Dawid en Marietjie se resepte

Ribrol

ontbeende skaaprib

speserye van jou keuse

spek

kaas van jou keuse

marinade van jou keuse

Maak so

Geur die skaaprib met die speserye.

Pak die spek en kaas bo-op en rol toe.

Bind die vleis met tou toe.

Smeer die marinade oor en braai oor die kole.

Sebra-, eland- en blesbokfilet

sebrafilet

elandfilet

blesbokfilet

speserye van jou keuse

Maak so

Geur die filette met die speserye en braai oor warm kole tot so gaar soos verlang.

Aartappelsosaties

baba-aartappels

spek

kersies

sampioene

marinade van jou keuse

Maak so

Kook die aartappels tot gaar en laat afkoel.

Draai die spek om die aartappels.

Ryg telkens 2 aartappels, 3 kersies en 2 sampioene aan ’n sosatiestokkie.

Smeer met die marinade en braai tot die spek krakerig is.

Eiervrug

1 eiervrug, in skywe gesny

sout

20 ml melk

1 eier

100 ml meel

olie vir braai

Maak so

Week die eiervrugskywe sowat 30 min. in soutwater en spoel af.

Klits die melk en eier saam.

Rol die eiervrug in die meel en dan in die eiermengsel.

Gooi die olie in ’n pan en braai die eiervrug daarin oor die kole.

Paptert

3 k mieliemeel

spek, gekap

uie, gekap

sampioene, gekap

tamaties, gekap

1 blik mielies

kaas van jou keuse, gerasper

1 potjie room

biltongpoeier

Maak so

Berei die mieliepap volgens die aanwysings op die verpakking.

Braai die spek, uie, sampioene en tamaties tot ’n smoor vorm.

Skep ’n laag pap, dan ’n laag smoor en dan weer ’n laag pap in ’n vuurbestande bak.

Skep die mielies oor en sprinkel die kaas oor.

Gooi die room bo-oor.

Plaas 30-45 min. op die vuur tot die room deurgekook het en die kaas gesmelt is. Sprinkel die biltongpoeier oor.

Pannekoek met ’n kinkel

4 snye brood

Nutella

aarbeie, fyn gekap

1 blik appelskywe

1 eier

20 ml melk

olie vir braai

suiker

kaneel

1 blik room of styf geklopte room

Maak so

Sny die brood se korsies af en rol die brood met ’n koekroller uit.

Smeer die Nutella in middel van die sny en sit die aarbeie en/of appel op.

Rol die sny toe.

Meng die eier met die melk en doop die brood daarin.

Braai in vlak olie in ’n pan op die vuur tot bruin.

Meng die suiker en kaneel en rol die brood daarin.

Sit voor saam met die room.

Burger en Candice se resepte

Burgers

spek

200 g-biefkoekies, een per burger

vars broodrolletjies

blaarslaai

kaasskywe

2 groot tamaties, in skywe gesny

ui, gekap

sampioene, gekap

avokado, gesny

Maak so

Braai die spek in ’n pan tot so gaar en krakerig soos jy verkies.

Braai die biefkoekies oor die kole tot so gaar soos verlang.

Sny die broodrolletjies deur en sit die burger volgens jou smaak aanmekaar deur die blaarslaai, bief, kaas, tamatie, spek, ui, sampioene en avokado daarin te stapel.

Hoendersosaties

mielies

hoenderdye

hoenderspeserye

1 suurlemoen se sap en skil

groen soetrissie, in stukke gesny

Maak so

Kook die mielies in ’n pot water op die vuur tot sag.

Sny in ringe.

Vryf die hoenderdye met die hoenderspeserye en suurlemoensap.

Sprinkel die suurlemoenskil oor die hoender.

Laat staan ’n uur en braai dan tot halfgaar.

Ryg die hoender, mielieringe en soetrissie om die beurt aan sosatiestokkies en braai tot heeltemal gaar en goudbruin.

Griekse slaai

blaarslaai

kersietamaties

komkommer

sprietuie

Deense fetakaas

olywe

wortels, gerasper

Maak so

Kap al die bestanddele buiten die wortels en plaas dit saam in ’n slaaibak.

Garneer met die gerasperde wortels.

