Resepte soos verskaf deur VIA

Marius en Alida se resepte

alida en marius

Welkomdrankie

Bestanddele

25 ml wodka?15 ml jenewer?15 ml Southern Comfort?suiwer lemoensap

’n spatsel grenadien

ysblokkies

Stappe

Vul ’n glashouer met ys.

Voeg die sterk drank by.

Vul met lemoensap en voeg ’n spatsel grenadien by.

Roer liggies net voor jy dit voorsit.

Ontbeende lamsrib

alida en marius sout

Bestanddele

1 ontbeende lamsrib

olyfolie

vars roosmaryntakkies

vars knoffelhuisies

speserye soos verlang

Stappe

Smeer die ontbeende lamsrib liggies met die olyfolie.

Druk gaatjies in met ’n mes en vul met vars roosmaryntakkies en stukkies gesnyde vars knoffel. Geur met die speserye.

Plaas regop in die braairooster langs ’n brandende vuur en draai soos nodig.

Verwyder ná ongeveer 45 min. en sny in peuselhappie-repies.

Sit warm voor.

Lamstjops

Bestanddele

lendetjops, 1 per gas

olyfolie

sout en fyn gemaalde peper na smaak

koljanderkorrels na smaak

Stappe

Smeer die tjops liggies met olyfolie.

Geur met die sout, fyn gemaalde peper en koljanderkorrels na smaak.

Braai oor matige kole tot gaar.

Sit warm voor.

Gevulde hoenderdye

Bestanddele

ontbeende hoenderdye, 1 per gas

fetakaas

pikantrissies (peppadews)

kersies, 1 per hoenderdy

netvet

soetrissiesous

heuning

Stappe

Vul die ontbeende hoenderdye met fetakaas, pikantrissies en 1 kersie elk.

Trek die netvet oor die dye.

Laat oornag in die soetrissiesous en ’n bietjie heuning in die koelkas marineer.

Braai oor matige kole tot gaar.

Sit warm voor.

Mielies in tinfoelie

Bestanddele

happiegrootte mielies

botter of margarien

Aromat

Stappe

Smeer die mielies met die botter of margarien en strooi Aromat oor na smaak.

Draai in tinfoelie toe en plaas ongeveer 20 min. bo-op die rooster oor matige kole.

Haal af en sit warm voor.

Groenslaai

Bestanddele

gemengde slaaiblare met roket

komkommer

kersietamaties

geel soetrissie

fetakaas

Stappe

Neem genoeg slaaiblare en sny die komkommer in kwarte en voeg by.

Voeg die kersietamaties heel of gehalveer by.

Sny die geel soetrissie in klein repies en voeg by.

Sny die fetakaas in klein blokkies en voeg by.

Meng die slaai deur.

Sny komkommerskywe en plaas aan die binnekant van die slaaibak se rant.

Krummel fetakaas in die middel en bêre in die koelkas tot dit voorgesit word.

Sit voor saam met slaaisous van jou keuse.

Tradisionele braaibroodjies

Bestanddele

gesnyde witbrood, 2 per gas

margarien of botter vir smeer

1 ui, in ringe gesny

2-3 tamaties, in skywe gesny

sout en vars gemaalde peper na smaak

cheddarkaas, gerasper

Stappe

Smeer die snye brood met die margarien of botter.

Pak die uieringe bo-op.

Sny die tamaties in dun skywe en plaas bo-op die uie.

Geur liggies na smaak met die sout en vars gemaalde peper.

Plaas die gerasperde kaas bo-oor.

Smeer die broodjies aan die buitekant met die margarien of botter.

Braai tot goudbruin oor matige kole.

Sit warm voor.

Tronkknoffelroom-aartappels

Bestanddele

1 pakkie baba-aartappels

7 ml knoffelsout

Sous

6 eetlepels margarien

5 eetlepels meelblom

1 houertjie vars room

melk, soos nodig

5 ml gedroogde pietersielie

Stappe

Kook die baba-aartappels in die skil in knoffelsoutwater tot sag.

Prik die aartappels sodat die sous goed kan intrek.

Dreineer en plaas in ’n bak.

Vir die sous

Stappe

Smelt die margarien in ’n swartpot oor matige kole en voeg die meelblom by.

Maak ’n roux (soos as jy ’n witsous maak).

Voeg die room stadig by en roer sodat geen klonte vorm nie.

Voeg die melk by soos nodig om die sous die regte dikte te kry. Die sous moet nie te dik wees nie. Voeg die pietersielie by.

Giet bo-oor die aartappels.

Meng goed deur en sit warm voor.

Bospoeding

alida en marius soet

Bestanddele

1 pakkie Tennis-beskuitjies

plaasbotter

1 blik tert-appels

1 blik kondensmelk

1 middelslag-pak geroosterde klappermalvalekkers

Stappe

Krummel 1 pakkie Tennis-beskuitjies en meng met regte plaasbotter om ’n kors te vorm.

Druk die mengsel onder in ’n swart gietysterpot en bêre in die koelkas tot dit kole toe gaan.

Plaas die pot oor matige kole en voeg 1 blik tert-appels by.

Giet 1 blik kondensmelk bo-oor en plaas 1 pak geroosterde klappermalvalekkers bo-op.

Plaas die pot se deksel op. Hou die kole matig.

As die klapperlekkers gesmelt is, verwyder van die kole en sit warm voor.

Sit voor saam met roomys.

