Jonker en Penny

Penny en Jonker

Super-ciabatta

Bestanddele

1 groot ciabatta-brood

botter

mayonnaise

babaspinasie

tamatie, in skywe gesny

sout en peper na smaak

mozzarellakaas

Metode

Maak snye in die brood.

Vul met mascarpone-kaas, konfyt, botter, mayonnaise, spinasie en tamatieskywe

Strooi sout en peper oor na smaak.

Sny mozzarellakaas in skywe en pak bo-op die tamatie.

Braai soos enige braaibrood - sowat 25 min. oor matige kole tot die kaas gesmelt is. Draai gereeld.

Ridder-steak

Bestanddele

kruisskyf

olyfolie

peper

roosmaryn

tiemie

peper en kruie van jou keuse

Metode

Smeer olyfolie op steak en kraak peper oor – sout laat dit uitdroog.

Smeer roosmaryn en tiemie oor die vleis.

Laat rus minstens 3 uur voor braai.

Braai sowat 7 min.

As jy gaar steak soek, gaan McDonald’s toe!

Aspersies

Bestanddele

aspersies, geskil

sout en peper

suurlemoen

parmesaan, gerasper

Stappe

Braai aspersies op warm plaat tot gaar. Dit duur sowat 6 min.

Voeg sout, peper en suurlemoen by na smaak.

Sprinkel parmesaan oor met voorsit.

Penny en Jonker

Eiervrug-en-spinasiegebak

Bestanddele

1 groot eiervrug

botter vir panbraai

1 groot pak spinasie

1 houertjie room

125 ml melk

botter

1 pakkie wit uiesop

mozzarellakaas

parmesaankaas

tabasco, warm Engelse mosterd, worcestersous en jalapeno-rissies na smaak.

Sny eiervrug in ongeveer 1cm skywe sodat jy 6 het.

Strooi met sout en laat lê sowat 30 min.

Braai liggies in botter aan weerskante en stoom 10 min. in ’n klein bietjie water.

Verwyder uit pot.

Gooi spinasie in pot met eiervrug skywe weer bo-op gepak – laat stoom dan in ’n bietjie water. Hou dop dat dit nie vasbrand nie.

Sodra spinasie gestoom is (volgens jou smaak) en eiervrug lyk sag, verwyder eiervrug.

Skep oortollige water af – indien daar is.

Plaas eiervrug in ’n plat pot (gesmeer met botter) met skywe langs mekaar gepak.

Gooi houertjie room by spinasie in pot en meng 125 ml melk met die pakkie sop – gooi ook by en roer.

As dit te dik raak, voeg nog ’n bietjie melk by.

Skep spinasie bo-op eiervrug.

Besprinkel met mozzarella en parmesaan na smaak.

Bak tot kaas ligbruin verkleur.

Gebraaide Lindt-balletjies

Bestanddele

filodeeg

Lindt-balletjies van jou keuse

tou

kookolie

roomys

aarbeie en mini-malvalekkers

Ontdooi filodeeg en sny die velle in kwarte.

Draai elke Lindt-balletjie in een vel toe en bind vas met tou.

Knip orige deeg af.

Maak kookolie warm in ’n pot op die vuur.

Diepbraai sowat 1 min. op hoë hitte.

Sit voor saam met roomys, aarbeie en malvalekkers.

Johan en Gerda

Gerda en Johan

Ontbeende lamsboud op die kole

Bestanddele

1,8kg ontbeende lamsboud

vars roosmaryn

vars tiemie

vars koljander

olyfolie

vars suurlemoensap

sout, swart- en witpeper

knoffelhuisies

Metode

Smeer boud 4 dae voor braaidag met die olyfolie en vars gekapte kruie.

Halveer knoffelhuisies, maak snytjies in lamsboud en druk knoffel diep in elke gaatjie.

Gooi ruimskoots vars suurlemoensap oor lamsboud.

Rol die boud op en maak styf toe met kleefplastiek.

Plaas in koelkas tot braaidag

Strooi witpeper, ’n bietjie swartpeper en sout oor die lamsboud, na smaak.

Plaas lamsboud, vetkant eerste, op redelike warm kole en braai tot vet lekker bruin is. Dit duur sowat 15 min. Moenie die boud in hierdie tyd draai nie.

Draai lamsboud om, braai sowat 10 min., draai weer om op vetkant en braai nog 5 min.

Verwyder lamsboud van kole. Dit behoort nou medium tot gaar te wees.

Indien dit te rou is, plaas nog 5 min. aan elke kant op kole.

Sny op en sit dadelik voor.

Spinasie-en-feta-hoenderdytjies

Bestanddele

vars spinasie

feta met peper

ontbeende hoenderdytjies

olyfolie

vars suurlemoensap

Portugese speserye

hoenderspesery

Metode

Gooi kookwater oor spinasie en laat staan 5 min. Dreineer.

Vlek hoenderdytjie oop en vul met spinasie en feta in gelyke hoeveelhede. Nie te veel nie; net genoeg dat dytjie kan toevou.

Vou dytjie toe en steek vas met tandestokkies.

Gooi ’n bietjie Portugese speserye en hoenderspesery oor na smaak.

Plaas op matige kole, draai gereeld om en braai sowat 20 min.

Sprinkel met olyfolie en vars suurlemoen en sit dadelik voor.

Paptert

Bestanddele

750 ml mieliemeel

1,25 liter water

10 ml sout

3 Kassler-tjops

250 g spek

2 uie

250 ml room

500 g sampioene

4 koppies goudakaas, gerasper

2 t knoffel, fyngekap

botter vir braai

Metode

Vir die pap

Bring water en sout tot kookpunt in swartpot.

