Andrew en Emay

Emay en Andrew

Kruisskuif-marinade

Bestanddele

1 middelslag-ui, gehalveer

10 knoffelhuisies, geskil

2 vars rooi rissies

olyfolie

10 takkies vars tiemie, blaartjies gepluk

10 takkies vars roosmaryn , blaartjies gepluk

1 klein bondeltjie vars koljander

10 lourierblare

1 t komynsaad

2 t anyssaad

2 t paprika

6 naeltjies

2 lemoene, skil en sap

200 g sagte bruinsuiker

6 eetlepels balsamieke-asyn

200 ml tamatiesous

2 e worcestersous

vleissagmaker

2 t Engelse mosterd

200 ml appelsap

1 t seesout

1 t vars gemaalde swartpeper

Metode

Blits die ui, knoffel en rissies bymekaar in ’n voedselverwerker tot dit ’n pasta vorm. Verhit olyfolie in ’n pan en braai die pasta 5 min. om die geure uit te bring.

Voeg die tiemie, roosmaryn, koljander, lourierblare, komyn, anyssaad, paprika, naeltjies en lemoenskil in die voedselverwerker en meng goed.

Voeg die kruiemengsel in die pan en kook 1 min.

Voeg die suiker by en roer goed tot dit begin oplos en ’n dik, bruin pasta vorm.

Voeg 285 ml water by en kook 2 min.

Druk die sap van 2 lemoene in en voeg die orige bestanddele by.

Meng goed en bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut 5-10 min. tot die mengsel begin verdik.

Giet die sous deur ’n fyn sif om ontslae te raak van die groter stukkies.

Giet weer deur om heeltemal glad te kry.

Laat heeltemal afkoel.

Verdeel in glas houers of gebruik dadelik om die vleis in te marineer.

Die marinade sal ’n week lank goed in die koelkas hou.

Rooiwynsous

Bestanddele

olyfolie

1 ui

2 knoffelhuisies

1 bottel rooiwyn

Metode

Braai uie en knoffel in olyfolie in ’n swartpot oor kole tot sag en deurskynend.

Gooi rooiwyn in en laat sowat 20 min. verdik.

Roer af en toe.

Hoendersosaties

Bestanddele

hoenderborsies

repiespek

soetrissiesous

KOB Emay Andrew Kos

Metode

Sny hoenderborsies in blokkies.

Draai elke blokkie in ’n repie spek toe.

Ryg toegedraaide hoenderblokkies aan ’n sosatiestokkie.

Braai sosaties oor matige tot warm vuur.

Sodra dit van die vuur afkom, gooi ’n goeie hoeveelheid soetrissiesous oor.

Broccolislaai

Bestanddele

2 groot koppe broccoli

6 repies gerookte spek, fyn gekap

olyfolie

3 tamaties, gehalveer, ontpit en fyn gekap

1 bossie vars grasuie, fyn gekap

blommetjies van die grasuie (opsioneel)

Vir die slaaisous

½ knoffelhuisie, fyn gerasper

2 t Dijon-mosterd

6 e olyfolie

2 e witwynasyn

seesout

vars gemaalde swartpeper

Metode

Verwyder die broccoli se florette en gebruik ’n messie om dit in kleiner florette te sny sodat dit mooi delikaat in die slaai lyk.

Die stam sal oorbly. Gooi die dik, droë onderdeel weg en sny die res fyn.

Blansjeer die broccoli en gesnyde stamme 1 min. in kokende soutwater.

Die broccoli moet effens sag wees, maar steeds ferm.

Dreineer en versprei oor ’n skoon vadoek om droog te stoom. Hierdie stap is belangrik, want dit help dat die sous aan die broccoli kleef.

Verplaas na die opdienbak.

Braai spek oor matige hitte in ’n bietjie olyfolie tot krakerig en goudbruin.

Skep oor die broccoli.

Gooi die oorblywende vet in ’n mengbak, voeg die ander sousbestanddele by en klits.

