Juan en Mandy steek die vuur aan in Langebaan vir hul sappige kruisskyf. Gerhard en Dina voer 'n burger-oorlog teen Wessel en Lezanne.

Hier is al die resepte uit vanaand se episode:

Gerhard en Dina

Dina en Gerhard

Bees-vleiskoekies vir burgers

Bestanddele

1,3 kg maalvleis

1,5 ml (opgehoopte teelepel) Dijon-mosterd

1 rooi-ui, gerasper

growwe peper

roomkaas

rissieblatjang

broodrolletjies

guacamole

blaarslaai

tamatie, in dik skywe gesny

1 rooi-ui, in skywe gesny

cheddarkaas, gerasper

Metode

Meng die maalvleis, mosterd, gerasperde rooi-ui en peper goed.

Maak agt groot vleiskoekies en druk ’n holte met jou duim in elke koekie.

Bedek die bak met kleefplastiek en sit eenkant by kamertemperatuur om te rus.

Braai 4 min. aan albei kante oor warm kole en dan nog 1 min. aan die eerste kant.

Meng die roomkaas en rissieblatjang en smeer elke rolletjie aan die een kant met die mengsel.

Smeer die anderkant met guacamole.

Plaas die vleiskoekie op die broodjie, gevolg deur blaarslaai, tamatie, rooi-ui en kaas.

Dina en gerhard

Gevulde braaisampioene

Bestanddele

groot sampioene

1 teelepel knoffelbotter

parmesaankaas

cheddarkaas

vars pietersielie, gekap

growwe peper

Metode

Vul die sampioene met die knoffelbotter, parmesaan, cheddar en pietersielie en geur met die peper.

Voer ’n pan met tinfoelie uit en plaas die sampioene in en bo-op die kole.

Bedek met tinfoelie en laat stoom tot gaar en sappig.

Vrugtekompot

Bestanddele

Gebruik ’n vuurvaste pot vir die oop vuur.

30 ml suurlemoensap

250 ml vars lemoensap

750g droë vrugte

2 naeltjies

1 kaneelstokkie

botter

Metode

Meng die suurlemoensap en lemoensap en giet oor die vrugte. Maak seker alles is bedek.

Voeg die naeltjies en kaneel by.

Laat 24 uur in die yskas verkoel, roer gereeld.

Die vrugte absorbeer die vrugtesap.

Smelt ’n bietjie botter in die pot en gooi die geweekte vrugte in.

Plaas die deksel op en stoom 25-30 min.

Verwyder die geurmiddels (naeltjies en kaneelstokkie).

Sit warm of koud voor saam met vla en roomys.

Juan en Mandy

Juan en Mandy

Kruisskyf

Bestanddele

kruisskyf

olyfolie

braaispeserye (ons het Hunters-biltongspeserye en Winchesters-speserye gebruik)

sout en vars gemaalde peper

neutmuskaat

Metode

Marineer die kruisskyf ten minste 4 uur in die olyfolie voor die braai.

Geur met die braaispeserye, sout en vars gemaalde peper en neutmuskaat.

Braai oor warm kole soos verlang.

Ciabatta met tamatie, uie en kaas

Bestanddele

ciabatta-brood

tamaties

rooi-ui

mozzarellakaas

sout en vars gemaalde peper

origanum

Sny die brood oop.

Kap die tamaties en ui en plaas binne-in.

Pak snye mozzarellakaas bo-op en geur met die sout, vars gemaalde peper en origanum.

Plaas in ’n toeklaprooster en braai oor matige hitte tot die kaas gesmelt en die brood goudbruin en krakerig is.

Juan en Mandy

Kersfeesslaai

Bestanddele

kersietamaties

rooi-ui

avokadopeer

gemengde slaaiblare

fetakaas

olywe

parmesaanskaafsels

suiker

vars suurlemoensap

balsemieke asyn

olyfolie

sout en vars gemaalde peper

Metode

Halveer die tamaties en kap die rooi-ui op.

Sny die avokadopeer in skywe.

Pak die slaai met slaaiblare onder, dan tamatie en uie en dan skywe avokadopeer.

Krummel die fetakaas bo-op en sprinkel die olywe oor.

Rond die slaai met parmesaanskaafsels af.

Meng die suiker, suurlemoensap, balsemieke asyn, olyfolie, sout en vars gemaalde peper en giet oor die slaai of sit apart voor.

Appel-aarbei-tert

Bestanddele

2 blikkies aarbeie

suiker

1 blikkie appels

kaneel

2 rolle skilferkorsdeeg, ontdooi

Metode

Verhit ’n bietjie water, die sap van die aarbeie en suiker in ’n pot.

Kook tot die suiker gesmelt het.

Voeg die aarbeie en appels by en geur met die kaneel.

Laat afkoel.

Rol een rol deeg op ’n staalpan uit.

Giet die aarbeimengsel oor en bedek met die tweede rol deeg.

Bak in die Weber-braai tot warm en krakerig.

Wessel en Lezanne

Lezanne en Wessel

Beesvleiskoekies

maalvleis

goudakaas

gemengde speserye

sout en vars gemaalde peper

Metode

Meng die maalvleis, kaas en speserye en geur goed met die sout en vars gemaalde peper.

Rol in balletjies, druk plat en laat 1 uur in die yskas rus.

Braai oor warm kole soos verlang.

Uieringe

Bestanddele

uie

bierdeeg (maak self of koop)

Metode

Sny die uie in dik ringe.

Maak die bierdeeg, doop die uie daarin en diepbraai.

Sampioensous

Bestanddele

sampioene

2 houertjies room

sout en vars gemaalde peper

Metode

Kap die sampioene op en braai in ’n pan tot goudbruin.

Voeg die room by en geur met die sout en vars gemaalde peper na smaak.

Roer aanhoudend op ’n hoë hitte tot die sous verdik.

Lezanne en Wessel

Roosterkoek

Bestanddele

brooddeeg (gekoop)

Metode

Verdeel die deeg, wat reeds in die sakkie gerys het, in balletjies.

Maak in die vorm van ’n roosterkoek.

Braai oor matige hitte tot die buitekant krakerig is en die broodjie hol klink as jy dit klop.

Watertand potpoeding

Bestanddele

250 g margarien

2 pakkies vingerbeskuitjies

1 groot koppie sterk koffie (ongeveer 4 teelepels)

1 koppie brandewyn

2 groot blikke versnipperde perskes (gooi die stroop af)

1 groot blik vrugtekelkie (behou die stroop)

1 blik kondensmelk

1 groot pak malvalekkers

1 klein bakkie rooikersies

1 pakkie ongesoute neute

1 suurlemoen se skil, gerasper

Metode

Smeer die pot dik met die margarien.

Pak die vingerbeskuitjies in die bodem – bedek heeltemal.

Giet die louwarm koffie oor die beskuitjies.

Giet die brandewyn oor.

Meng al die geblikte vrugte en die stroop van slegs die vrugtekelkie en giet bo-oor die koekies.

Giet die kondensmelk eweredig oor.

Maak die pot toe en plaas 10-15 min. in die kole.

Voeg die malvalekkers by wanneer die vrugte lekker warm is.

Sit voor saam met gekapte kersies en neute.

Plaas weer die deksel op en pak ’n paar kole bo-op.

Laat staan tot die malvalekkers lekker warm en sag is.

Sit voor in bakkies en garneer met die suurlemoenskil.