Adrian en Elana

Elana en Adrian

Steak

Bestanddele

steaks van jou keuse

vleisspesery van jou keuse

Metode

Vryf jou steaks sommer lekker met vleisspeserye in.

Moenie ekstra sout daaroor strooi nie.

Plaas in die yskas om te rus tot jy dit nodig het.

Maak warm kole vir die steak; matige kole sal nie werk nie.

Braai vinnig sodat die steak nie oorgaar word nie.

Roosterbroodjies

Bestanddele

1 kg koekmeel

7 g-pakkie kitsgis

60 g suiker

2 eetlepels olyfolie

½ teelepel sout

warm water

Metode

Meng die meel, gis, suiker en olie in ’n voedselverwerker.

Laat die voedselverwerker op ’n stadige stelling aanhou loop en voeg warm water stadig en bietjies-bietjies by tot die deeg glad en elasties is.

Verplaas na ’n diep bak en bedek met kleefplastiek.

Laat staan 30 minute op ’n warm plek om te rys.

Verwyder en knie af.

Verdeel in twee balle en plaas op ’n oondplaat.

Plaas nog 30 minute op ’n warm plek.

Braai oor medium tot warm kole en draai versigtig om.

Die brood is gaar wanneer dit ’n hol klank maak as jy daarteen klop.

Sampioensous

Bestanddele

1 teelepel olie of botter

150 g knopiesampioene, gesny

150 ml room

1 teelepel vars gemaalde swartpeper, of meer na smaak

1 teelepel gemaalde seesout

2 knoffelhuisies, gekap (opsioneel)

Metode

Verhit olie of botter in ’n pan oor medium tot hoë hitte.

Voeg sampioene by en roerbraai tot ligbruin.

Verlaag die hitte tot medium.

Voeg room, sout en peper by en laat weer kook.

Kook 5-8 minute en roer elke nou en dan.

Maak seker dat die room nie oorkook nie.

Wanneer die sous met die helfde verminder het, voeg die knoffel (indien gebruik) by en kook nog ’n minuut.

Elana en Adrian

Boompieslaai

Bestanddele

1 pakkie spek, gekap

1 groot broccoli, in florette gebreek

soetrissies van jou keuse, gekap

Metode

Kook die broccoli tot heldergroen en halfhard.

Braai spek oor warm kole tot bruin en bros.

Braai die soetrissies vinnig oor hoë hitte.

Meng soetrissies, spek en broccoli bymekaar.

Bedien warm of koud.

Gebakte groente

Bestanddele

groente van jou keuse

olyfolie

roosmaryn

Stoom die groente in die mikrogolfoond.

Plaas in ’n bak met olyfolie en roosmaryn.

Bedek met foelie en plaas oor die kole tot sag en geurig.

Sjokoladefondant

Bestanddele

150 g botter en ekstra vir smeer

85 g strooisuiker

150 g 70% donkersjokolade, grof gekap

3 eiers

3 eiergele

1 eetlepel meel

volroom-room vir voorsit

Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer klein oondbakkies met botter.

Plaas suiker, botter en sjokolade in ’n bak bo-oor ’n pot pruttende water.

Verhit effens tot die botter en sjokolade gesmelt is en verwyder van die hitte.

Voeg die eiers en eiergele by en klits goed.

Vou die meel in.

Giet in die bakkies en plaas 20-25 minute in die yskas om af te koel.

Verwyder uit die yskas en plaas op ’n bakplaat.

Plaas 8-9 minute in die oond.

Laat 1-2 minute rus en dop uit.

Bedien met ’n skep room.

Marisa en Riaan

Marisa en Riaan

Roosmaryn gegeurde lamsribbetjie

Bestanddele

lamsribbetjie

braaispeserye

olyfolie

vars roosmaryn

Metode

Meng speserye met olyfolie en smeer oor die ribbetjie met ’n kwas.

Breek roosmaryn in stukkies en steek dit binne-in die vleis.

Laat lê die vleis vir ongeveer 3 ure.

Braai op warm tot medium kole.

Braai aan al die kante van die ribbetjie totdat die binnekant van die ribbetjie ligte pienk na bruin verkleur.

Moenie droog braai nie.

Rooiwyn-sampioen-sous

Bestanddele

sampioene

knoffel

rissievlokkies

rooiwyn

250ml vars room

sampioensop-poeier

cheddarkaas, gerasper

Metode

Smelt botter in potjie op die kole.

Voeg sampioene, knoffel en rissieflokkies by.

Voeg rooiwyn by na smaak en roer terwyl dit inkook.

Voeg vars room by.

Verdik met sampioensop-poeier.

Voeg gerasperde cheddarkaas by.

Roer tot dit dik raak.

Gelaaide aartappels

Bestanddele

aartappels

spek, gekap

sampioene, gesny

250ml room

1 pakkie parmesankaas

knoffelpoeier

Metode

Kook aartappels tot halfgaar op die stoof.

Braai spek tot gaar.