Voeg die gesnyde tamaties en gekapte grasuie en orige bestanddele by.

Gooi die slaai sous oor en versier met grasuiblomme.

Notas:

Fetakaas, vars rissies or verskillende kleure kersietamaties werk ook baie goed in hierdie slaai.

Sjokoladeverrassing

Bestanddele

1 k koekmeel

1 k suiker

3 e kakao

1 k louwarm water

1 t vanieljegeursel

4 t bakpoeier

¼ t sout

2 eiers

¼ k kookolie

malvalekkers

donkersjokolade-blokkies

Oreo-koekies

Metode

Meng alles en plaas in ’n oondvaste glasbak.

Bedek met tinfoelie en plaas oor matige kole.

Plaas ook ’n hand vol kole bo-op.

Laat 15 min. toe om gaar te word.

Karamelbroodjie met room en bruinsuiker

Bestanddele

1 pak brooddeeg

½ k bruinsuiker

1 houertjie room (ons het ½ room en ½ k melk gebruik).

botter

Smeer die pot lekker dik met botter.

Gooi ’n klein bietjie suiker en ’n bietjie room onder in die pot.

Maak bolletjies met deeg en pak bo-op die room-en-suikermengsel.

Gooi orige suiker en room oor.

Laat rys sowat 1 uur.

Sit pot op rooster op die vuur en bak 15 min.

Hannes en Jackie

Jackie en Hannes

Braaibroodjie

Bestanddele

heelkorrelmosterd

silverside

grasui of rooi-ui

mayonnaise

cheddar of wit kaas

pitabroodjies

Metode

Plaas pitabroodjies vir sowat 10 sek. in die mikrogolf om sag te word.

Sny oop.

Smeer aan die een kant mayonnaise en die ander mosterd na smaak.

Plaas ’n sny silverside op die broodjie.

Sprinkel met grasuie en gemengde cheddar of wit kaas.

Mielies

Bestanddele

geel mielies, in die helfte gesny

botter

parmesaan

spek

tandestokkies

Metode

Kook die mielies vooraf en laat afkoel.

Smeer met botter.

Gooi parmesaan oor en vryf in.

Draai spek om en steek vas met tandestokkie.

Braai tot die spek gaar en goudbruin is.

KOB jackie en hannes kos

Braaihoender

Bestanddele

hoenderstukke van jou keuse

1 t knoffel

1 t gemmer

4 t sojasous

heuning

olyfolie

sout en peper

Meng knoffel en gemmer in ’n klein bakkie.

Voeg sojasous by.

Voeg heuning en olyfolie na smaak by.

Geur met sout en peper na smaak.

Smeer oor die hoenderstukke en plaas op matige kole.

Smeer gereeld met die orige sous tot die hoender gaar is.

Nagereg

1 blikkie bloubessies

2 e bruinsuiker

1 bakkie mascarpone-kaas

1 bakkie aangesuurde room

1 e vanieljegeursel

2 rolle skilferkorsdeeg, ontdooi

Metode

Kook die bloubessies en bruinsuiker saam.

Meng die mascarpone, aangesuurde room, bruinsuiker en vanieljegeursel bymekaar.

Smeer albei mengsels op die een rol skilferkorsdeeg. Laat die kante oop.

Sit die ander rol skilferkorsdeeg bo-op en druk die kante by mekaar.

Braai oor matige hitte tot die deeg goudbruin is en die vulsel gesmelt.

Sny in blokke en sit voor.

Wimpie en Rhonette

Rhonette en Wimpie

Beessosaties

Bestanddele

verouderde bees boudstuk

groen, rooi en geel soetrissies

rooi-uie

vleissagmaker

worcester-braaispesery

tamatiemarinade (gekoop)

Metode

Week sosatiestokkies in louwarm water sodat die stokkies nie splinter nie.

Sny die bees in blokkies.

Sny die uie en soetrissies in blokkies.

Ryg die vleis, uie en rissies aan die stokkie en plaas in ’n bak.