Sjokoladepoeding

100 g bruin sjokolade van jou keuse

125 g malvalekkers

1 blikkie koue ingedampte melk

Maak so

Smelt die sjokolade en malvalekkers in ’n pot met 100 ml ingedampte melk. Laat afkoel.

Klits die res van die ingedampte melk tot lig en donsig. Vou dit by die sjokolademengsel in.

Plaas vir 45 min. in die yskas.

Ederick en Ingrid se resepte

Rissie-gerookte hoendervlerkies

ongeveer 25-30 hoendervlerkies

habanero-marinadesous

bloukaas-mayonnaise

selderystokkies

Maak so

Laat lê die hoendervlerkies oornag in die marinade.

Plaas in ’n ketelbraaier en maak seker die hitte kom van die kant af. (Dit is ’n indirekte gaarmaakproses.)

Strooi ongeveer ½ k natgemaakte eikehoutsaagsels oor die kole en sit die braaier se deksel op.

Plaas ná 30 min. ½ k saagsels op die kole.

Los nog 30 min. Die vlerkies behoort nou gaar te wees.

Sit voor met die bloukaas-mayonnaise en selderystokkies.

Bloukaas-mayonnaise

1 eier

2 eiergele

1 e Dijon-mosterd

sap van 1 suurlemoen

½ k klapperolie

½ k olyfolie

1 e Griekse volroomjogurt

bloukaas

sout en peper

Maak so

Meng die eier, eiergele, mosterd en suurlemoensap in ’n voedselverwerker.

Smelt die klapperolie tot ’n vloeistof. Moet dit nie te warm maak nie.

Plaas die voedselverwerker op ’n hoë spoed en voeg die klapper- en olyfolie stadig by die eiermengsel.

Wanneer die mayonnaise geëmulsifiseer het, voeg die jogurt by.

Breek 1 blokkie bloukaas in die mengsel en geur met die sout en peper. Verwerk op stadige spoed tot gemeng.

Habanero-biefstuk

300 ml blatjang

150 ml sojasous

½ k bruinsuiker

50 ml habanero-sous

1 t cayennepeper

1 t knoffelpoeier

1 t fyn paprika

biefstuk van jou keuse

Maak so

Meng al die bestanddele vir die marinade en bedek die vleis deeglik daarmee. Hou ’n bietjie van die marinade eenkant.

Marineer die vleis oornag, indien moontlik.

Braai die vleis soos verlang oor matige tot warm kole.

Haal van die kole af en smeer die laaste bietjie marinade voor opdiening oor.

Swart sampioene

botter

knoffel

groot swart sampioene

Maak so

Meng die botter en knoffel in ’n voedselverwerker.

Skep die knoffelbotter op die sampioene.

Draai die sampioene in foelie toe en braai tot gaar.

Chinese spinasie-kool-gereg

1 ui

3-4 knoffelhuisies

botter of olyfolie vir braai

1 Chinese kool

3 pakkies gesnyde spinasie

1,5 L room

oestersous

sout en peper

Maak so

Kap die ui en knoffel en braai in die botter of olyfolie.

Sny die kool kleiner en voeg saam met die spinasie by die uiemengsel.

Stoom tot gaar.

Voeg die room by en meng deur.

Geur met die oestersous, sout en peper en roer deur.

Hou op lae hitte tot die room verdik.

Dronk-reisiger-perskes

vars perskes

sjokoladekoekies van jou keuse

wit muskadel

bruinsuiker

water

’n knippie sout

Maak so

Voorverhit die oond tot 150 °C.

Halveer en ontpit die perskes.

Week die koekies ongeveer 45 min. in die muskadel.

Maak ’n stroop van die bruinsuiker, nog muskadel en water.

Posjeer die perskes in die stroop tot net-net sag.

Haal die perskes uit die stroop en behou die stroop.

Pak die perskehalwes in ’n oondbak.

Plaas ’n geweekte koekie op elk.

Gooi die stroop oor die perskes en koekies.

Bedek met foelie en bak tot die koekies sag is.

Roomys

400 ml klapperroom

vanieljedoppe

suiker of versoeter van jou keuse

Maak so

Meng al die bestanddele.

Plaas in ’n bak in die vrieskas.

Roer vir 1 uur elke 15 min.

Los in die vrieskas tot hard.