Marineer die vleis 6-12 uur. Verf die vleis ook terwyl jy dit braai met die marinade.

karl

Wildswors

80 persent wilds- en 20 persent skaapvleis.

Maal die vleis en gebruik burgerworsspeserye. Volg die aanwysings op die verpakking.

Melkmoutbierbruintjies

Koop Ina Paarman-bruintjiemengsel. Volg die aanwysings op die verpakking, maar vervang die melk met Castle Milk Stout.

Tuisgemaakte vanieljeroomys

500 ml Orley Whip

1 blik kondensmelk, verkoel

5 ml vanieljegeursel

Klits die room tot sagte punte vorm. Giet die kondensmelk en geursel by en klop styf. Skep in ’n bak wat kan seël en plaas in die vrieskas. Vries 6-7 uur.

Mielies met spek

mielies

spek

Jimmy’s Sauces

Kook die mielies 10-15 min. in water. Laat afkoel. Draai die rou spek om elke mielie en steek met ’n tandestokkie vas. Plaas op ’n oop rooster en braai tot die spek gaar is. Smeer die mielies met die sous terwyl dit braai.

Hoender

Smeer die hoender met hoenderspeserye en Italiaanse kruie en braai oor warm kole.

Potbrood

1 kg witbroodmeel

1 pakkie gis

botter

500 ml water

Meng die meel en gis in ’n groot kastrol. Giet die water by soos nodig. Smeer jou hande met die botter sodat die deegmengsel nie daaraan vassit nie. Plaas die deeg in ’n broodpot en los in die son om te rys. Plaas kole onder en bo-op die pot en hou dop om seker te maak die brood brand nie.