Rowan en Jacques wys mediese kundiges kan ook braai.

Hier is al vanaand se resepte:

Leon en Erna

Leon en Erna

Skaapribbetjie

Bestanddele

1 groot Karoo-skaaprib

olyfolie

suurlemoensap

vars knoffel

vars roosmaryn

sout en gemaalde swartpeper

Metode

1 Sny die vetkant van die skaaprib met ’n skerp mes en vryf goed met die olyfolie.

2 Vryf die res van die bestanddele in alle kepies van die rib.

3 Laat dit ’n paar uur staan. Oornag is die beste.

4 Plaas die rib op ’n toekniprooster en hang hom minstens 3 uur regop oor die kole.

5 Draai gereeld sodat al die vet uitdrup.

Hoendersosaties

Bestanddele

groen, rooi en geel soetrissies

heuning

vars tiemie

sout en peper

’n bietjie Coke

olyfolie

suurlemoensap

hoenderborsies, in blokke gesny

Metode

Meng al die bestanddele behalwe die suurlemoensap goed en marineer die hoenderblokkies oornag daarin.

Druk ongeveer ’n uur voor die braai vars suurlemoensap oor.

Ryg die blokkies hoender en soetrissies om die beurt aan sosatiestokkies wat in water geweek is.

Braai oor matige kole tot gaar.

Fonkiedool-aartappels

Bestanddele

baba-aartappels

vars kruie van jou keuse

spek

sout en peper

uie, gesny

olyfolie

½ pakkie soppoeier – wit- of bruinui of sampioen

’n paar klein blokkies botter

Metode

1 Plaas al die bestanddele in ’n foeliebak. Maak baie dig toe en sit foelie bo-oor.

2 Plaas vir minstens ’n uur tot ’n uur en ’n half op matige kole of tot aartappels lekker sag is.

Leon en Erna

Vuurpylslaai

Bestanddele

roketblare

kiwi’s, geskil en dun gesny

rooi-ui, in dun ringetjies gesny

gekrummelde bloukaas en/of feta

advokado

balsemieke asyn of heuning-mosterd-slaaisous

Metode

1 Pak al die bestanddele in lae in ’n bak en gooi die asyn of slaaisous oor.

Tuisgemaakte Wild Africa-roomys

Bestanddele

500 ml room

250 ml Wild Africa Cream

250 ml melk

Metode

Klop die room styf.

Vou die likeur en melk by die room in.

Verwerk in ’n roomysmaker tot roomys.