Gooi meel stadig in kokende water. Roer aanhoudend.

Sodra pap begin borrel, maak die deksel toe en verlaag hitte tot laag.

Roer elke 10 min. en verwyder van hitte ná 45 min.

Vir die sous

Sny Kassler-tjops en spek in klein stukkies.

Kap uie en sampioene op in stukkies.

Braai alles gelyk in pan met botter.

Voeg room by om sous dikker te maak.

Verwyder van hitte.

Vir die tert

Voorverhit die oond tot 100 °C.

Pak in vuurvaste bak lae: pap, sous en kaas.

Herhaal en eindig met kaas.

Plaas in oond vir ongeveer ’n halfuur.

Plaas onder rooster vir sowat 5 min. tot lekker bruin.

gerda en johan

Slaai vol verrassings

Bestanddele

250 g kropslaai

100 g roketblare

100 g vars koljander

1 Engelse komkommer

2 avokado’s

1 blikkie aspersies

1 pakkie olywe

1 blikkie heelpitmielies

1 blikkie keker-ertjies

4 hardgekookte eiers (nie blou nie)

500 g kersietamaties

1 groot ui

250 g fetakaas

Metode

Pak kropslaai, roketblare en koljander in ’n bak.

Sny komkommer in wieletjies en strooi bo-oor blare.

Gooi aspersies oor komkommer.

Gooi mielies en kekerertjies deurmekaar oor komkommer.

Sit uieringe bo-op komkommer.

Sit tamaties heel bo.

Maak slaai effens deurmekaar sodat kleure kan meng.

Krummel feta kaas bo-oor en gooi olywe bo-op.

Sny eiers in die helfte en rangskik bo-op slaai, afgewissel met skywe avokado.

Broodpoeding

Bestanddele

250 ml rosyne

250 ml donker rum

250 g botter

500 ml bruinsuiker

1 t kaneel

12 snye witbrood (hoef nie baie vars te wees nie)

4 eiers

1 x 400 ml-blik klappermelk

5 ml vanieljegeursel

roomys, gekapte amandels en framboos vir voorsit

Metode

Marineer rosyne oornag in rum.

Los botter buite sodat dit sag kan word; dit maak die volgende stap makliker.

Meng die sagte botter, suiker en kaneel in ’n bak en smeer elke snytjie brood mildelik tot teen die korsies.

Sny snytjies deur in driehoeke en pak in ysterpot, in geen spesifieke volgorde.

Strooi gemarineerde rosyne oor brood.

Klits eiers met vurk en gooi klappermelk en vanieljegeursel by.

Giet klappermelkmengsel bo-oor brood en laat staan ’n rukkie sodat melk in brood kan intrek.

Sit op matige kole en plaas ook kole bo-op die deksel.

Bak sowat 30 min. Die eier moet gaar word en die suiker moet smelt.

Die brood sal ’n bros lagie bo-op vorm.

Sit voor met roomys, gekapte amandels en framboos.

Gerhard en Amanda

Gerdhard en Amanda

Room-en-kaneelbolletjies

Bestanddele

1 pakkie suurdeeg

kaneel

suiker

1 houertjie room

roomys of vla vir voorsit

botter om die bak te smeer

Metode

Rol die suurdeeg uit.

Meng die kaneel en suiker en strooi oor die deeg.

Rol weer uit en besprinkel weer met kaneelsuiker.

Vou weer toe en begin balletjies vorm.

Smeer ’n swartpotjie met botter en pak die bolletjies daarin.

Strooi weer kaneelsuiker oor.

Gooi die houertjie room oor.

Bak in swartpotjie op stadige kole vir ’n halfuur.

Sit voor saam met roomys of vla.

Knoffelbrood

Franse brood

knoffelbotter

groen olywe, versnipper

sondroë tamaties, gekap

ui, fyngekap

kaas van jou keuse, gerasper

Metode

Maak snye in die Franse brood.

Vul die gapings met knoffelbotter.

Voeg groen olywe, sondroë tamaties en uie in die gapings.

Strooi gerasperde kaas bo-oor.

Maak toe in foelie en braai oor matige kole op die rooster.

Soetpatats met botter

Bestanddele

patats

botter

suiker

Metode

Sny die patats in die helfte.

Skep ’n teelepel botter op elk.

Strooi mildelik met suiker.

Draai toe in foelie en sit sowat 45 min. in die kole.

Gerhard Amanda

Geelstert

Sny kop af agter nek.

Vlek vis van rugkant af.

Haal ruggraat van vis uit.

As jy genoeg tyd het – strooi vis met growwe sout en laat lê 20 min.

Spoel vis skoon.

Sout en peper na smaak.

Plaas 1 min. met vleiskant na kole om te seël.

Draai vis om en laat lê met velkant na vuur.

Vis sal stadig van onder na bo van rooi na wit verkleur.

Wanneer amper deurwit, smeer met suurlemoen-en-bottermengsel.

Vir afwisseling kan knoffel bygevoeg word.

Sit voor van rooster op die borde.

Sit voor saam met ekstra suurlemoen, sout en peper op die tafel.

Suurlemoen-en-bottersous

3 e gesmelte botter

2 t gerasperde suurlemoenskil

2 t vars suurlemoensap

1 t gekapte vars pietersielie

Metode

Meng die botter, skil en sap. Roer die pietersielie in.