Eduard en Lisa

Verouderde lendestuk met soetpatatskyfies

Bestanddele

1 kg heel, verouderde lendestuk met ’n lekker stuk vet aan
olyfolie
biltongspeserye
3-4 oranje soetpatats
paprika (opsioneel)

Metode

Haal die lendestuk die oggend voor die braai uit die yskas en smeer dit met ’n bietjie olyfolie. Braai sowat 15 min. met die vetkant na die kole tot die vet lekker uitgebraai is. Besprinkel tussendeur met die biltongspeserye en draai so een of twee keer. Verwyder van die kole en laat sowat 15 min. rus. Sny in porsies en braai oor warm kole tot so gaar soos verlang. 
Sny die patats in 1 cm-skywe en pak in ’n oondbak. Geur met die olyfolie en paprika (indien gebruik). Bak sowat 30 min. teen 200 °C of tot goudbruin en gekaramelliseer. Sit voor saam met die lendestuk en biltong-sampioensous.

Biltong-sampioensous
Bestanddele

250 g sampioene 
2 t heelkorrelmosterd
’n skeut brandewyn
1 e heuning
1 k room
biltong, fyn gesny
sout en peper 

Metode

Braai die sampioene tot goudbruin. Voeg die mosterd, brandewyn en heuning by en roer dit goed deur. Giet die room by en voeg ’n bietjie biltong by. Laat kook tot die room verminder en geur na smaak met die sout en peper.

Portugese hoender-espetadas 
Bestanddele (Genoeg vir agt sosaties)

Marinade
4 knoffelhuisies
1 t brandrissievlokkies
2 pakkies sondroë tamaties (gebruik net die sous vir die marinade)
4 e worcestersous
½ k soetrissiesous
sap van 2 suurlemoene
1 e heuning
tiemie, na smaak
500 ml Griekse jogurt
Sosaties
24 ontbeende hoenderdye
8 sosatiestokkies wat so 20 min. in water geweek is 
1 rooi-ui, gesny sondroë tamaties 

Metode

Meng al die bestanddele behalwe die jogurt. Hou 1 k marinade eenkant om oor die sosaties te verf terwyl jy braai. Meng die jogurt by die res van die marinade. Marineer die hoenderdye minstens 2 uur daarin.
Sosaties
Spoel die hoender af. Ryg die hoender, rooi-ui en tamaties aan die stokkies. Herhaal dié patroon drie keer. Braai oor matige kole tot gaar. Smeer gereeld met die marinade.

Caprese-ciabatta-braaibroodjie
Bestanddele

1 ciabatta
basiliepesto
blatjang 
½ houer soetrissie-roomkaas
gerasperde mozzarella en cheddarkaas
1 tamatie, gesny
1 rooi-ui, in ringe gesny
sout en peper

Metode 

Smeer die binnekant van die ciabatta met die pesto, blatjang en roomkaas. Strooi die helfte van die gerasperde kaas oor. Pak die tamatie en ui op en geur met die sout en peper. Gooi die res van die kaas oor. Draai in tinfoelie toe en braai oor die kole tot goudbruin en tot die kaas gesmelt is.

Franse aspersies met spek en briekaas
Bestanddele (genoeg vir agt mense)

24 vars aspersies
8 repies spek
8 skyfies brie

Metode

Braai die spek tot gaar, maar nie bros nie. Draai 3 aspersies en ’n skyfie kaas in die spek toe en steek met ’n tandestokkie vas. Braai vinnig oor matige kole tot die spek bros is. Moenie dat die smeltende kaas uitloop nie.

Geroosterde-botterskorsie-en-halloumislaai
Bestanddele

400 g botterskorsie, in blokkies gesny
olyfolie
sout en peper
1 k pekanneute, grof gekap
heuning
blaarslaai
1 rooi-ui, in ringe gesny
1 avokado, in skyfies gesny
1 blok halloumi
botter

Metode

Plaas die botterskorsie in ’n oondbak, bedruip met die olyfolie en geur met die sout en peper. Oondrooster sowat 20 min. teen 200 °C tot gaar. Rooster die pekanneute in ’n pan oor matige hitte. Giet die heuning oor en laat prut tot ’n taai karamel. Rangskik die blaarslaai in ’n mooi slaaibak. Skep die botterskorsie, ui en avokado oor. Geur met die sout en peper. Braai die halloumi in ’n bietjie botter tot goudbruin en pak op die slaai (dit moet op die laaste minuut gedoen word, anders raak die halloumi taai). Garneer met die pekanneute.