Duitse appeltert

Bestanddele

TERT

1 k meel

1 t bakpoeier

’n knippie sout

3 e sagte botter of margarien

1 k strooisuiker

3 eiers, geklits

1 blik tertappels

SOUS

250 ml room

250 ml melk

1 k suiker

Metode

1 Tert Meng die meel, bakpoeier en sout.

2 Vryf die botter in die meelmengsel en meng deeglik.

3 Voeg die suiker en eiers by.

4 Meng alles, gooi die beslag in ’n gesmeerde tertbak (vir die oond) of swart platbodempot (vir die vuur).

5 Pak die tertappels op die beslag en bak tot goudbruin en gaar.

6 Sous Gooi al die room, melk en suiker in ’n pot en laat liggies prut tot die suiker gesmelt is.

7 Gooi die warm sous oor die warm appeltert.

8 Maak gaatjies in die appeltert sodat die sous kan intrek.

Rowan en Jacques

Rowan en Jacques

Beeshaas

Bestanddele

olyfolie

rooiwynasyn

sout en peper

Worcestersous-sprinkel

beeshaasfilette

Metode

1 Maak ’n marinade met die olie, asyn, sout, peper en sprinkel en marineer die vleis oornag daarin.

2 Braai soos verlang oor warm kole.

Kabeljou

Bestanddele

1 kabeljou

uie, gesny

tamaties, in skywe gesny

visspesery

vars tiemie

basiliekruidblare

Metode

1 Maak die kabeljou skoon. Los die vel aan en vlek die vis.

2 Pak ’n laag uie en ’n laag tamatie op die vis.

3 Geur met die visspesery, tiemie en basiliekruid.

4 Vou die vis toe en draai toe in kospapier.

5 Draai toe in vier lae koerantpapier.

6 Bind met tou vas.

7 Maak deeglik nat en plaas tussen die kole.

8 Stoom die vis gaar.

Rowan en Jacques

Groentegereg

Bestanddele

gemengde groente van jou keuse

olyfolie

balsemieke asyn

Metode

1 Sny die groente in blokke en meng met die olyfolie en asyn.

2 Plaas in ’n oondvaste pan in die oond of op die kole tot die groente sag en geurig is.

Koeskoes

Bestanddele

2 k koeskoes

4 k hoenderaftreksel

Metode

1 Plaas die koeskoes in ’n bak.

2 Bring die hoenderaftreksel tot kookpunt en gooi oor die koeskoes.

3 Bedek en plaas eenkant sodat dat die vloeistof geabsorbeer kan word.

4 Vlok die koeskoes met ’n vurk.

Roomys met sjokoladesous

Bestanddele

Bar-One-sjokolade

Lindt-sjokolade

room

vanieljeroomys

Metode

1 Smelt die twee soorte sjokolade saam en voeg die room by.

2 Verhit tot regdeur warm en gooi die sous bo-oor die roomys in bakkies.

Wayne en Sue

Wayne en Sue

Biergemarineerde kruisskyf

Bestanddele

(Daar is geen spesifieke hoeveelhede nie; gebruik net soveel soos die hart begeer.)

300 g kruisskyf

Tileba Vleismark-vleisspesery

olyfolie

bier van jou keuse

Metode

1 Geur die vleis aan albei kante met die speserye.

2 Giet die olyfolie en bier oor die vleis.

3 Maak die vleisbak toe en skud om als goed te meng en liefde daarin te sit. Marineer ’n paar uur, verkieslik oornag.

4 Braai oor matige kole en geniet dit.

Kampvuur-aartappels

Bestanddele

(Daar is geen spesifieke hoeveelhede nie; gebruik net soveel soos die hart begeer.)

groot aartappels, in skywe gesny, of baba-aartappels, gehalveer

uie, in ringe gesny

knoffel

sout en peper

cayennepeper

Worcestersous

botter, in blokkies gesny

Metode

1 Pak die aartappels en uieringe in ’n foeliebak en gooi die knoffel sommer met die hand oor die aartappels.

2 Meng goed met die hand.

3 Gooi dan die sout, peper, cayennepeper en Worcestersous oor en meng met jou hande goed deur.

4 Plaas die botterblokkies op die aartappels.

5 Bedek met foelie en plaas vir ongeveer 30 min. op die kole.

Boerewors-eierbootjie

Bestanddele

(Daar is geen spesifieke hoeveelhede nie, net soveel soos die hart begeer.)

boerewors

ciabatta-broodjies

eiers

room

sprietuie

kaas (lekker baie)

sout en peper

Metode

1 Braai die boerewors tot medium gaar en sny in skywe.

2 Hol die broodjies uit, maar nie te diep nie, want dan raak dit pap en loop die mengsel uit.

3 Pak redelik baie wors in die broodjie.

4 Klits die eiers en room goed, voeg die sprietuie en kaas by en meng goed.

5 Giet van die eiermengsel oor die boerewors tot broodjie vol is.

6 Bedek met foelie en plaas vir ongeveer 30 min. op die kole.

Wayne en Sue

Pittige Mexikaanse groente

Bestanddele

murgpampoentjies

mielies

geel en groen vlapampoentjies

sampioene

knoffel

sondroë tamaties

botter

uie

peri-peri-sous

komyn

Metode

1 Kerf die groente in bonkige porsies en meng.

2 Meng die knoffel en tamaties by die groente in.

3 Smelt die botter, soteer die uie en voeg die peri-peri-sous en komyn by.

4 Voeg die uiemengsel by die groente en meng goed.

5 Plaas in ’n foeliebak, bedek met foelie en plaas vir ongeveer 30 min. op die kole.

Wortelkoekpotjie

Bestanddele

KOEK

1 k olie

4 eiers

2 k strooisuiker

2 k koekmeel

2 t bakpoeier

2 t koeksoda

1 t sout

1 t meel

2 k wortels, gerasper

1 blik pynappel, gedreineer

200 g pekanneute, gekap

VERSIEROOM

1 houertjie roomkaas

1 k versiersuiker

1 t vanieljegeursel

Metode

1 Koek Meng die olie, eiers en suiker in die potjie en roer oor hitte tot die suiker gesmelt het.

2 Meng die droë bestanddele deeglik en voeg by potjie.

3 Voeg wortels, pynappel en neute by en meng goed.

4 Sit die deksel op die pot en bak 40-50 min.

5 Plaas ’n paar kole op die deksel.

6 Versierroom Maak die versierroom aan terwyl die potjie bak. Klits die roomkaas, versiersuiker en vanielje saam tot daar nie meer klonte is nie. Jy kan ’n bietjie water byvoeg om die mengsel meer loperig te maak.

7 Sodra die koek gaar is, verwyder van die kole en laat rus 10 min. Skep lepels vol uit en sit warm met die versierroom voor.