Plaas aartappels, spek en sampioene in ’n foeliebak.

Meng die room, parmesankaas en knoffelpoeier bymekaar.

Giet die roommengsel oor die aartappels.

Bedek met foelie en kook oor medium kole vir ongeveer 40 minute.

Marisa en Riaan

Maestro-sampioene

groot braaisampioene

repiesspek

parmesankaas

vars pietersielie, gekap

rissieflokkies

cheddarkaas, gerasper

Metode

Plaas repiesspek bo-op elke sampioen.

Strooi parmesankaas, pietersielie, rissieflokkies en cheddarkaas oor.

Draai toe in foelie.

Braai oor medium kole vir ongeveer 15 minute.

Sjokolade doopsous op die braai

Bestanddele

melksjokolade van jou keuse

250ml vars room

250ml Amarula

cake pops (vooraf gemaak)

aarbeie

nougat

Metode

Kook water in ’n platboom pot.

Plaas blikbekers in die warm water.

Smelt sjokolade in die bekers.

Meng die Amarula en room en verdeel tussen die bekers.

Roer tot dit gesmelt en gemeng is.

Plaas aarbeie en nougat op sosatiestokkies en doop dit en cake pops in die sous.

Derick en Marina

Marina en Derick

Skaapstertjies

Bestanddele

skaapstertjies

4 naeltjies

1 teelepel sout

swartpeper na smaak

braaispesery

Aromat

Metode

Plaas skaapstertjies, warm water, naeltjies, sout en peper in ’n drukkoker en kook vir ongeveer 30 minute tot sag.

Pak stertjies uit op ’n rooster en gooi braaisperserye en Aromat oor.

Braai oor warm hitte tot krakerig.

Hoenderskilpadjies

Bestanddele

hoenderborsies

fetakaas

soetrissiesous

netvet

hoenderspeserye

Aromat

Metode

Sny ’n keep in elke hoenderborsie en vul met fetakaas.

Rol die filet in soetrissiesous.

Draai toe in netvet.

Gooi hoenderspesery en Aromat oor.

Braai op die rooster tot die vet krakerig is.

Dit is nie nodig om feta in te sit nie. Die hoenderskilpadjies kan ook sonder ’n vulsel gebraai word.

Filet

Bestanddele

filette

soetmelk of cheddarkaas

suurlemoensap

olyfolie

steak en tjops spesery

Jimmy’s sous (opsioneel)

Metode

Neem ’n filet en sny ’n keep in die breë kant.

Maak dit so diep as moontlik sonder om deur te sny.

Vul die vleis met gladde soetmelk of cheddarkaas.

Maak die punt toe met tandestokkies.

Gooi suurlemoensap, olyfolie en steak en tjops speserye oor.

Braai oor hitte kole vir sowat 30 minute vir ’n medium-rou steak.

Indien jy wil kan jy tydens die laaste 5 minute Jimmy’s sous oor die filet smeer.

Brood

Bestanddele

1kg witbroodmeel

1 pakkie gis

3 teelepels sout

bietjie louwarm water

Metode

Meng die broodmeel en gis.

Voeg louwarm water by tot die deeg redelik slap is en maklik kan meng.

Knie die deeg ’n bietjie tot lekker elasties.

Plaas in ’n gesmeerde swartpot, broodpan of blikkies om te rys.

Sodra die deeg tot bo gerys het, bak vir 1 uur op die vuur of in die oond teen 180C.

Marina en Derick

Slaai

Bestanddele

baba spinasie

1 rooi ui, in ringe gesny

1 ryp avokadopeer, in snye gesny

fetakaas, gekrummel

1 blikkies naartjies

swart pitlose druiwe, gehalveer

1 grondboontjiebroslekker

Metode

Pak in lae: baba spinasie, rooi ui, heel naartjies, avokadopeer, fetakaas en druiwe.

Breek die grondboontjiebroslekker bo-oor.

Groente

Bestanddele

botterskorsie

sampioene

murgpampoentjies

1 pakkie wituiesop-poeier

1 houertjie vars room

kaas na smaak, gerasper

swartpeper na smaak

Stappe

Voorverhit die oond tot 180C.

Sny die groente op soos jy verkies en plaas in ’n oondvaste bak.

Klits uiesop en room bymekaar.

Giet uiesopmengsel oor die groente.

Strooi kaas bo-oor.

Geur met swartpeper.

Bedek met foelie en bak in die oond vir sowat 1 uur tot al die groente sag is.

Gebraaide piesang

Bestanddele

piesangs (nie té ryp nie)

amandelvlokkies

grondboontjies, fyngemaal of -gekap

Amarula likeur

roomys

Stappe

Rooster neute in ’n pan met ’n bietjie olyfolie tot goudbruin.

Wees versigtig, dit brand maklik.

Rooster piesangs met skil aan op ’n oop rooster tot die skil swart verkleur.

Dop die piesangs uit (pasop, dit is baie warm) en plaas in ’n bakkie.

Strooi neute ooren bedien met roomys en Amarula.