Die geliefde klavierkoning Pedro Kruger se splinternuwe program waarin hy hulde bring aan ons land se grootste sangers, het pas op VIA begin.

In die eerste episode sing Pedro ’n duet saam met Anna Davel. Luister hier daarna:

Ons het ’n bietjie met Pedro gesels oor sy nuwe reeks.

Waaroor gaan dit?

Ons vier sangers se lewe en loopbaan met foto’s en musiek. Ons gesels, vertel stories en sing. Ek sit heeltyd by my Yamaha-klavier en so tussen die gesels deur, sing ons onthouliedjies, treffers, liedjies wat ons geïnspireer het en ook liedjies wat ons wens ons geskryf het.

Hoekom was dit vir jou belangrik om dié program aan te bied?

Dit was ’n jare lange droom om ’n geselsprogram te hê waarin musiek ’n groot rol speel. Dit is ook vir my belangrik om kunstenaars se lewe te vier terwyl hulle nog met ons is.

Was daar ’n kunstenaar of episode wat uitgestaan het?

Elkeen van die 13 episodes en gaste is vir my ’n hoogtepunt. Omdat elkeen so anders is as mens en sanger, bring elke episode sy eie betowering.

Wat was die grootste uitdaging?

Om net myself te wees, eerlik te wees en te luister én my gas die held te maak; dus nie soseer ’n uitdaging nie, maar meer ’n ideaal. Ek hoop ons het dit reggekry.

Wat het jy baie geniet?

Om so persoonlik met elkeen te gesels – diep te gesels, laf te gesels, lekker te sing. Dit was vir my so lekker dat dit gevoel het ons kuier eintlik by my huis om die klavier. En dan natuurlik dat al 13 gaste van die reeks so ongelooflik was. Hulle het my vertrou met hul stories en egoloos alles gegee. Wat ’n seëning vir enige onderhoudvoerder en program!

Wat is die beste lewensraad wat jy al gekry het?

Hou jou voete op die aarde en weet altyd waar jy vandaan kom. Respekteer elke liewe mens wie se pad joune kruis. En kies altyd om ’n situasie met vriendelikheid te benader.

Wat is die drie dinge wat jy hoop mense eendag oor jou sal sê?

Hy het almal met ewe veel respek behandel.

Hy het altyd die beste in mense gesien.

Hy was ’n goeie mens wat altyd sy alles gegee het.

Jy het grootgeword in ’n huis waar musiek altyd ’n plek gehad het. Watter raad het jy vir ouers as hulle ’n liefde vir musiek by hul kinders wil kweek?

Ondersteun hulle. Vat hulle om konserte te gaan kyk. Moedig hulle aan om les te neem. Moet nooit druk plaas as die liefde vir musiekmaak weggaan nie. Maak seker dis jou kind se droom en nie joune nie.

Wat is jou vyf geliefkoosde Afrikaanse liedjies?

Vyf is heeltemal te min, maar as ek vinnig moet dink: Karoonag - Coenie de Villiers, Sweef Soos ’n Arend - Mynie Grove, As Musiek Begin Speel - Karen Zoid, Sonneblom uit Betlehem - Lize Beekman, Thula - Lieze Stassen, Skipskop - David Kramer.

klavierkuiersmain

Skakel Vrydagaande om 20:00 in vir nuwe episodes van Klavierkuiers met Pedro. Net op VIA (DStv-kanaal 147).