By Johann en Natasha se braai word ou staatmakers voorgesit, terwyl die vleiskenners Dawid en Larika uithaal en wys met ’n groot verskeidenheid vleis.

Dawid en Larika

Dawid en Larika

Picanha-biefstuk

Bestanddele

olyfolie

swartpeper

knoffel

pikantrissies, gekap

kruisskyf met ’n dik vetlaag aan (rump cap)

Maak so

Meng die bestanddele vir die marinade.

Sny kepe in die vetgedeelte van die vleis sodat die marinade goed kan intrek.

Smeer die marinade oor die vleis en laat staan oornag in die yskas.

Braai soos verlang.

Dawid

Varknek-en-speksosaties

Bestanddele

varknek, in blokkies gesny

repiesspek

soet mosterdsous

sosatiestokkies

Maak so

Sny die varknek in klein blokkies.

Ryg die blokkies en spek om die beurt aan die sosatiestokkies.

Gooi die soet mosterdsous oor.

Braai soos verlang of tot die spek krakerig is.

Ontbeende lamsrib

Bestanddele

suurlemoensap

biltongspesery

ontbeende lamsrib

Maak so

Gooi ’n bietjie suurlemoensap en die biltongspeserye in ’n bak.

Plaas die ontbeende lamsrib met die klam kant na onder in die bak sodat die speserye aan die vleis kan vassit.

Gooi nog ’n bietjie suurlemoensap en biltongspeserye bo-oor.

Braai soos verlang.

Boerewors

Bestanddele

boerewors van die plaaslike slaghuis

Maak so

Braai tot gaar oor matige tot warm kole.

Blikkiebrood

Bestanddele

1 ui, gekap

1 groen soetrissie, gekap

1 pakkie sampioene, gekap

repiesspek, gekap

winkelbrooddeeg

kaas, gerasper

Maak so

Braai die ui, soetrissie, sampioene en spek in ’n pan. Plaas eenkant om af te koel.

Rol die deeg uit, maar nie te dun nie.

Sodra die vulsel koud is, skep op die deeg en sprei eweredig uit.

Strooi die kaas bo-oor.

Rol die deeg in die lengte op.

Sny in wiele van sowat 3 cm breed.

Bespuit die blikkies met kossproei.

Plaas die deegwiele versigtig in die blikkies.

Braai in ’n Weber bo-op jou braai.

Indien jy ’n oop braai het, sit ’n deksel op sodat die hitte binne kan bly.

Biltong-kaaswors-slaai

Bestanddele

kaaswors

komkommer

kersietamaties, gehalveer

fetakaas

kropslaai

avokado

biltong, gekerf

balsemieke asyn

Maak so

Braai die kaaswors en plaas eenkant om af te koel.

Sny die ander bestanddele op en plaas in ’n groot slaaibak.

Sit die biltong op die slaai en pak die gebraaide kaaswors teen die kant van die bak.

Spuit die balsemieke asyn oor.

Wafels

Bestanddele

1 pakkie wafelmengsel (by koswinkels te koop, nat bestanddele op die verpakking aangedui)

Maak so

Berei die wafels volgens die aanwysings op die verpakking.

Bespuit ’n wafelpan met kossproei.

Bespuit eierringetjies met kossproei en gebruik dit om ronde wafels te maak.

Gooi die wafelmengsel in die pan en bak tot gaar.

Johann en Natasha

Beeshaas

Bestanddele

beeshaas in jou verlangde grootte

Jimmy-sous

Maak so

Laat lê die beeshaas minstens 2 uur in die Jimmy-sous.

Braai oor matige tot warm kole soos verlang.

Sampioen- of sampioen-jalapenosous

Bestanddele

200 g sampioene

½ ui, fyn gekap

2-3 jalapeno-rissies (opsioneel)

100 ml rooiwyn

100 ml room

sout en peper

Maak so

Braai die sampioene en ui in ’n pan tot bruin. (Voeg die jalapeno’s hier by, indien gebruik.)

Voeg die wyn en room by.

Laat kook met die helfte af en tot verdik.

Geur na smaak met die sout en peper.

Skilferkorsdeegbraaibroodjie

Bestanddele

1 pak skilferkorsdeeg

tamaties, gekap

uie, gekap

kaas, gerasper

groen soetrissie, gekap

sout en peper

speserye van jou keuse

olyfolie

Maak so

Sny die deeg die grootte wat jy jou broodjie wil hê.

Vul dit met die tamaties, uie, kaas en soetrissie.

Geur met die sout, peper en speserye.

Vou toe en seël aan die kante.

(Maak seker daar is geen lugborrels nie; dit sal keer dat die deeg breek wanneer jy dit braai.)

Smeer die olyfolie aan elke kant voor jy dit op die rooster pak om te verhoed dat dit vassit aan die rooster.