Geur die sosaties met vleis sagmaker en worcester-braaispesery en laat staan 30 min.

Gooi die gekoopte sosatiemarinade oor en laat week tot die kole reg is.

Braai die sosaties op warm kole tot gaar na jou smaak.

Lamtjoppies

Bestanddele

lamtjops, snit van jou keuse

worcestersous

tamatiesous

blatjang

’n klein bietjie sojasous

’n klein bietjie suurlemoensap

Metode

Plaas die tjops in ’n marineerbak.

Gooi al die bestanddele oor. Daar is nie mates nie; skat na smaak.

Maak die bak toe en skud tot die sous en speserye al die tjops bedek het.

Braai oor matige kole tot gaar.

Gevulde broodrolletjies

Bestanddele

coney rolletjies

rooi-uie, gekap

vars knoffel

wit cheddarkaas, gerasper

mayonnaise

Metode

Sny gleuwe in elke broodjie (nie deursny nie), soos jy ’n knoffelbrood sal maak.

Meng al die bestanddele. Daar is weer geen mates nie, maar moenie te veel mayonnaise gebruik nie.

Die mengsel moenie te watering en pap wees nie.

Vul die snye van die rolletjies met die vulsel.

Draai twee broodjies saam toe in foelie en braai oor matige kole tot die kaas gesmelt het en die broodjie effens gerooster is.

KOB Rhonette en wimpie kos

Knoffelsampioene

Bestanddele

groot sampioene

sprietuie

knoffel

wit cheddarkaas

botter

Metode

Plaas die sampioene op foelie.

Sit knoffel op na smaak.

Sit stukkies botter op die sampioene.

Sprinkel gekapte sprietuie oor.

Strooi kaas oor.

Maak toe in foelie en braai oor matige kole tot alles gesmelt het en in die sampioene ingetrek het.

Mengelslaai

Bestanddele

blaarslaai van jou keuse

kersietamaties, in die helfte gesny

komkommer, in halwe skyfies gesny

rooi-ui, in ringe gesny

olywe (enige olywe wat jy verkies)

croutons (gekoop of tuisgemaak)

slaai aspersies

fetakaas

cheddar- of goudakaas, in blokkies gesny

1 blik ertjies

2 e mayonnaise

slaaisous van jou keuse

Metode

Neem ’n plat, ovaalvormige bord en pak al die bestanddele behalwe die ertjies en mayonnaise in lae.

Begin met die blaarslaai.

Die blik ertjies kom laaste op in die middel van die slaai.

Dit moenie meng met die res nie.

Skep die mayonnaise bo-op die ertjies.

Sit die slaaisous apart voor.

So kan die mense opskep vir die slaai wat hulle eet.

’n Koppie vol soet liefde

Bestanddele (per koppie)

2 tennisbeskuitjies, fyn gebreek

1 skeut Marula-room

vla

piesangs (opsioneel)

1 blikkie karamel

malvalekkers

groen kersies (opsioneel)

makadamianeute

amandelvlokkies

Flake (sjokoladestokkie)

sjokoladevlokkies

Peppermint Crisp

aarbeie en Wafer-koekies vir voorsit

Metode

Bespuit die blikbeker met kossproei.

Breek die tennisbeskuitjies en plaas dit onder in die beker.

Gooi die Marula-room oor die beskuitjies, gevolg deur die vla.

Sit ’n opgehoopte lepel karamel in die middel.

Plaas 1 malvalekker bo-op die karamel. Dit moet nie aan die kante van die beker raak nie.

Gooi die res van die bestanddele rondom die malvalekker.

Breek laastens die Peppermint Crisp fyn en strooi oor.

Maak die koppie toe met foelie en plaas op ’n foeliebraaibakkie.

Sit die foeliebakkie met die bedekte koppie direk langs die kole.

Hou dop en haal van die braai af sodra alles gesmelt het.

Sit die beker voor op ’n klein bordjie en versier die bord met die aarbeie en Wafer-koekies.