‘Smores’ met piesang en tuisgemaakte grondboontjiebotter-roomys
Bestanddele

Grondboontjiebotterroomys

2 k melk
1 k room
5 ml vanieljegeursel
1 houer grondboontjiebotter
7 eiergele
150 g strooisuiker
grof gekapte, geroosterde grondboontjies

Metode

Verhit die melk, room, vanielje en grondboontjiebotter oor ’n lae hitte tot die grondboontjiebotter gesmelt is. Laat afkoel. Klits intussen die eiergele en suiker tot lig en romerig. Giet die melkmengsel stadig by terwyl jy aanhoudend klits. Roer voortdurend terwyl dit oor baie stadige hitte kook tot dit die agterkant van ’n lepel bedek en ’n vla vorm. Roer die grondbone by. Giet die mengsel in ’n roomysbak en sit in die vrieskas. Roer tot dit gevries is elke halfuur om die yskristalle te breek (sowat 2-3 uur).

Smores (genoeg vir agt mense)

8 piesangs 
16 klein Bar-Ones
16 malvalekkers
tennisbeskuitjies, gekrummel

Metode

Sny die piesangs oop en pak in elkeen twee Bar-Ones. Draai in tinfoelie toe. Braai sowat 5 min. oor die kole tot die sjokolade gesmelt is. Skep in ’n bakkie. Pak 2 malvalekkers op elk en rooster met ’n blaasvlam tot die malvalekkers goudbruin is. Sprinkel die tennisbeskuitjies oor en sit voor met die roomys.

Lombard en Lienkie

Slaai
Bestanddele

verskillende slaaiblare
feta, gekrummel
1 avokado, pit en skil verwyder en in skywe gesny
aarbeie
geroosterde kasjoeneute

Metode

Meng alles in ’n slaaibak en bedruip met ’n slaaisous van jou keuse.

Pizza-braaibroodjie
Bestanddele

2 pizza-basisse (nog gevries)
blatjang
feta, gekrummel
mozzarella, gerasper
cheddarkaas, gerasper
1 ui, gesny
1 tamatie, gesny
sout en peper

Metode

Smeer die basisse met die blatjang en pak op die een basis die kase, ui en tamatie. Geur met die sout en peper. Plaas die ander basis bo-op en braai in ’n toeklaprooster tot bros en gereed.

Gevulde soetrissies
Bestanddele

fetakaas
cheddar
mozzarella
roomkaas
knoffel, gerasper
gaar spek, fyn gekap
sout en peper
roosmaryn-en-olyf-speserye
soetrissies, gehalveer en pitte verwyder

Metode

Meng die kase, knoffel en spek en geur met die sout, peper en speserye. Skep die mengsel in die soetrissiehelftes. Pak in oondbakkies en bedek met tinfoelie. Rooster 20-40 min. in die bakkies oor die kole.

Phillip en Lienkie

Botterskorsie-en-patat-groentepot
Bestanddele

botterskorsie, gesny
patat, gesny
sondroë tamaties
feta, gekrummel
dukka-speserye

Metode

Pak die botterskorsie, patat, tamaties en feta in ’n oondvaste pot. Geur met die dukka-speserye. Bedek met tinfoelie en bak sowat 30-35 min. op ’n rooster oor die kole.

Snoek met ’n soet-suur-sousie
Bestanddele

botter, gesmelt
sojasous
appelkooskonfyt
sap van 1 suurlemoen
1 groot snoek

Metode

Meng die botter, sojasous, appelkooskonfyt en suurlemoensap in ’n bak. Hou van die sous eenkant en verf die snoek mildelik met die res. Braai oor warm kole terwyl jy voortdurend van die sous daaroor verf. Sit voor met roosterbrood, kaas en korrelkonfyt.

Mengelslaai
Bestanddele

blaarslaai
rooi-ui, fyn gekap
avokado, skil en pit verwyder
beet, in skywe of blokkies gesny
bokmelkkaas, gekrummel
neute

Metode

Meng al die bestanddele in ’n slaaibak en bedruip met ’n slaaisous van jou keuse.

Sjokoladebruintjie-lemoene met malvalekkers
Bestanddele

sjokoladebruintjiemengsel
140 g botter, gesmelt
4 eiers
sjokoladestukkies
amandels, fyn gekap
3 lemoene, gehalveer en uitgeskep
malvalekkers

Metode

Berei die mengsel volgens die aanwysings op die verpakking. Voeg die botter en eiers by en klits goed. Voeg die sjokoladestukkies en amandel by en meng goed.
Skep die bruintjiemengsel in die lemoenhelftes en draai met tinfoelie toe. Braai sowat 30 min. oor die kole.
Verwyder die tinfoelie dadelik en pak die malvalekkers op die bruintjiemengsel.
Sit voor met roomys en vla.