Jaco en Marcelle se resepte

jaco en marcelle

Filet met kaas- en pepersous

Vir die filet

Bestanddele

1 goeie snit filet vir elke gas

olyfolie

koljander

1 knoffelhuisie, fyn gedruk

Worcestersous

sout en vars gemaalde swartpeper

Stappe

Meng die bestanddele vir die marinade en vryf goed in die vleis in.

Plaas die filette in ’n plastieksakkie en laat oornag in die koelkas om lekker te marineer.

Net voor jy braai, geur die vleis met die sout en vars gemaalde peper.

Braai soos verlang.

jaco en marcelle sout

Vir die pepersous

Bestanddele

meel soos benodig

2 eetlepels botter

1 houertjie room

swartpeperkorrels

½ knoffelhuisie

Stappe

Maak ’n witsous met meel, botter en room.

Kraak baie swartpeperkorrels in ’n stamper en vysel.

Voeg die peper en knoffel by die sous.

Vir die kaassous

Bestanddele

meel soos benodig

2 eetlepels botter

1 houertjie room

cheddarkaas soos verlang

’n bietjie peper

½ knoffelhuisie

Stappe

Maak ’n witsous met meel, botter en room.

Voeg baie gerasperde kaas by, asook ’n bietjie peper en knoffel.

Bosoond-mieliebrood met egte plaasbotter en vyekonfyt

Bestanddele

1 blik kondensmelk

250 g bruismeel

1 blikkie suikermielies

Stappe

Meng al die bestanddele en plaas in tinfoeliebakkies.

Bak in die bosoond vir 40 min. en jou brood is volmaak.

Sit voor saam met gesoute plaasbotter en vyekonfyt.

Aartappels in ’n jassie

Bestanddele

1 aartappel per gas

gesoute plaasbotter

Stappe

Draai die aartappels in tinfoelie toe en plaas langs die vuur in die kole terwyl jy kuier.

Wanneer die aartappels lekker sag is, verwyder van die kole.

Sny oop en sit egte, gesoute plaasbotter in net voor jy dit voorsit.

Mengelslaai

Bestanddele

tamaties

komkommer

blaarslaai

fetakaas

Stappe

Sny die tamaties en komkommer op.

Plaas die blaarslaai in ’n groot bak.

Voeg die tamaties en komkommer by.

Breek en strooi die kaas bo-oor.

Wafels met roomys en gemengde soetbessies

marcelle en jaco soetgereg

Bestanddele

1 pakkie winkelwafels

roomys van jou keuse (ons het Marcel’s-roomys gebruik)

vars bessies van jou keuse

Stappe

Maak die wafels warm volgens die aanwysings op die pakkie.

Sit elke wafel voor met ’n skep roomys en vars bessies bo-oor.

Deon en Jeanne se resepte

jeanne en deon

Gevulde filet

Bestanddele

1 goeie stuk filet per gas

vars roketblare

bloukaas

botter, gesmelt

knoffel, fyn gedruk

1 ui, fyn gekap

gemengde speserye

1 pakkie repiesspek om filette in toe te draai

Stappe

Meng die bestanddele vir die vulsel in ’n bak en maak seker alles is fyn gekap en vorm ’n pasta.

Sny die filette oop en plaas die vulsel binne-in.

Maak toe en draai in repiesspek toe.

Bind met ’n tou vas of steek met happiestokkies vas.

Braai op die kole soos verlang of tot die kaas gesmelt en die spek lekker krakerig is.

jeanne en deon soutgereg

Gevulde aartappels

Bestanddele

1 aartappel per gas

knoffel na smaak

vars origanum

sout en vars gemaalde peper na smaak

Stappe

Kook die aartappels in kookwater tot sag.

Sny ’n kruis in die plat kant en druk oop.

Vul met die knoffel en origanum en geur met die sout en vars gemaalde peper.

Plaas op die braai sodat die geure lekker intrek.

Eksotiese mengelslaai

Bestanddele

1 pakkie roketblare

vars pere, in skyfies gesny

ligte bloukaas

Stappe

Pak die roketblare op ’n mooi bord.

Rangskik die peerskyfies op die blare.

Strooi die bloukaas bo-oor.

Sit voor met balsemieke asyn.

Lietsjie-en-gemmer-pannekoek

jeanne en deon soet

Bestanddele

pannekoekdeeg, genoeg vir 6 mense

geblikte lietsjies sonder pitte (vars lietsjies was ongelukkig nie te kry nie)

pienk ingelegde gemmer (gekoop)

brandewyn

sjokolade van jou keuse

Stappe

Maak die pannekoekdeeg aan volgens die aanwysings en bak lekker dun pannekoeke.

Plaas die lietsjies en gemmer in ’n potjie op die vuur tot dit sag raak.

Voeg die brandewyn by en flambé oor die kole.

Kook ’n bietjie verder sodat die sous verminder.

Vul elke pannekoek met die sous en rol toe.

Rasper die sjokolade van jou keuse bo-oor.

Nog #KomOnsBraai-resepte

#KomOnsBraai: Dit roer en braai in Bellville vanaand!

#KomOnsBraai-resepte: ’n Groot gekuier in Vredenburg

#KomOnsBraai: Hoe nou gemaak, Hermanus?

#KomOnsBraai-resepte: Gordonsbaai, hier word nou gebraai!

#KomOnsBraai-resepte: Pollie, ons gaan Paarl toe!

#KomOnsBraai-resepte: Strandbraai in Saldanha