Carmen Niehaus is so deel van die Suid-Afrikaanse koskultuur soos bobotie en malvapoeding.

Hier is die eerste drie deelnemers:

[post-slider]

Meer oor Cathy Jonas:

Watter gereg het jy op die program berei? En hoekom het jy daarop besluit?

Ek het melkkos gemaak, want dit is ’n heerlike resep en vinnig om te maak.

Watter kookboek gebruik jy die meeste?

Ek gebruik my ou betroubare Huisgenoot-resepteboek en resepte wat ek uit die Son knip.

Wat is jou spesialiteitsgereg?

Ek maak bobaaslamskerrie.

Wie het jou leer kos maak?

My ouma Katie.

Wat is die waardevolste kosmaakwenk wat jy nog ontvang het?

Proe altyd jou kos voor jy dit voorsit.

Watter drie bestanddele sal altyd in jou kombuiskas wees?

Meel, sout en uie.

In watter stersjef se kombuis sou jy graag ’n kookles wou hê?

Reuben Riffel.

Wat is daai een gereg wat jy nog wil baasraak?

Ek wil graag leer hoe om ’n lekker seekospot te maak.

Enige kosmaakgeheime wat jy met ons wil deel?

Ek gooi ’n paar eetlepels Robertson Jikelele-speserye by my kerrie. Dit maak enige kerrie ’n wenner!

Wat is die grootste flop wat jy al in die kombuis gemaak het?

Ek het vergeet om suurdeeg by my brooddeeg te gooi, toe kom dit plat en kluitjierig uit.

Vir wie kook jy die graagste?

Vir my man en kinders.

Ontmoet vir Ilse van der Merwe:

Watter gereg het jy op die program berei?

My ma, Erna Uys, se legendariese anysbeskuit.

Watter kookboek gebruik jy die meeste?

Die Franse kosbybel Larousse Gastronomique.

Wat is jou spesialiteitsgereg?

Ricotta gnudi (’n soort ravioli van kaas) met pommodoro-sous.

Wie het jou leer kos maak?

My ma, maar ek het ook geleer kook terwyl ek in my jonger dae by verskeie restaurante ’n kelnerin was.

Wat is die waardevolste kosmaakwenk wat jy nog ontvang het?

Wees geduldig wanneer jy uie, wortels en seldery braai voor jy ander bestanddele byvoeg om geurige bredies of souse te maak. Geduld is baiekeer die geheim vir lekker geur.

Watter drie bestanddele sal altyd in jou kombuiskas wees?

Geblikte Italiaanse heel tamaties, goeie olyfolie en Maldon-soutvlokkies.

Jou kombuis brand af en jy kan een resepteboek red. Watter een is dit, en hoekom?

My handgeskrewe resepteboek wat ek gemaak het toe ek op laerskool was.

In watter stersjef se kombuis sou jy graag ’n kookles wou ontvang?

Ina Garten, wat bekend vir die program Barefoot Contessa.

Wat is daai een gereg wat jy nog wil baasraak?

Perfekte makrolletjies.

Enige kosmaakgeheime wat jy met ons wil deel?

Keer altyd terug na die eenvoudigste dinge wanneer jy vir vriende kos maak. Vars gebakte brood en goeie botter maak almal gelukkig.

Wat is die grootste flop wat jy nog in die kombuis gemaak het?

Ek het eenkeer voor mense ’n tarte tatin omgekeer op ’n bord wat nie styf genoeg oor die pan gepas het nie. ’n Klomp van die vuurwarm karamelsous het op my borskas gemors. Ek sal die littekens vir altyd moet dra!

Vir wie maak jy die graagste kos?

My man, Schalk, is my beste kosmaat. Hy is mal oor nuwe dinge ontdek en is ’n gewillige proefkonyn vir my toetsresepte.

En die haan onder die henne, Rudolph Shepherd:

Watter gereg het jy op die program berei?

’n Ou familiegunsteling: kerrielamtjoppies.

Wat is jou spesialiteitsgereg?

Ek maak ’n killer lasagne. Die bolognaise moet baie lank kook, tot die vleis afbreek en die heerlikste tamatievleissous oorbly. Soms wanneer ek vermakerig voel, maak ek ook my eie pasta.

Wie het jou leer kos maak?

Ek dink nie ek is ooit geleer kos maak nie. Ek het op ’n trail-and-error-grondslag geleer. Ek het grootgeword in ’n huis waar kos baie belangrik is. Ek dink dit was meer ’n proses as ’n gebeurtenis.

Wat is die waardevolste kosmaakwenk wat jy nog ontvang het?

Iets wat ek op Nigella Lawson se program gesien het: koop altyd groenboontjies wat in ’n plastieksak verpak is. Skud die bone liggies tot hulle horisontaal in die sak lê, en sny dan met ’n skerp mes die bo- en onderkant van die sak af. Sodoende top en tail jy die boontjies binne drie sekondes.

Watter drie bestanddele sal altyd in jou kombuiskas wees?

Korrelmosterd, balsemieke asyn en knoffel.

Jou kombuis brand af en jy kan een resepteboek red. Watter een is dit, en hoekom?

My ouma Rieta se Kook en Geniet. Ek is mal oor die vuil, bruin bladsye, watermerke en merke van ure se gebruik.

In watter stersjef se kombuis sou jy graag ’n kookles wou ontvang?

Gordon Ramsay.

Wat is daai een gereg wat jy nog wil baasraak?

Ek is nie ’n baasbakker nie, maar het al my hand aan makrolletjies gewaag omdat dit een van my gunsteling-soethappies is. Dit was nie ’n sukses nie. Selfs die sesde keer.

Enige kosmaakgeheime wat jy met ons wil deel?

As jy nie lus is om kos te maak nie, bestel ’n wegneemete. Jy gaan baie bestanddele, moeite en tyd spaar. As jou houding nie reg is nie, gaan jou kos nie lekker wees nie.

Wat is die grootste flop wat jy nog in die kombuis gemaak het?

Ek het eenmaal probeer anysbeskuit bak. Ek het gedink lou water sal nie die gis sal laat rys nie en dit toe ’n bietjie warmer gemaak. Ek was verkeerd. Die resultaat was handgranate!

Vir wie maak jy die graagste kos?

Omdat my kinders sulke puntenerige eters is, is dit vir my altyd lekker wanneer die sterre en planete saamspan en my help om ’n gereg te maak waarvan albei hou.

’n Nuwe episode van Jy Het ’n Wenresep! word elke Woensdag om 16:00 op VIA uitgesaai.