Spek-en-ertjie slaai

Bestanddele

kropslaai

gevriesde ertjies

spek, gesnipper

eiers, gekook en in die helfte gesny

mayonnaise

melk

sout en peper

knoffelspeserye

kaas, gerasper

Maak so

Pak die slaai in lagies: Plaas die kropslaai onder, dan die ertjies, spek en eiers.

Meng die mayonnaise en melk in ’n aparte bak om die mayonnaise ’n bietjie te verdun.

Geur met die sout, peper en knoffelspesery en klits goed.

Smeer ’n lagie van die mayonnaisemengsel oor die slaai en strooi die kaas oor.

Begin dan weer by die kropslaai en pak nog lagies tot die slaaibak vol is.

Amarula-patat

Bestanddele

patat, in skywe gesny

botter, genoeg om tussen die patatskywe te pak

bruinsuiker

Amarula

Maak so

Plaas die patatskywe in ’n swart pot.

Sny die botter in blokke en plaas dit tussen die patat.

Strooi die bruinsuiker bo en voeg die Amarula by.

Bak oor die kole tot romerig en soet.

Malvalekker-en-vlagereg

Bestanddele

Marie-beskuitjies

malvalekkers

1 blik karamel

Aero-sjokolade

vla (tuisgemaak of gekoop)

Maak so

Krummel 3 Marie-beskuitjies onder in ’n koppie of beker wat hitte-bestand is.

Plaas twee malvalekkers bo-op.

Voeg 2 e karamel by.

Voeg 3 blokkies sjokolade in die koppie en vul die res van die koppie met vla.

Sit so 5 min. op die rooster tot alles gesmelt het.

Sit ’n deksel oor die koppies sodat dit van bo af ook hitte kry.

John en Levona

John en Levona

Bobotietert

Bestanddele

1 ui

knoffel

3 t masala

1 kg beesmaalvleis

sout en peper

2 t borrie

4 snye witbrood

1 k melk

½ k blatjang

2 eiers

1 pakkie skilferkorsdeeg

eier vir oor die deeg smeer

Maak so

Braai die ui en voeg die knoffel by.

Wanneer die uie amper bruin gebraai is, voeg 1 t masala by.

Voeg die maalvleis by en geur met die sout en peper.

Meng die res van die masala en borrie bymekaar en gooi oor die vleis.

Sit die deksel op en laat prut ’n paar minute.

Sny intussen die kors van die 4 snye brood af. Laat week die brood in die melk.

Voeg die blatjang by maalvleis en meng deeglik.

Druk die melk uit die brood en voeg die brood by die res van die gereg.

Meng deeglik en laat prut 10 min.

Meng die oorblywende melk en die eiers en klits goed tot ’n lekker vla vorm.

Voeg die vla in die pot en sit die deksel terug.

Plaas ’n paar kole bo-op die pot sodat die vla kan set.

Rol die skilferkorsdeeg uit en sit dit bo-op die bobotie.

Smeer deeglik met die eier en laat bak tot die deeg goudbruin is.

Varktjops

Bestanddele

varktjoppies

sout en vars gemaalde swartpeper

steak-en-tjops-speserye

vars suurlemoensap

Maak so

Geur die tjoppies met die sout, peper en speserye.

Gooi die suurlemoensap oor.

Braai die vleis oor matige tot warm kole tot so gaar soos verlang.

Aartappels in spek toegedraai

Bestanddele

1 pak baba-aartappels

2 pakkies repiesspek

Maak so

Kook die aartappels in soutwater tot amper gaar, maar nie te sag nie.

Draai repiesspek om elkeen en steek dit met ’n tandestokkie vas.

Braai oor die kole tot die spek krakerig is.

pjimage

Weense appeltert (geneem uit die Huisgenoot)

Bestanddele

KORS

500 ml koekmeel

135 ml suiker

10 ml bakpoeier

’n knippie sout

180 ml botter

2 eiers, liggies geklits

VULSEL

1 blik tertappels

250 ml suiker

250 ml sultanas

5 ml kaneel

2 ml sout

30 ml mielieblom

30 ml brandewyn

versiersuiker vir oorsprinkel

room of vla vir voorsit

Maak so

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer of bespuit ’n tertbak van 30 cm.

KORS

Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter in.

Voeg die eiers geleidelik by om ’n deeg te maak wat uitgerol kan word.

Rol ¾ van die deeg uit en voer die tertbak daarmee uit.

VULSEL

Verhit die appels, suiker, sultanas, kaneel en sout saam.

Meng die mielieblom en brandewyn tot ’n pasta aan en voeg by die appelmengsel.

Kook tot die mengsel verdik.

Skep die vulsel oor die kors in die tertbak.

Rol die res van die deeg uit, sny sirkels en rangskik bo-op die appelvulsel.

Bak 30 min. tot die deeg goudbruin is.

Sif ’n bietjie versiersuiker bo-oor.

Sit voor met die room of vla.